wat daai kopseer dalk vir jou sê

Transcription

wat daai kopseer dalk vir jou sê
2|Leefstyl
Woensdag 4.8.2010
FOTO: IMAGE SOURCE
Resep van die week
Dié resep is ’n effense aanpassing
van een uit Jamie Oliver se boek
Jamie’s Dinners. Dis maklik, heerlik
en gerieflik, want jy maak hoender
en groente in een bak gaar.
MARYLAND-HOENDER
Genoeg vir vier mense
4 hoenderborsfilette, of
4 hoenderborsies, vel verwyder
4 mielies, of
2­3 blikkies (400 g) heel mieliepitte
in soutwater, gedreineer
1 blikkie (400 g) cannellini­ of
botterbone, gedreineer
sout en vars gemaalde swartpeper
1 glas witwyn (sowat 150 ml)
250 ml dik room
50 g botter
12 stukke gerookte strepiespek of
pancetta
’n handvol vars mentblare
) Voorverhit die oond tot 220 °C.
) Neem ’n oondbak wat groot
genoeg is dat die hoenderstukke
knus langs mekaar daarin pas.
) As jy vars mielies gebruik, stroop
die pitte met ’n skerp mes van die
stronke en plaas in die bak, of
maak bloot die blikkies daarin leeg.
) Maak die helfte van die cannelli­
ni­ of botterbone met ’n vurk of jou
vingers fyn. Voeg dié pulp en die
res van die botterbone by die
FOTO UIT JAMIE’S DINNERS
DEUR JAMIE OLIVER
mielies.
) Gooi die wyn en room by en
meng liggies deur. Stip die botter
daaroor.
) Geur die hoenderstukke met
sout en peper. Plaas dit op die
mielies en bone.
) Drapeer die spek bo­oor die
hoenderstukke.
) Bak in die oond vir sowat 35 tot
40 minute totdat die spek bros en
die hoender deurgaar is. Proe en
geur verder indien nodig.
) Jy kan die bak sommer net so
tafel toe neem. Net voordat jy dit
voorsit, strooi ’n paar mentblare
bo­oor.
Wat gebeur?
) 1 tot 7 Augustus is wêreldborsvoedingsweek. Lees op bl. 5 meer en
besoek www.worldbreastfeedingweek.org.
) Vanaf 2 tot 6 Augustus word rumatiekkoorsweek gehou. Die hart­en­
beroerte­stigting van Suid­Afrika wil gedurende dié week ouers en
sorggewers oplei oor rumatiekkoors en hoe dit tot rumatiese hartsiekte
kan lei. Kinders so jonk as vyf jaar oud kan rumatiekkoors kry as hulle ’n
keelinfeksie gehad het weens ’n bakterie genaamd streptokokkus (soge­
naamde “strep throat”) en dit nie behandel is nie, sê die organisasie.
Herhaalde gevalle van rumatiekkoors kan lei tot rumatiese hartsiekte.
Kinders wat ’n seer keel het maar geen hoes, loopneus of ander verkoue­
of griepsimptome nie, moet dokter toe geneem word, want hulle het dalk
streptokokkus. Vir meer inligting, besoek www.heartfoundation.co.za of
skakel 0 021 403 6450.
) 2 tot 7 Augustus is die departement van wetenskap en tegnologie se
nasionale wetenskapweek, ’n week waarin die wetenskap landwyd gevier
word. Besoek www.saasta.ac.za vir meer inligting oor aktiwiteite of bel die
wetenskapweek­projekbestuurder, Jabu Nukeri, by 0 012 392 9335.
) Maandag word Vrouedag landwyd gevier.
Sê jou sê
Stuur vir ons jou kommentaar. SMS jou mening na 0 41748. Begin jou
SMS met die woord Leefstyl. ’n SMS kos R1,50.
Pak groen in
Het Woolworths se mooi,
kleurryke, herbruikbare
inkopiesakke al jou
oog gevang?
Dié sakke het nie
net die eerbare doel
om die hoeveelheid
plastieksakke te
verminder nie, maar
help ook ’n klein,
Kaapse swartbemagti­
gingsmaatskappy,
Isikhwama, om te
floreer.
Isikhwama is in 2004 begin om
sakke vir Woolworths te maak en
werk te verskaf aan van die mense
wat hul werk verloor het toe baie
Kaapstadse klerefabrieke hul deure
gesluit het. Hy het ongeskoolde en
semi­geskoolde werkers in diens
wat voorheen werkloos was.
Daar is vandag sowat 80 mense
in diens en hulle maak
tussen 20 000 en 30 000
sakke elke week. Twee
vroue wat vervaardi­
gingstoesighouers
daar is, besit 25% van
die maatskappy.
Die sakke dien ook
om mense meer bewus
te maak van van
Woolworths se Good
Business Journey­inisia­
tiewe, waarmee dié
winkelgroep beoog om
die mensdom en planeet te
help.
’n Nuwe toevoeging is onder
meer die helderblou­en­groen sak
wat onderskeidelik Woolworths se
volhoubare­seekos­inisiatief en
Sassi (die Wêreldnatuurlewefonds
se program vir volhoubare seekos)
bevorder.
5 dinge
wat daai kopseer dalk vir jou sê
1
JY’S GEDEHIDREER
Meer as 75% van die
menslike brein bestaan uit
water. Wanneer die brein agterkom die watervoorraad raak min
begin dit histamiene vervaardig.
Dis in beginsel ’n proses van waterrantsoenering en -bewaring om
die brein te beskerm ingeval die
waterskaarste voortduur. Die histamiene veroorsaak pyn en moegheid, met ander woorde ’n kopseer
en die gebrek aan energie wat
daarmee gepaardgaan.
Dr. Elliot Shevel, Suid-Afrika se
pionier in migraine-chirurgie,
verduidelik: “Een van die basiese
feite van ons liggame wat dikwels
vergeet word, is dat pyn ’n funksie
het. Pyn is die liggaam se manier
om vir ons te sê iets is verkeerd.
“As ons gedehidreer raak en dan
pynmedikasie of antihistamien
neem, doen ons iets oor die pyn,
maar nie die onderliggende rede
daarvoor nie. Ons sê eintlik net vir
die liggaam om stil te bly.”
Volgens Shevel is dit noodsaaklik, veral vir hoofpynlyers, om
goed gehidreer te bly.
As jy nie gereeld baie water
drink nie, probeer volgende keer
as jy ’n hoofpyn het om ’n oomblik
stil te raak en kyk of jy kan agterkom wat jou liggaam vir jou probeer sê – dalk dat jy ’n paar glase
water nodig het.
2
JY HET SINUSITIS
Sinusse is holtes in jou
skedel wat openinge het in
die neus. Inflammasie en pyn in
die sinusse, wat onder meer deur
verkoue en allergieë veroorsaak
kan word, word gewoonlik sinusitis genoem.
’n Hoofpyn weens sinusitis gaan
dikwels gepaard met pyn en druk
om die neus en wange en jy kan
dalk agterkom dit word erger ná
vinnige bewegings. Lug, etter en
slym wat in die sinusse vassit, veroorsaak die pyn.
As jy weens infeksie ’n sinushoofpyn en -inflammasie het, is
die beste manier om daarvan ontslae te raak met antibiotika, sê
Shevel.
Maar pyn in daardie plekke is
nie noodwendig ’n sinushoofpyn
nie. Jou dokter sal ’n X-straalfoto
moet neem om te sien of die pyn
aan ’n infeksie toe te skryf is voordat hy antibiotika voorskryf.
Ontstumiddels, wat gedrink of
in die neus gespuit word, word oor
die algemeen aanbeveel om inflammasie en ander sinussimp-
Die meeste mense sluk
vinnig ’n pil wanneer
hulle ’n kopseer het.
Maar dan behandel jy
net die simptoom en nie
die oorsaak nie.
MARZANNE VAN DEN
BERG het by dr. Elliot
Shevel van The Headache
Clinic uitgevind watter
boodskap daardie hoof­
pyn vir jou kan stuur.
tome te behandel.
Shevel voeg by: “Hoewel die sinusse ’n rol kan speel in hoofpyn,
is dit nie naastenby so algemeen
soos wat mense dink nie. Navorsing deur hoofpynklinieke wêreldwyd wys dat ‘sinushoofpyn’
die algemeenste verkeerde diagnose is.
“As die pyn in die sinusomgewing is of die pasiënt het ’n postnasale drup of toe neus wanneer
die hoofpyn toeslaan, beteken dit
nie noodwendig die sinusse is die
rede vir die pyn nie.
“Trouens, as die onderliggende
oorsaak van die hoofpyn behandel
word, klaar die sinusprobleem
dikwels op.”
3
JY OOREIS JOU OË
As jy hoofpyn kry wanneer jy lees, televisie kyk of
aaneen op die rekenaar werk, is
dit moontlik te wyte aan ooreising
van jou oë.
So ’n kopseer ontstaan weens
ongemak as jou oë moeg word nadat jy ’n taak ’n lang tyd aaneen
gedoen het.
Maar jy kan iets daaromtrent
doen.
As jy op ’n rekenaar werk, is dit
in die belang van jou sig noodsaaklik om minstens elke uur minstens
twee minute te rus. Maak jou oë
toe en ontspan.
Die plasing van jou rekenaarskerm is ook belangrik. Die ideaal
is dat jou oë gelyk moet wees met
’n denkbeeldige lyn wat oor die
skerm loop, sewe tot agt sentimeter onder die bokant van die
skerm.
As jy ’n boek lees, rus elke halfuur so ’n bietjie. Maak die boek toe
en kyk in die verte na die lug of
tuin.
Besoek die webwerf www.
headacheclinic.co.za om gratis ’n
illustrasie af te laai wat die ideale
postuur agter jou rekenaar wys.
Kliek op “Free Assistance”.
4
JY SLAAP NIE GENOEG NIE
Hoofpyn weens ’n gebrek
aan slaap is nie so ’n snydende pyn soos migraine nie. Dis eerder ’n dowwe, swaar pyn wat jou
kop swaarder laat voel as wat dit
is. Jy kan daarmee wakker word of
dit kan ’n paar uur later in die dag
ontstaan.
Dit kan dikwels vermy word
deur jou kop te gebruik: As jy heelnag uit is en dan klas of werk toe
gaan met net ’n uur se slaap, vra jy
vir ’n hoofpyn.
Jy het sewe tot agt uur slaap per
nag nodig en meer as jy nog groei,
siek is of herstel van ’n siekte.
As jy nie genoeg slaap nie, moet
jy vasstel hoekom nie en dit verander. As gedragsaanpassings nie
help nie, moet jy ’n dokter spreek.
Jou slaapkamer moet so donker
en koel as moontlik wees. Probeer
om jou bed byna net vir slaap te gebruik. Moenie in die bed lê en lees
nie. Só leer jy jou liggaam om te
slaap wanneer dit die bed tref.
5
JY HET MIGRAINE
Migraine kan kom van
een of meer van drie strukture: die are wat die kop en kopvel
van bloed voorsien (nie in die
brein nie); die spiere van die kop,
nek en kakebeen; en die senuwees
wat hierdie plekke bedien.
By migraine ontstaan die meeste van die pyn in die are van die
kopvel wat die onderliggende spiere van bloed voorsien. Wanneer
die spiere gespanne raak, kan die
are pynlik word. Migraine kan
dikwels voorkom word deur die
spierspanning te verlig wat die
aarpyn veroorsaak.
Migraine-chirurgie kan gedoen
word nadat ’n pasiënt ondersoek is
om vas te stel of die spiere en are
’n rol speel in sy migraines. ’n
Pasiënt word in ’n dagkliniek opgeneem vir die prosedure, waartydens die kopvelare wat as die
kernoorsaak van migrainepyn
uitgewys is, gekouteriseer word of
die proteïne in die spiere wat die
pynseine uitstuur, geneutraliseer
word.
’n Postuuraanpassingtoestel,
wat gebruik word om gevoeligheid en disfunksie van die kop-,
gesig- en nekspiere te behandel,
kan ook doeltreffend wees om migraine te voorkom.
) The Headache Clinic het takke in Johannesburg, Kaapstad en
Durban.
Skakel 0 0861 678 911 of besoek
www.headacheclinic.co.za.