Woorde vol emosie, insig, trane en hoop deur Carike

Transcription

Woorde vol emosie, insig, trane en hoop deur Carike
Woorde vol emosie,
insig, trane en hoop
deur
Carike Keuzenkamp, Susan Coetzer,
Sorina Erasmus, Amy Kleinhans
en ander
carpediem
M E D I A
jou inspirasie uitgewer
Liewe jy...
uitgegee deur Carpe Diem Media
© 2014 Carpe Diem Media
Eerste uitgawe, eerste druk 2014
ISBN 978-1-43220-368-9 PDF ISBN 978-1-43220-369-6 ePub ISBN 978-1-43220-370-2 Setwerk • Zelda Botha
Samesteller • Elmarie van Niekerk
Teksredigeerder • Cindé Greyling
Proefleser • Leana Cronjé
Omslagontwerp • Zelda Botha
Fotograwe • Francois Booyens, Aubrey Jonsson, Kelvin Saunders
Shaun Smith, Leana Clunies-Ross, Eric Uys, Kiekie Photography
Tereza Cervinkova, Candice Askham, Simon Barnes, Clinton Lubbe
Gedruk en gebind deur Paarl Media Paarl
© Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie boek
mag gereproduseer word in enige vorm of op enige manier
sonder die skriftelike toestemming van die uitgewer nie.
KONTAKBESONDERHEDE
Carpe Diem Media
Posbus 5801 Vanderbijlpark 1900
Tel • (016) 982 3617 Faks • (016) 982 3618
E-pos • [email protected]
Inhoud
Amalia Uys
Amor Vittone
7
11
Amy Kleinhans
15
Anel Alexander
19
Angelique Gerber
23
Anna-Mart van der Merwe
Bertha du Plessis
27
31
Brümilda van Rensburg
35
Carike Keuzenkamp
Chanelle de Jager
39
43
Christi Panagio
47
Desiré Gardner
51
Donnalee Roberts
55
Dunay Darren
59
Elizma Theron
63
Elma Postma
67
Helené Bester
71
Ilse Roos
75
Jacinda Louw-Schutte
79
Jana du Plessis
83
Karen Botha
87
Lika Berning
91
Lotie Koen
95
Magda van Biljon
99
Mandi Baard
103
Margit Meyer-Rödenbeck
107
Mariana van der Westhuizen
Michelle Beling
Nádine
115
119
Natasha Sutherland
Nianell
111
123
127
Patricia Lewis
131
Sandi Schultz
135
Sarah-Kate Scott
139
Sorina Erasmus
143
Susan Coetzer
147
Tammy-Anne Fortuin
Vicky Davis
151
155
In hierdie bundel vol emosie en
inspirasie, huil en lag, is ál die
woorde wat jy nodig het!
Liewe jy ... is ’n versameling
lewenslesse deur bekende vroue
vanuit hulle eie ervarings.
Venessa S-choeman
Handelsmerkdirekteur
Finesse
carpediem
M E D I A
jou inspirasie uitgewer
Word deel van ons
gemeenskap
@
Stuur ’n e-pos
Vir enige navrae oor ons boeke, stuur ’n e-pos
aan [email protected].
Kliek aanlyn
Hier gebeur groot boek-dinge, kompetisies
en nuutste bekendstellings. Word nou deel van
leesfeesvirjougees.co.za.
Koop aanlyn
Voelgoedwinkel.co.za is die plek waar jy
nou ’n draai moet gaan maak vir topverkoperboeke teen afslagpryse, sonder al die lang rye!
“Like” ons
Vir geselsies met skrywers, gratis uittreksels en
om lekker boeke te wen, kom gesels saam op
facebook.com/Leesfees-Vir-Jou-Gees.
Lees digitaal
Ons boeke is ook as e-boeke in ePub- en PDFformaat beskikbaar vir jou om enige tyd, enige
plek te lees. Kliek op e-boeke.co.za.
Amalia Uys
Om in jouself te kan glo moet
jy mooi weet wie jy is, waar jy
vandaan kom en waarheen
jy nou eintlik op pad is.
7
Liewe jy...
Glo in jouself – so kry jy vlerke
Glo in jouself – hoe die lewe jou ook al rondgooi. Hou by jou opinies.
Dan gooi mense jou nie van koers af nie. As jy struikel of val, kan jy jou
dadelik afstof, opstaan en aangaan. Jou lewe is vol uitroeptekens – en sonder
vraagtekens.
Om in jouself te kan glo moet jy mooi weet wie jy is, waar jy vandaan kom
en waarheen jy nou eintlik op pad is. Onthou ook, dis onmoontlik om almal
tevrede te stel. Moenie eens probeer nie.
So ’n ingesteldheid teenoor die lewe gaan jou natuurlik nie die gewildste
meisie maak nie. Maar moenie dat dit jou afsit nie. Volg net jou eie ster. Dan is
jy ’n gebore wenner. Maak dit sommer vroeg al jou leuse. Loop net lig. Jy kan
nogal erg geboelie word as jy by jou standpunt bly. En dis g’n grap nie.
Genade, op so ’n pad kan mense dorings, selfs geroeste spykers, eerder as
rose oor jou pad strooi. Weet net, jy sal sterker anderkant uitkom.
Dit klink dalk vreemd, maar jy sal die pyn in sulke Kwaaitjie Kabouters se
oë sien ... hulle wil jou saam met hulle aftrek. Hulle het self seer; daarom wil
hulle jóú seermaak. As grootmens sal jy ook met sulke gifappels te doen kry.
Sommer deur jou hele lewe!
Die beste medisyne is deernis en ’n daaglikse dosis vriendelikheid. Of dit
nou gou-gou, netnou of anderdag gebeur ... dit het wel ’n positiewe invloed en
8
laat dinge vir jou, én hulle, goed uitwerk. Nog beter, dit bou karakter en maak
jou sterk en slim vir die lewe se slaggate en slagysters.
’n Ander ding wat ek jou kan vertel: Vergeet van voor op die wa wees.
Bly nederig en sorg dat roem nie in jou hare koek nie. Arrogansie is uit. Sê
hard en duidelik NEE daarvoor. Al bereik jy watter hoogtes in jou lewe. Tog,
jy kan ook nie jou siel verkoop en almal probeer tevrede stel nie. Daar is ’n
fyn skeidslyn tussen ’n diva en ’n vrou wat seker is van haarself en doelgerig,
treetjie vir treetjie, haar ideale uitleef en dit selfs ’n stappie verder vat.
Moenie bang wees om daardie etiket van “ek glo in myself; ek weet
waarheen ek op pad is” om jou nek te hang nie. Wees trots daarop. Dis meer
werd as enige ontwerpersetiket op een van jou mooiste rokke. Weet wat jy in
die lewe wil hê, en streef dit na. Maar moenie op mense trap of wilde tantrums
gooi om daar uit te kom nie. Ken jou hart – dis wat saak maak.
Kry daardie balans tussen glans en roem teenoor harde werk, met jou voete
vas op die aarde. Natuurlik, stres eis sy tol as ’n klomp kreatiewe geeste saam
onder druk werk. Dinge kan nogal rof gaan, maar wat! Gee jou daaraan oor;
geniet dit hart, siel en lyf. As jy doen wat jy graag wil, kan jy alles gee en selfs
nog meer hanteer.
Maak maar ’n grappie hier en daar. Dis ’n wonderlike weerligafleier as
dinge dol gaan. Klits ’n goeie skoot nederigheid by ’n koppie selfdissipline,
’n titsel pret en sommer baie harde werk. Jy sal sien. Jy kry g’n beter resep om
die balans tussen werk en pret te vervolmaak nie.
Sorg net eerstens dat jy geniet wat jy doen; jouself hart en siel daarin
uitleef. Dan sal jy die stres maklik hanteer. Wat jy ook al doen, glansryk of nie,
dis bowenal ’n werk ... Bly professioneel, hanteer kritiek opbouend en werk
aan jou foute. Vat op rowwe dae als met ’n knippie sout. ’n Klomp kunstenaars
bymekaar kan ’n flambojante spulletjie raak.
9
Laat ek jou vertel, die glamour-aspek van die vermaaklikheidsbedryf is
nogal ’n turksvy! So, moenie jou tande daarop afbyt nie. Glimlag, en gaan
aan. Dit skommel beslis die pak kaarte van jou lewe anderster ... Mense weet
skielik wie jy is, wil jou handtekening hê en sien op na jou karakter. Hulle stel
ander, hoër eise.
Die rooitapytbederf kom dikwels jou kant toe. Moenie dat dit na jou kop
toe gaan nie. Bly getrou aan jouself. Jy doen ’n werk en wil dit goed doen.
Geniet die glans, maar moet dit nie jou passie maak nie. Daardie glamour
is papierdun en hou nie vir ewig nie. Om genot te vind en skeppend te wees
binne jou werk is belangriker. Daar is hope ware glans daarin! Die glanswêreld kan jou op die hande dra ... maar probeer ook van jou kant
af om dié wêreld goed te behandel. Dis ’n kwessie van gee en neem. Maak
iets positiefs daarvan as jy deur jou werk ’n openbare figuur is. Sien dit as ’n
lekker uitdaging.
Maak altyd tyd vir iemand wat jou met ’n vriendelike glimlag groet en sê
hy of sy waardeer jou werk. Dit hang ook maar van jou mood af. Soms voel
jy meer spontaan en geduldig as ander kere. Moet tog net nooit ongeskik wees
nie – al voel jy die dag nie lekker nie of stap met kroes hare en ’n natgeswete
lyf uit die gym.
Laaste, maar nie die minste nie ... ’n Gemaksone spel gevaar. Snuffel
altyd rond vir nog uitdagings en geleenthede. En bly in jou hart net dieselfde
jy – of die lewe nou glimlag en knipoog, of frons en tande wys. Sorg dat jy
sommer elke jaar ’n beter weergawe van jouself is! Dan is jou lewensalbum
vol pragtige kiekies.
10
Amor Vittone
Dit is moeilik as jy op ’n slegte
plek is. Maar gun jouself tyd.
Huil wanneer jy wil; lag
sonder om skuldig te voel.
11
Liewe jy...
Bly droom, al skok die lewe jou
Dis erg genoeg as jy die grootste krisis in jou lewe moet afweer. Maar as almal
jou nog met valkoë dophou om te kyk met watter skuiwe jy uit skaak probeer
kom ... Wel, dis iets wat jy nie jou grootste vyand toewens nie.
Dis hoe die storie gebreek het: Tien minute nadat die balju voor die deur
stilhou, bel ’n dagblad oor die egskeiding. ’n Week ná die skokvideo van Joost
en ’n ontkleedanseres op die lappe kom, hoor jy jou seun, ’n skrale ses jaar, is
gehoorgestremd. Jordan het 80% gehoor in sy een oor en 70% in die ander oor
verloor. En dag ná dag lees Suid-Afrika van die skandaal teen lamppale op pad
werk toe.
Toe die video “breek”, het ek die hele dag lank gehuil. Maar die dag toe my
man sê hy dink dit is hy, het dit gevoel asof iets in my doodgaan. Aanvanklik
was dit bitter moeilik om beter te voel. Elke keer wanneer die media bel oor
nóg iets uit jou persoonlike lewe, pyn dit van voor af.
Agterna wonder jy: Is daar darem een klein ietsie wat al die seer die moeite
werd maak? Wat leer jy daaruit? Die eerste ding is dat jy nie haat en woede
in jou kan ronddra nie. Dit maak van jou ’n lelike mens. Die beste manier om
terug te bons, is om mense met goedheid te versmoor! Maar dis moeilik. Jou
eie terugslae kan jy nog op ’n manier verwerk en hanteer. Maar Jordan.
Om nie net op ’n hopie te gaan sit nie, is eintlik maar ’n keuse. Jy moet
12
dit elke dag kies, soms ’n paar keer per dag. Daar was sulke oomblikke, as ek
terugblaai in my onthou-album ...
Soos die dag toe ons advokatekamers toe is. Om te skei is nooit deel van
jou planne nie; daarom was dit so vrek moeilik om daarop voorbereid te wees.
Die vorige nag kon ek glad nie slaap nie en het dáár seker drie keer fisiek
só siek geword dat ek badkamer toe moes gaan. Drie dae later het ek steeds
maaggriep gehad.
En toe ons van Jordan se gehoorgestremdheid uitvind, het ek myself vir ’n
wyle verloor. Letterlik inmekaargesak. Hoekom dit óók? Ek wou by my ma
weet of daar dan nie ’n God is nie. “Amor, gaan slaap. Jy is moeg,” is al wat sy
gesê het. En soms is dit net mooi wat jy moet doen. Slaap. Rus. Vergeet – al is
dit in jou drome.
Gewoonlik takel stres heel eerste my keel en my vrouedele. Ek kry
blaasinfeksie. Wanneer dinge te veel raak, kry ek pyn daar waar my eierstokke
sit. Ek voel sommer onderstebo en my hormoonsiklus raak deurmekaar. My
keel word seer, asof iemand my wurg. En ek moet genoeg slaap. Anders is ek
’n geïrriteerde ma en onaangename mens.
’n Sielkundige ... dis nie vir my nie. Ek hou nie van die idee om jou
lewensverhaal aan ’n vreemdeling oor te vertel nie. Maar ek het twee
hartsvriendinne met wie jy alles deel. Hulle help my kop bo water hou.
Ek het ook begin journal ... En raai, dit werk! Ek skryf alles neer oor my
woede en vrese. En dan het ek ’n dankbaarheidslysie daarby. Aanvanklik moes
ek sukkel om dinge te kry waarvoor ek kon dankie sê. Soms het ek net op die
mat gelê en huil. Daar was kere dat ek vlugtig gedink het ek moet miskien met
my kar by die brug afry. Natuurlik is daar sulke tye.
Maar dan dink ek aan my kinders, en besef dat ek my eenvoudig uit hierdie
donker gat uit moet praat. Jou houding en manier waarop jy die lewe benader,
13
maak die groot verskil. Dit is moeilik as jy op ’n slegte plek is. Maar gun
jouself tyd. Huil wanneer jy wil; lag sonder om skuldig te voel. Dit help nie
om jou emosies te ignoreer nie.
Waar is ek nou? Ek glo daar sal vir my voorsien word. Soms raak ek
paniekerig, maar dinge werk tog uit. Sowat 99% van my drome waarvoor ek
gebid het, het waar geword.
Een aand, terwyl Kylie aan die slaap raak, het sy vir my gesê: “As ek groot
is, wil ek soos jy wees.” My baby, Mamma het al soveel foute gemaak, dink
ek toe. As ek maar kon keer dat jy dieselfde goed doen, maar ek kan nie ... jy
moet jou eie paadjie loop. Daar sal ook kêrels wees wat jou hart gaan breek.
Moeilike besluite wat jy moet neem. Foute wat jy moet maak. Ek wens ek kon
jou dit spaar.
Nou, ná alles, weet ek daar is iets nuuts binne my. ’n Deel van die ou Amor
is terug. Ek het geduld aangeleer, asook hoe om ’n balans te vind tussen wie
ek as werkende vrou en ma is. Ja, daar was groeipyne, maar ek het nie ’n bitter
smaak in my mond nie.
Ek dink al minder oor gister, meer oor vandag en voel opgewonde oor
môre. Ek herdefinieer myself. Ek wil hoog vlieg, en as ek my vlerke verbrand,
is dit oukei. Ek is ’n waterbaba. Enigiets wat uit die see uit kom, is vir my
kosbaar. Die manier waarop die see dinge slyp, is vir my so mooi. Dalk omdat
ek ook geslyp is ...
En bly glo. Dis al waarom daardie supervolt-lading op die ou end nie my
siel kon doodskok nie. My geloof in geluk, en dat daar nog baie daarvan wag.
14
Amy Kleinhans
Jy hoef nie te wag dat die lewe
met jóú moet gebeur nie – sorg
dat jý met die lewe gebeur. Spring
aan die werk en verander dinge.
15
Liewe jy...
Maak ’n verskil met jou talente
Om hoop en inspirasie te gee aan almal wat dink ’n beter toekoms is buite
hulle bereik ... Dis waarom ek destyds vir die Mej. Suid-Afrika-wedstryd
ingeskryf het. En vandag, ’n paar dekades later en heelwat lewenswyser, kan
ek dit nog steeds doen – net op ’n ander vlak. Is ek nie gelukkig nie?
Geen wonder my leuse is: “Nothing happens to me, everything happens for
me.” En met ’n goeie rede ook – om weer ander daardeur aan te raak.
Vandag, in my eie sakeondernemings, glo ek: Wat ek doen, moet ’n verskil
maak wat baie wyer uitkring as net die een persoon wat ek help. Want sy deel
dit hopelik met ’n hele gemeenskap of ten minste die mense om haar.
Mej. Suid-Afrika was ’n wonderlike platform om my in die sakewêreld te
vestig. Maar selfs vóór dit wou ek elke geleentheid benut wat na my kant toe
kom. Veral in die tyd voor demokrasie. Jy hoef nie te wag dat die lewe met
jóú moet gebeur nie – sorg dat jý met die lewe gebeur. Spring aan die werk en
verander dinge.
Die destydse apartheidsregering het met soveel venyn en geweld afgekom
op mense wat net ’n opvoeding wou hê. Bloot oor die kleur-kwessie. Op skool
in Athlone het ek álles gesien ... dinge waarvan ’n mens liewer wil vergeet.
Pa was skoolhoof in Bonteheuwel, daar op die Kaapse Vlakte. My suster
op UWK – die Universiteit van Wes-Kaapland. Van die studente is eenkeer
16
uit die klas gespuit met water. En ek ... ek het my onderwysgraad voltooi
aan die Universiteit van Kaapstad, oftewel UCT, maar wou nie eens by my
gradeplegtigheid wees nie. Daar was net te veel gapings in die vlak van ons
opvoeding destyds.
Dis hoekom opvoeding en die ontwikkeling van kinders én volwassenes
se potensiaal my na aan die hart lê. Almal moet gelyke kanse kry. Natuurlik is
daar steeds gapings in die onderwysstelsel. Maar elkeen kan help, iets doen, ’n
verskil maak. Dis nie net die regering wat verantwoordelikheid moet aanvaar
vir kinders se opvoeding nie. Voor demokrasie het mense nie so in die oë van
die regering gekyk nie. Hulle was baie meer onafhanklik en het hulle eie ding
gedoen. In die Nuwe Suid-Afrika vra te veel mense net heeltyd wat gaan die
munisipaliteit of die regering doen.
Dit vat almal van ons om ’n sukses van opvoeding te maak. Dit rus nie net
op onderwysers se skouers nie. Dit begin by die huis. Ons moet reeds daar die
liefde om te leer by ons kinders inprent.
My Dial-a-Teacher-maatskappy is my bydrae om te help. Skoolkinders kan
inbel vir ’n onderwyser as hulle sukkel met huiswerk. Jy kan maar sê dis hulle
noodnommer na kennis. Maar ek wil nie net kinders se hand vat nie! Vir die
grootmense het ek Business Growth Solutions. Die onderneming, wat my net
so na aan die hart lê, maak deure oop vir klein- tot medium-besighede en gee
entrepreneurs inligting oor regeringstenders, sakeplanne, arbeidswetgewing,
kantoortoerusting, bemarking, openbare verhoudinge en belasting.
Wanneer ek ’n entrepreneur op ’n snelweg na sukses kan plaas, laat dit my
hart net so warm klop as om ’n venster na kennis vir ’n skoolkind oop te maak.
Kennis is mag; dit bevry.
As entrepreneur wat self ’n lang pad kom, is dit altyd lekker om my
gunstelinglesse met ander vroue in die sakewêreld te deel ...
17
Beplan vir die beste (best case scenario), maar begroot vir die ergste (worst
case scenario). Jou miktyd of sperdatum is nie ’n presiese voorspelling nie.
Dikwels onderskat jy die tyd wat nodig is om mikpunte te bereik.
Die geheim vir sukses: Keep your head up and your overhead down. Gaan
aan, hou moed en sny aan oorhoofse koste. Persistence beats resistance –
aanhouer wen, maar moenie stroomop beweeg nie. Daar is geen hysbak na
sukses nie – jy moet die trappe een-een klim.
Baie mense sal jou afraai nog voordat jy begin. Maar hou net jou oë op die
doelwit. Heeltyd. Waarheen jy op pad is – dis wat saak maak. Henry Ford het
dit mooi opgesom: “Obstacles are those frightful things you see when you take
your eyes off the goal.”
Maak nie saak of jy ’n ongelooflike produk of ’n ongelooflike groot
aandeel in die mark het nie, dit is geen plaasvervanger vir ’n ongelooflike
gesindheid en onblusbare geesdrif nie.
Jy kry altyd enigiets wat jy régtig wil hê. ALTYD. As jy ’n brandende
begeerte het, en pyn én plesier sal verduur om dit te kry, sal jy alles insit om
daar uit te kom. Wéét wat jou visie is en waag daardie eerste tree.
En vir my eie kinders sou ek graag wou leer: Sien albei kante van die lewe,
soos by ’n muntstuk. Wysheid is die instinktiewe besef dat daar ’n seën in elke
krisis skuil. Luister na jou binnestemmetjie om te weet wat goed en reg vir jóú
is. Volg jou eie hart – nie ander se kop nie.
Is dit nie wonderlik hoe mense van alle rasse binne die twee dekades
van ons nuwe jong demokrasie op sosiale vlak hande vat nie! Dit wys mos
iets in die hart van ons land het verander. Daar is soveel meer ooreenkomste
as verskille tussen ons. Ons as Suid-Afrikaners gee mekaar nie genoeg
komplimente vir hoe ver ons gekom het nie. Los die kritiek ’n slag en sê
dankie!
18
Anel Alexander
Met harde werk kry jy wel
later vlerke om daardie
drome wat doer ver in die lug
ronddryf, te gaan vang.
19
Liewe jy...
Droom groot en werk hard
Droom groot en werk hard. En pas aan by omstandighede as dit nie is soos jy
dit wil hê nie. Dit is my leuse vir my lewe.
Wie weet, daardie kleindogtertjiedroom om eendag in ’n Broadwayproduksie te speel word dalk nog waar! Hm, miskien oorskry entoesiasme my
vaardigheid, maar wat! Musicals is net só magical. Dit was juis deur musiek
dat ek ’n voet in die deur van die vermaaklikheidswêreld gekry het. En toe
sommer ook my man ontmoet het toe ons saam in ’n musiekblyspel gespeel
het. Alles baie goeie tekens ...
Onthou altyd, jy hoef nie gewild en “in” op skool te wees om uit te styg
nie. Kyk maar na hierdie doodgewone paadjie van iemand wie se gesig later op
die plakkate van lokettreffers sou pryk ...
Op skool was Valentynsdagkaartjies ander meisies beskore – nie vir my
nie. Om in die liefdesafdeling te sukkel, was nie lekker nie. Ek was vreeslik
hartseer en het vir die Here gesê dat ek eendag alleen sal doodgaan! Maar Hy
het beter geweet en my eintlik beskerm. Die dag toe ek trou, het ek nie bagasie
gehad nie. En skielik klink iets wat hopeloos gelyk het, na ’n getuigskrif vir ’n
glansbegin! Dit wys jou net wat gedoen kan word. Niks is ooit onmoontlik nie.
Om slim te wees plaas jou outomaties in die “koek”-kategorie. Maar
koekerig of nie, ek was nog altyd vol ambisie en het omtrent alles gedoen
20
wat ek kon – van hokkie tot revue, enigiets behalwe skyfskiet en skaak, selfs
hoofmeisie is op my kerfstok.
My eerste groot liefde, was my trouman. En daarna, met ’n loopbaan in die
toneelbedryf, moes ek heelwat mans voor die kamera soen. Dis nogal ironies,
want die gevolg daarvan was dat ek méér ouens ná my troue as vóór my troue
gesoen het!
Mense dink dikwels aktrises is ekstroverte, maar dit is beslis nie altyd die
geval nie. Inteendeel. Tog het ek wel geleer om meer sosiaal te wees, al is ek
van nature baie skaam. Dit is heerlik om sommer net alleen by die huis te bly.
Daarom is dit goed dat ek ’n man het wat ’n mens-mens is. Ons balanseer
mekaar.
So, met ’n prim en proper begin het ek groot hoogtes bereik. Van jeugkoor
tot TV-sepie (met minder tyd vir sing) en die televisiebedryf tot romantiese
komedie flieks. Wie sou dit ooit kon raai van daardie skaam skoolmeisie wat
sukkel om ʼn kêrel te kry? Ek het al dinge gedoen wat niemand ooit sou verwag
het nie ...
Hoor net hier: Vir ’n rol as prostituut het die regisseur voorgestel ek moet
paaldansklasse neem. Want my inhibisies moes ek teen wil en dank laat vaar!
Jy ontdek spiere in jou lyf wat jy nie geweet het bestaan nie as jy met jou
bobene om ’n paal moet klou. Dit kan ek jou verseker!
Met harde werk kry jy wel later vlerke om daardie drome wat doer ver in
die lug ronddryf, te gaan vang. Daardie rol met musiek sal nog kom. Wag en
kyk maar net!
Moet nooit moed opgee as jy nie dadelik jou mooiste drome waar kan
maak nie. Benut elk geleentheid wat oor jou pad kom – al is dit nie een wat
jy met alles in jou hart begeer nie. Soms is dit juis daardie kanse waaruit die
groot geleenthede spruit.
21
Elke stukkie blootstelling en ondervinding ontwikkel ’n ander faset in jou.
En wanneer daardie groot kans kom wat vir die lang verwagte deurbraak sorg,
is jy reg om dit met albei hande aan te gryp.
In die toneelbedryf is daar maer jare én vet jare. Soms lê jy vyftig oudisies
af voor jy ’n rol kry. Dit was juis om werk te skep dat ek en my man later
sommer ons eie flieks begin maak het. Om van aktrise na rolprentvervaardiger
te spring, was nogal gewaagd! Maar kyk, as dit moontlik was, is die idee van ʼn
musiekblyspel dalk glad nie so vergesog nie.
Ek het iewers iets gelees wat iemand oor my geskryf het. Hierdie tipe
kommentaar maak jou tegelyk trots en nederig. Trots omdat jy weet hoe hard
jy gewerk het om daar te kom, en nederig óók omdat jy presies weet hoeveel
werk dit geverg het. Daar is geskryf: “Om Anel se karakter te probeer vasvang
is soos om talent te probeer bottel. Of soos om jellie teen ’n muur vas te
spyker. Eintlik onmoontlik!”
Jy sal sien, God se tydsberekening is perfek. Hy keer elke geleentheid om
in ’n enorme blessing. Maar dit gebeur gewoonlik nie wanneer jý dink nou is ʼn
goeie tyd nie. Dit gebeur wanneer dit moet. Wanneer jy reg is daarvoor.
Soms kry jy call back ná call back vir oudisies, net om in die laaste rondte
uit te val ... Jy besef later jy baklei teen ’n muur. ’n Mens het ook net soveel
tyd vir oudisies. En dit help net mooi niks om op jou CV te skryf jy was
“tweede prinses” nie. Maak nie saak nie. Hou aan. Maak ander planne en bly
droom ...
Kom ek verklap twee van myne: Ek sal my voortande gee om een van die
hekse in die Broadway-show, Wicked, te speel. En as ek eendag “groot” is,
wil ek ’n magical realism-tipe fliek soos Moulin Rouge vervaardig – vol ryk
kleure en teksture.
So, wat is joune?*
22
*Hierdie artikels is ’n onderhoud uit FINESSE tydskrif, soos oorvertel deur die samesteller.
Angelique Gerber
Moenie die engele miskyk
wat Hy oor jou pad stuur nie.
Hulle is daar met
’n doel, om jou te help.
23
Liewe jy...
Hou altyd vas aan jou geloof
Glo – en jy sal leef. Dis onmoontlik om sonder God, op eie stoom, die lewe se
op- en afdraandes aan te pak. Jy gly eenvoudig terug. Soms kom daar engele
in menseklere oor jou pad. Moenie hulle hand miskyk of wegstoot nie. Ander
kere kan net Hy jou help.
Daardie dinge wat jou in ’n bondeltjie wil laat opkrul, is nie altyd net groot
goed, soos siekte en dood nie. Daar is ook die klein jakkalsies. Emosionele
boelies wat jou skiet met vlymskerp woorde is maar een daarvan.
Soos mense wat na joernaliste toe hardloop met ’n storie wat nie waar is
nie. Dan voel jy tot in die grond in vertrap, verneder en verraai. Selfs vriende
en familie kan dit doen, so moeilik soos wat dit is om te glo. Omdat jy meer
lojaliteit en eerlikheid van hulle verwag, maak dit ekstra seer. Watter tipe mens
doen dit? wonder jy.
En ja, oukei, dis seker nie die einde van die wêreld nie. Maar dit breek jou
af en steel jou lewensgehalte. Waar jy altyd oop en eerlik was, moet jy nou
terughou. Dis nie lekker nie. Veral omdat ek die soort mens is wat met my hart
op my mou loop. Mense kan altyd op my gesig sien wat ek dink. As ek iets wil
sê, wil ek dit nóú sê.
Maar dis nie meer so nie. Dis so hartseer dat ander mense jou in jou dop
laat kruip sodat daar later net ’n skaduwee oorbly van die mens wat jy werklik
24
is. Dit laat jou eerder stilbly, eenkant wees, nie sommer met enigiemand meng
nie. Gelukkig, met hulp van Bo, kan jy dit verwerk, agter jou sit en aangaan
met jou lewe.
En dan is daar die saak-van-lewe-of-dood-goed ... Soos toe my ma tien dae
in die intensiewesorgeenheid was, gewig verloor en aanmekaar naar geword
het. Die dokters kon net nie ’n diagnose maak nie. Bloedtoets op bloedtoets
is gedoen – haar drup moes soms tot tien keer op ’n dag vervang word. Sy het
vas geglo sy was besig om dood te gaan.
Magteloos en naby breekpunt besluit ek toe om haar maar na ’n ander
hospitaal te neem. Daar het hulle feitlik onmiddellik klierkoors gediagnoseer.
Dis Hy wat my gelei het om haar uiteindelik na ’n ander hospitaal te neem.
Wat anders kan ’n mens glo? Sulke tye hou jou plat op die aarde, knieë op die
grond en naby aan Hom.
Ek het ook al geleer dat gebed op verskillende maniere verhoor word, en
dat hulp nie altyd dieselfde lyk nie. In sommige situasies het jy psigiaters en
sielkundiges nodig; in ander kan net Hy jou help. Daar is ’n plek vir alles,
maar met party toestande is medikasie al uitweg om dit te beheer.
Daar is mense wat weier om medikasie te gebruik, want hulle geloof is, so
sê hulle, genoeg. Dit is soos die storie van ’n man wie se bootjie wou sink. Hy
het om hulp gebid. Kort voor lank het twee ander bote verbygekom wat wou
help. Maar hy het gesê, toemaar, God gaan my red ... Toe sy boot sink en hy
wou weet hoekom Hy hom dan nie gehelp het nie, was die antwoord: “Ek het
twee keer hulp gestuur en jy het elke keer geweier.”
O, en daardie paniekaanvalle, as derdejaar op universiteit! Mense het vir
my gebid, wou duiwels uitdryf en al sulke dinge. En al die tyd was dit paniek,
sou ek later uitvind. As ek nie by ’n psigiater uitgekom het nie, sou ek seker
lankal my polse gesny het.
25
Paniekaanvalle is, nes depressie of bipolêre sindroom, ’n mediese toestand
waarin daar iets skeefloop met die chemiese stowwe wat die liggaam moet
vervaardig. Mense met bipolêre gemoedsversteuring se brein skei nie genoeg
dopamien en serotonien af om hulle gemoed gelykmatig te hou nie. Met
paniekaanvalle skei jou byniere te veel adrenalien af, wat dan sulke aanvalle
veroorsaak.
Daar is beslis gevalle waar meer as bid nodig is. Dokters se verstand en
kennis om hierdie siektes te behandel is ook ’n gawe.
Mense sien God so verskillend – nie net die manier hoe Hy help (of deur
wie) nie, maar ook sy wese. Sonder ’n pa in my lewe sukkel ek om God as
Vaderfiguur te sien. Ek kan my dit net nie indink nie. Ek sou soveel beter vir
verhoudings voorbereid gewees het as daar ’n godvrugtige man in my lewe
was. Nie noodwendig om pa te speel nie. Maar dis tog waar ’n meisie voel
hoe dit is om ’n nie-seksuele verhouding met ’n man te hê. Die pa-dogterverhouding is amper jou eerste verhouding met ’n man.
Dalk is dit waarom ek Hom nie as manlik of vroulik probeer sien nie, maar
eerder die begrip probeer verstaan deur aan my ma se liefde vir my te dink.
Daar is net niemand in die wêreld wat my so onvoorwaardelik en innig liefhet
soos my ma nie. En dis hoe ek dink Hy sy kinders ook liefhet.
Hoe jy die buitelyne van jou beeld skets, maak nie werklik saak nie. Kleur
dit net in met liefde. Dis hoe God vir jou moet lyk. Natuurlik het een mens nie
al die antwoorde nie. Maar, aan die ander kant, wie het? Soos ons elkeen deur
die universiteit van die lewe gaan, leer ons om situasies met al meer grasie en
wysheid te hanteer.
26
Anna-Mart van der Merwe
As ma-word nie een van die
lewe se draaie met jou is nie,
vra jy nie vrae nie … jy lééf.
En geniet ander se kinders.
27
Liewe jy...
Elke vrou kan ’n ma wees
As die lewe draaie met jou wil loop, vat hom aan die hand. En loop saam waar
hy jou vat. As ma-word dan nie een van daardie draaie is nie, vra jy nie te veel
vrae nie ... jy lééf. En geniet ander se kinders.
O, die wonder van peetma wees! Jy kan soveel kinders hê soos jy wil, al
is hulle nie jou eie nie. Jy is die feëtante wat van babadae af goeie wense oor
daardie bondeltjie blaas, oor haar waak en drome laat waar word. Dis ’n baie
spesiale rol. ’n Kind met so ’n waakengel in haar lewe is bevoorreg bo ander.
Meer nog, die engel self!
’n Peetma is iemand wat, terwyl die kind albei ouers het, op die kantlyn
staan, deel is van sy of haar lewe en die gesinseenheid help bymekaar
hou. Daar is soveel vryheid en vreugde in daardie verhouding. Want jy is
nie opvoeder en grootmaker nie, maar beskermvrou, vriendin en vangnet.
Natuurlik is jy nie ’n tweede ma nie. Jy wil dit ook nie wees nie! Maar jy is
daar as iets gebeur en jy moet vang. Intussen kan jy jou peetkinders geniet en
sien ontluik – van papies tot vlinders.
Die lekker van ’n ouer peetkind is dat jy half die rol van ouer suster
inneem. Jy gaan saam met hulle deur die nuwe dinge van ’n liefde, werk,
rondreis en veel meer.
Wees ’n klankbord vir hulle. Laat hulle jou vertrou en hulle hartsgeheime
28
met jou deel. Soms is daar goed wat ’n kind mos eers by ’n peettante sal
uittoets voor sy die bom voor ma en pa laat bars. Hou dinge maar altyd fyn
dop, want as iets begin wankel, moet jy intree.
Ryg hulle in soos sierkrale aan ’n halssnoer wat jy altyd om jou nek dra.
Elkeen word deel van die seisoene van jou lewe.
’n Kind se lewe en emosies is so broos. Ek onthou hoe dit was toe my ouers
jonk dood is en ek skielik uit die kring na die kantlyn geruk is. O, die hartskok!
Dit was amper meer ’n soort skande. Skielik was ek anders en nie meer deel
van ’n groep nie. Daardie aanvaarding en deelwees van ’n groter eenheid moes
ek in ’n fantasiewêreld gaan soek.
Die gemis aan ’n ma was soos ’n gapende wond. Dis mos die een vrou
met wie jy óóp kan praat, wat jou help sin maak uit dinge wat jy nie kleinkry
nie. Maar nou kan ek holtes in my peetkinders so goed vul. Want ek verstaan.
Daardie leemte het my gebrei en geslyp om fyn ingestel te wees op die
golflengte van ’n kind. Ek weet waarna om te luister, en waarna om op te let.
’n Dogter erf altyd iets spesiaals van haar ma – soos liefde vir kosmaak,
’n passie vir die eenvoud van die lewe. Waar kry jy beter trooskos as ’n beker
koffie, Marmite-toebroodjie of stuk beskuit? Sulke goed bring haar terug ...
Al val sy vroeg weg, laat sy ten minste so ’n erfporsie waarop jy verder in
jou lewe kan voortbou, mooi poskaarte wat jy altyd met jou saamdra. En nou
kan ek vir elke peetkind iets besonders opbou en eendag nalaat – ’n unieke
erfskat van gedeelde oomblikke en onvoorwaardelike liefde.
Soveel kinders het ’n goeie feë nodig. Kyk maar net rond om jou ... Soos
ons hemelkinders. Die ouer van ’n Downsindroom-kind se rug moenie net
simbolies nie maar ook fisiek sterk wees. (Probeer so ’n kind abba – dis ’n
dooie gewig. Hulle hang soos ’n pop.)
Sulke ouers kry elke dag met soveel uitdagings te doen. Dit rem aan hulle
29
huwelik. Daar is soveel vrese vir die onbekende toekoms. Wat as jy nie meer
daar is om hulle hand vas te hou nie? Dan nog die kwessie van aborsie ... en
aanvaarding.
Elke mens wil in ’n gemeenskap aanvaar word. Al stoot die samelewing
hulle nie regtig uit nie, plaas hulle hierdie kinders tog op ’n drywende eiland,
weg van die vasteland. Hoe kan jy sorg dat so ’n kind as mens uit eie reg
aanvaar word?
Omarm hierdie ouers waar en wanneer jy kan.
Vertrou jou instink – die lewe laat jou paaie doelbewus met uitgesoekte
mense kruis. Wees oop vir enige randgroep kinders. Moenie jou toorstaffie in
die besemkas tussen die stoflappe wegbêre nie.
Die lewe het te doen met keuses. Die groot vraag oor die sin van die lewe
is mos altyd: Wat is my doel op aarde? Ag, dit kan ’n mens moeg maak om net
daaroor te dink. Jy hoef dit nie altyd te weet nie. Die lewe is net so ongelooflik
lekker. Gee jou oor aan die oomblik. Nóú, hiér. Lééf!
Daar is altyd ’n storielyn in jou lewe. As dit in jou lyn gebeur dat jy nie
kinders kry nie, hoef jy nooit minder vrou te voel nie. Daar is geen leemte in
jou lewe as jy dit met ander se kinders vul nie.
Ja, jy kan seker soms uit voel. Daar is sulke oomblikke. Mense met kinders
se inprop in die samelewing is anders as dié sonder kinders s’n. Hulle word
sommer natuurlik deel van die tiek-tok van die samelewing. Sonder kinders
gebeur dit nie so vanselfsprekend nie. Jy moet jouself doelbewus deel máák.
Is daar ’n leegte in jou lewe? Iets wat ontbreek, maar wel in ander se lewe
is? Trek ’n af-strepie deur die minus en maak dit ’n plus!
30
Bertha du Plessis
Tydens die verhoor het ek nie
omgegee vir die wêreld nie.
Ek kon net sien hoe seer en swaar
hierdie man kry vir wie ek lief is.
31
Liewe jy...
Liefde gaan nooit dood nie
Niks neem liefde weg nie – al val iemand hoe ver, hoe stukkend. Hansie was
altyd my held. Krieket het hom baie van die huis af weggeneem en dit plaas
druk op ’n verhouding. Maar ek het geweet hy is lief vir my. Vir sommige
mense was hy as voormalige Suid-Afrikaanse krieketkaptein ’n held, vir ander
’n teleurstelling. Maar deur sy roem én sy val was my liefde en die liefde van
sy vriende en familie altyd daar vir hom.
Daardie laaste dag van die King-kommissie oor die match-fixing het die
werklikheid ons eers regtig getref. Ons het besef alles is nou oor. Dit was baie
moeilik, veral vir Hansie. Hy het baie depressief geraak en soms vir weke nie
sy voet uit die huis gesit nie. Hy het gesukkel om homself te motiveer, nie
geoefen nie – hy het eintlik niks gedoen nie.
Toe het hy vir drie dae gevas. Hy het met oudkrieketspelers en geestelike
leiers Tich Smith en Peter Pollock gaan gesels. Veral Peter was vir hom
’n geestelike mentor. Dit was ’n groot keerpunt in Hansie se lewe wat sy
skuldgevoelens betref. Hy is weer gedoop, sommer in Peter se swembad. Dit
was asof hy al daardie skuldgevoelens afgewas het en van voor af kon begin.
Hy kon weer sy plek as hoof van die huis inneem.
Tydens die verhoor het ek nie omgegee vir die wêreld nie. Ek kon net
sien hoe seer en swaar hierdie man kry vir wie ek lief is. Hy was teen die
32
grond. Snags moes ons die lakens omruil, want dit was deurnat gesweet tot
op die matras. Ek het Bybelversies op die spieël geplak waar Hansie skeer
sodat sy oog dit net êrens kon vang. In die lêers wat hy met sy bankstate moes
deurwerk, het ek ook versies geplak. Die krag van gebed is groot.
Ek het soms gevoel om net my tassies te pak en te loop. In die maande ná
die King-kommissie het ek ’n paar goedjies in ’n tas gegooi en gesê ek is nou
op pad. Hansie het saam met my na die motorhuis gestap. Toe ek die venster
oopmaak om hom te groet, staan hy gereed met sy kredietkaart in sy hand. Sy
woorde was: “Vat asseblief my kaart, dan kan ek ten minste weet waar jy is as
jy dit gebruik!” Ons het al twee uitgebars van die lag en die tas is uitgepak.
En toe kom die tragiese, ontydige vliegtuigongeluk. Die nagmerrie-tyd kort
ná Hansie se dood was verskriklik. Sy kamerjas het nog agter die deur gehang,
maar ewe skielik was hy net nie daar nie.
Ek het alles van hom gemis: die manier hoe hy met my gepraat het, die
koffie wat hy in die oggend vir my gebring het, die SMS’e ... As sy BMW met
die leerstuurwiel in die son gestaan het, kon ek nog sy naskeermiddel ruik. So,
as die verlange baie erg geraak het, het ek met sy kar werk toe gery. Soms het
ek in Hansie se kas geklim sodat ek hom net weer kon ruik. Dan het ek in al sy
sakke gevoel: Is daar nie dalk ’n briefie wat hy vir my gelos het nie?
Aanvanklik is alle herinneringe seer – jy wil huil oor alles en dubbel vou
van pyn. Iemand het gevra hoekom loop ek so krom ... dit was asof ek nie kón
regop loop nie. Mettertyd raak dit beter, hoewel die letsels altyd daar sal wees.
Wat my troos, is dat Hansie vrede in sy gemoed gehad het met sy dood. Ek
dink tog hy het homself vergewe en was vry. In sy laaste radio-onderhoud het
hy verwys na die liedjie “Die skoene moet jy dra” van Valiant Swart wat deur
Laurika Rauch gesing is. Hy het geweet hy moes die gevolge van sy dade dra,
maar daar was weer lewenslus, daardie opgewondenheid oor die lewe.
33
’n Man ná Hansie was nooit in my verwysingsraamwerk nie. Dit was een
van die moeilikste goed om te besef ek kan dalk weer vir iemand anders lief
wees. Jacques. Dit was amper so moeilik soos die dag toe Hansie dood is. Ek
kon nou kies om aan te gaan met my lewe of te bly waar ek was. Daardie keuse
het Hansie se dood ’n werklikheid gemaak, maar ek het geweet niks gaan
verander as ek bly waar ek is nie.
Ek het ná Hansie se dood ’n krat van sy goed gehou: my Hansieboks.
Daarin is sy dromstokkies, sy Bybel met aantekeninge, sy laaste jaar se
dagboek vol afsprake, sy skoene wat ná die ongeluk in sy sak was. Elke nou en
dan as ek hartseer voel, gaan maak ek my boks oop en huil lekker en dan maak
ek dit weer toe.
Jacques voel gelukkig nie bedreig deur Hansie se herinneringe nie. Hy het
Hansie al ontmoet en was mal oor hom. Hy sien hom as iemand wat ’n groot
deel van my lewe was. Ek hoef nooit iets weg te steek as ek steeds hartseer
raak en onthou nie. Dit maak dit soveel beter dat ek iemand het wat omgee en
verstaan en ’n stuk van die swaar pad met my deel.
Toe ek Jacques ontmoet het, ’n jaar ná Hansie se dood, was ek op een van
my laagste plekke. Niks was vir my lekker nie. Ek wou niks doen nie, net op
my bed lê. Dan het hy my baiekeer saamgesleep: “Ons gaan nou pizza op die
strand eet!” of “Kom ons draf om die blok.” Jacques het my, sonder dat hy dit
weet, uit ’n diep gat gehaal.
My lewe is oneindig verryk deur Hansie. Ek het geleer van wen en verloor,
val en opstaan, liefde en dood en nuwe lewe. Met die Here se genade het ek ’n
tweede kans gekry. Hy het Jacques gebruik om my lewe vir my terug te gee.
En nou ... dinge verander so maklik. Ons wil net elke dag geniet en leef met
die hoop en wete dat ons almal vir wie ons lief was weer eendag saam met
Jesus in die hemel sal sien.
34
Brümilda van Rensburg
Styl is nie ’n rok nie. Jy kan dit
nie toeknoop, vasrits, aanglip
of vasstrik nie. Styl is daardie stukkie
individualiteit wat jou jý maak.
35
Liewe jy...
Ryp, sensueel – dit kom saam met jare
Misterieus, tydloos, sensueel, eteries en klassiek ... sulke woorde kom eers
jou kant toe in die volheid van jou jare. Want dieper skoonheid is die vrug
en somtotaal van selfaanvaarding, styl, ’n positiewe gees, lewenswysheid en
ontelbaar ander elemente.
Hoe ouer ek geword het, hoe gemakliker het ek met my “pakkie” geraak.
Selfvertroue gaan oor deurleefdheid. Dit groei met die jare. Jy leer om iets
spesiaals van jouself te maak.
As jy elke dag ’n halfuur aan jou grimering bestee, beteken dit dat jy trots
is op jou vrouwees – nie dat jy jouself nie aanvaar nie. Om goed te wíl lyk is
deel van elke vrou se geestelike makeup. Selfaanvaarding plus selftrots maak
’n dekselse móói som! Doen wat jy kan, but stay real. Jou valmerke (in watter
vorm ook al) is jou trademarks en dit is pragtig.
Maar ons weet almal skoonheid strek dieper as grimering. Anaïs Nin het
gesê ons sien nie die wêreld vir wát dit is nie, maar vir wie óns is. Hóé jy na
dinge kyk, bepaal hoe jy daaroor voel en dink. Warmte is so mooi aan ’n vrou.
’n Glimlag. Kyk na mense met sagte oë.
ʼn Vrou se sensualiteit het heelwat met misterie te doen. Wanneer jy Gucciskoene dra, en jou kop raas – met ander woorde daar is nie lig in jou oë of ’n
glimlag op jou gesig nie – is jy nie aantreklik nie.
36
Dit is beslis so, jy kan die pakket verfraai soos jy wil, die binnekant skemer
altyd die een of ander tyd deur. Styl is ’n kledingstuk van ons gedagtes. Dit is
nie ʼn rok nie. Jy kan dit nie toeknoop, vasrits, aanglip of vasstrik nie. Styl is
daardie stukkie individualiteit wat jou jý maak. Dis daardie kreatiwiteit wat jy
so aanwend dat net jy en jy alleen jou mosterd en pienk vintage finds só kan
dra dat dit lyk asof jy dit van ’n Paryse catwalk gekoop het.
En die rede hoekom dit so goed vir jou werk? Nie omdat jy dit so goed
bymekaarsit nie, maar omdat jy ewe maklik rek om ’n cashmere throw van
die boonste rak af te haal as wat jy buk om die oom by die ouetehuis se
skoenveters vir hom vas te maak.
Iemand het eenkeer gesê: “Hoe weet jy of ’n vrou styl het? Luister ’n
bietjie na hoe sy met haar kinders in Pick n Pay praat.” Wie jy binne-in is, sal
op die een of ander manier in jou uiterlike wys, al probeer jy hoe hard om dit
weg te steek.
Een van my heroes, Coco Chanel, het gesê: “A style does not go out of
style as long as it adapts itself to its period. When there is an incompatibility
between the style and a certain state of mind, it is never the style that
triumphs.”
Dis die manier waarop iets gesê, gedoen, uitgedruk en opgevoer word. Styl
is ’n morele riglyn wat deel van jou karakter en identiteit vorm. Soos Madiba
se hemde wat hy gedra het na spoggeleenthede waar almal met swart pakke
gesit het. Dit het deel van sy styl geword. Hy kon dit dra omdat sy karakter
en persoonlikheid dit gedra het. Styl is ’n elegante en gemaklike manier van
“wees”.
’n Positiewe houding hou jou ryp, ánders jonk. Dit gaan oor jonk leef, en
doen waarvoor jy lief is. Wees lewensbly oor al die hoogtepunte in jou lewe.
Werk ook aan nuwes.
37
As jy ná baie dekades kan terugkyk in ’n spieël wat vir jou die toekoms
wys, is jy geseën. Ek doen dalk nie meer presies wat ek voorheen gedoen het
nie, en moes plek maak vir nuwe talent. Maar nou deel ek my ervaring met
ander. Met ’n passie vir teaching, kan ek steeds my roeping uitleef. Om mense
se lewe ten goede te verander, gee my ’n dieper doel.
Soms moet jy kanse waag. Moenie bang wees daarvoor nie. Dit hou ook
die wintervingers weg wat wil naderkom. Ek leer myself elke dag opnuut
ken. Daardie soeke na myself hou nooit op nie en is ’n aaneenlopende
transformasieproses.
Wees eerlik en eg. Om jou siel met grimeerkwassies te wil afstof, maak
jou niks mooier nie. Toneelspel hoort voor die kamera, of op die verhoog. Die
meeste mense het ’n hele paar maskers waaragter hulle skuil. Dan wys jy nie
wie en wat jy regtig is nie. Miskien omdat jy skaam is vir foute wat jy gemaak
het? Foute is eintlik wonde wat met rowe genees. En die rowe val mettertyd af.
Moenie skuldig voel oor jou letsels nie. Die spel van skuldgevoel is
die grootste struikelblok vir jou spirituele groei. Omdat jy bang is om jou
weerloosheid te wys, gee jy voor of speel verskillende rolle. En dan kom jou
natuurlike binne-mooi nie deur nie ...
Leen gerus George Bernard Shaw se lewensleuse. Aan die einde van sy
lewe het iemand hom gevra watter persoon in die geskiedenis hy graag sou
wou wees. Toe antwoord hy: “Ek sou die heel graagste die George Bernard
Shaw wou wees wat ek nooit geword het nie.”
Waarom altyd streef om iemand anders te wees? Dit maak tog nie sin nie.
Wees eerder net die beste jy. As jy kan sê: “Daar is geen ander mens wat ek
graag wil wees nie” ... dan het jy by jouself uitgekom.
38
Carike Keuzenkamp
Elke seisoen het sy eie resep vir
geluk. Laat agter waardeur jy is;
wees oop vir die volgende fase. Moenie
terugkyk en teruggryp nie. Leef vorentoe.
39
Liewe jy...
Gee weg – dis die geheim van geluk
Sjarme laat almal, jonk en oud, uit jou hand eet. Maar wat is die geheim
daarvoor? Hoe pluk jy daardie spesiale sterretjie wat doer ver flonker? Maklik!
Kyk op, glimlag met jou hart in jou oë en dit val vanself daarin.
Wees self gelukkig, stel jou oop, kry harmonie in jou lewe – en gee, gee,
géé! Moet niks vir jouself hou nie – jou talente, skeppende vonk, al die liefde
wat jy ontvang. Deel uit sover jy gaan, onvoorwaardelik.
Die geheim vir immergroen sjarme lê nie in skoonheid of jeug nie. Geluk
en skeppende energie hou daardie vlam regdeur al jou seisoene aan die brand.
En hou jou tog maar besig, hoor! Dan kry jy nie tyd vir blues nie – of dit nou
30/40/50/60 of watter ouderdom ook al is.
Lente en somer is maklik, sê jy, maar wat van herfs en winter? Elke seisoen
het sy eie skoonheid, sy eie resep vir geluk. Laat agter waardeur jy is en wees
oop vir die volgende fase. Moenie terugkyk en teruggryp nie. Leef vorentoe.
Harmonie – met jouself én die man van jou drome – laat julle saam musiek
maak! Daarom moet jy iemand kies wie se persoonlikheid joune aanvul – al
kom julle van twee verskillende planete, met uiteenlopende loopbane en
belangstellings. Integriteit en humor is die sout en peper. Jy kan nie daarsonder
nie – veral as dit kom by ’n verhouding in die openbare oog.
Dra charisma oral saam met jou – ook in jou werk, na die verhoog en
40
ateljee. Pak alles met ’n glimlag aan. Gun ander hulle plek in die son en stel
intens belang in wat hulle doen. Skep vir hulle geleenthede, help hulle om
hulself te ontwikkel. Bly gestroop van pretensie. En natuurlik, hope positiewe
energie maak jou ’n plesier in enige geselskap. Kyk dus mooi na jouself.
Nou ja, so stap jy (en die tyd) aan; jou lewe word wyer, voller en ryker.
Kinders verdriedubbel jou geluk. Wees betrokke by wat hulle ook al doen. Bou
’n oop verhouding – praat met hulle oor goed waarvan jy nie hou in hulle lewe
nie. Luister ook na hulle kant van die saak. Veral wanneer jy kinders het, leef
jy nog minder vir jouself. Raak deel van hulle dinge. As jou seun nagklubs
toe gaan om musiek te luister, gaan soms saam. Wees betrokke. Moenie hulle
wêreld verdoem nie, al lyk dit anders as joune. Gee hulle ruimte om asem te
haal op húlle manier.
Ek wil graag hê my kinders moet kan sê: “Daar was geen veroordeling in
ons huis nie. Ons kon oor alles en nog wat met ons ouers praat. Ons het gedink
dis normaal en alle gesinne werk maar so. Heelwat later het ons agtergekom
baie min kinders het daardie vrymoedigheid. In sommige huise gaan daar selfs
weke verby sonder dat iemand regtig met mekaar praat. In ons huis was dit
anders. Die dae wat ons ma nie by die huis was nie, het dit nie soos huis gevoel
nie.” Dit is die warm kant van sjarme!
Wees ’n plesierige omgee-ma – dan sal hulle dit ook vir hulle kinders wil
wees. Dis ’n geskenk aan jou kinders, maar sommer ook ’n belegging vir jou
kleinkinders.
En die kleinkinders! Let the Games begin! Met kleinkinders maak die
geheim van gee jou nog gelukkiger as ooit. Jou kleinkinders gee jou nuwe
fleur. Spring saam met hulle trampolien. Sorg dat jy weet wat in hulle lewe
aangaan. As hulle ver weg, oor die waters, woon – hou kontak met Skype of
e-pos. Onthou al hulle groot dae – verjaarsdae, enige herdenkings.
41
Bly jonk van gees en lyf. Jy is nooit te oud om iets verspots te waag
nie. Gooi soplepelsvol pret in julle saamwees. As jou kleinkind in Amerika
yshokkie speel, stof jou skaatse af (of skaf ’n paar aan) en vat dit saam
wanneer jy gaan kuier. Klink dit te waaghalsig en atleties? Wel, kry dan iets
“veiligers” en meer in jou lyn. Maar maak dit pret. Daardie herinneringe sal
hulle tot in hulle oudag laat tone krul van lekkerkry.
Laat hulle jou onthou as ’n liefdevolle, fun persoon wat nie alles in die
lewe té ernstig opgeneem het nie. Dis sjarme met ’n knipoog!
Maar die lewe is nie altyd maklik nie – veral soos wat jy ouer word en
nuwe uitdagings in die gesig staar. Dinge waaroor jy vroeër nie eers gedink
het nie. Bly koelkop en realisties in ’n krisis – al is jy vir eers doodstil geskok.
Praat ander moed in – selfs al gaan jy deur ’n dal van doodskaduwee. Moenie
ernstige siektes wegsteek nie – praat daaroor. Dit verlig die las. Deel daardie
kommer en vrees. Dan breek die son deur ...
Geloof speel ’n groot rol in hoe jy siekte hanteer. Jou herstel en genesing
word deur ’n Hoër Hand beskik. Daardie wete bring vir jou – en jou hele
gesin – kalmte, keer op keer. Moenie alleen daarteen stry nie. Dit is die
vegkant van sjarme.
Laat ander mense soms toe om jou te help. Nogal ’n moeilike les as jy ’n
beheervraat is! Soms moet jy kan sê: Help, ek kry nou swaar. Natuurlik kan jy
sterk wees, maar ten koste van wie en wat?
Sien fisiek en emosioneel mooi om na jouself; niemand anders gaan dit
doen nie. Gelukkig is jy nie alleen nie – God gee jou die krag. Hy hou jou
altyd vas. En dis die belangrikste deur al jou seisoene heen. Só verskiet daardie
spesiale sterretjie in jou nooit. Moet dit vir geen oomblik vergeet nie.
42
Chanelle de Jager
Doen wat jý wil en nie wat
ander mense dink jy moet nie.
Jy is goed genoeg en hoef
jouself aan niemand te bewys nie.
43
Liewe jy...
Jy moet val voor jy kan opstaan
Daar is ’n verskil tussen ’n rol en jou ware self. Dís die les wat jy leer wanneer
jy ’n totale laagtepunt bereik. En dan maak jy vrede. Maar daar is net Een wat
jou rêrig hiermee kan help ...
As mense eers ’n etiket om jou nek hang, voel jy mos jy moet die masker
dra wat daarby pas. Soos partytjiemeisie ... Jy jil en gaan tekere, kuier tot
ounag. En dan, skielik, kom jy by die punt waar jy jouself verloor. Veral as
jy in die toneelbedryf is. Jou rol kan maklik oor jou identiteit skuif en lang
skaduwees met klam vingers gooi. Dit wurg jou, kleur jou anders in. En jy
word iemand wat jy nie is of wil wees nie.
Die rol wat ek op die verhoog of voor die kameras speel, is fiksie. My eie
“ek” is die werklikheid. Dis ék. Maar dit het al leër en sonder sin geraak. Ek
was sat, en my gees teen die planke. Moenie dink dit gebeur nie met ander
soorte werk ook nie. Jy kan jouself in ’n bodemlose put van ander mense se
idees en verwagtings verloor.
Nou, die gevaar is nie net om daardie ander identiteit uit te leef en buite jóú
karakter op te tree nie. Die veldbrand skiet in as die “rol” afbrekende elemente
het wat inhaak by jou eie donker kante. Fireworks! Juis daardie prettige
vonkies en kleurflitse blaas die adrenaliengolwe die hoogte in. Jy raak ’n show
vir ander.
44
Ná elke wilde kuiersessie het ek die volgende oggend al meer afgetakel
gevoel. Veral omdat ek ’n aan-en-af-kêrel gehad het.
Ek het geweet die keerpunt is hier toe ek die bodem van die put getref het.
Vir ’n week wou ek net slaap en die telefoon dooddruk. Elke keer as ek in die
straat afstap, het ek gedink ek sal so bly wees as ’n groot bus my omry.
Dit was toe ek my laaste paar goedjies gepak en vir God gesê het: “Nou is
dit ek en U, Vader. Gee my die moed om te verander wat ek wel kán.”
Ek was so alleen en hulpeloos. Wat maak jy as daar geen bloedhart vir jou
oopstaan nie? My ma en pa is dood en my familie bly ver. Gelukkig kon ek na
iemand toe gaan by wie ek wel veilig gevoel het. Daar is min dinge wat liefde,
slaap en gesonde boerekos nie kan regdokter nie. Jy lig sommer jou verlepte
kop en begin weer blom.
Al is my ouers dood, weet ek hulle is steeds daar vir my. Soms kom ek
pootuit tuis en raak aan die slaap. En in my slaapnewels kom sit my ma op die
bed en sê: “Dis alles oukei, my kind, ek is hier by jou ...”
Ek kon vir lang tye lekker paartie, maar daar het ’n dag gekom wat ek besef
het ek moet ophou. Dis maklik om dinge te ver te voer en kop te verloor. Dis
nie die moeite werd nie. Die lewe is te kort om op te mors en jy te kosbaar om
jouself so te verniel.
As ek nou terugkyk, kan ek sien God het ’n plan met my lewe. Ek moes net
eers val voordat ek kon opstaan.
Dikwels lê jou probleem baie dieper as wat jy dink. Ek het dalk verkeerde
mense na my toe aangetrek, my toevlug in dinge soos drank probeer soek.
Sonder daardie vals krukke en stutte kon ek helderder dink. Alkohol verander
jou in ’n mens wat jy nie wil wees nie. Een wat ander ook nie wil ken nie.
Geloof is al anker wat jou rêrig uit die moeras van verslawing en
afdwaalgewoontes kan trek en bo hou.
45
Dis so maklik om te verstaan ... As jy nie ’n maatjie na jou partytjie nooi
nie, gaan hy tog nie daar wees nie. En as jy hom nooi en kwaai is, wil hy nie
rêrig daar wees nie. Net so moet jy God elke oggend na jou “partytjie” nooi.
Laat Hom welkom voel, want dis wat Hy verdien.
In daardie gift of desperation maak jy vrede met Hom. Ek het op breekpunt
by my kar gestaan met net my kleertjies en geen sent nie. Dis toe dat ek opkyk
en vir hulp vra. Want ek kon nie verder alleen aansukkel nie.
Hoe hou ek myself in stand dat ek nie teruggly nie?
Met gesonde ontspanning. Ek gaan stap soggens saam met vriende of klim
berg. Kuierplekke is nie taboe nie, maar ek weet wanneer om huis toe te gaan.
Daardie tree tussen die kuierplek se deur en jou kar is baie eensaam, maar dis
jou keuse.
Ek het ook geleer om myself te aanvaar en lief te hê net soos ek is. Dit
maak nie saak hoe my figuur lyk nie, ek is trots daarop – ek hou van myself
soos ek is. My beste vriendin is ek! Die obsessie met my gewig is verby, ek het
vrede gemaak met my lyf.
Liefde vir jou Vader en selfliefde loop hand aan hand. Die een kan nie
sonder die ander nie. Jy moet God aanvaar om jouself te aanvaar en jouself
aanvaar om God te aanvaar.
Doen wat jý wil en nie wat ander mense dink jy moet nie. Jy is goed
genoeg en hoef jouself aan niemand te bewys nie. Omring jou met mense wat
jou ondersteun en inspireer. Wees ’n survivor en trots daarop. Moenie wroeg
oor foute en verlore kanse nie. Laat dit saam met die partytjiemeisie (of watter
rol en masker ook al) agter. Gryp elke oomblik aan.
46
Christi Panagio
Die lewe sáám is soveel ryker
as op jou eie. Dis soos ’n stilfliek
in swart-en-wit teenoor
’n slice-of-life-rolprent in volkleur.
47
Liewe jy ...
Trou beteken jy leef volkleur
Soveel dinge verander wanneer jy trou ... Jy stap met ’n hart vol liefde en
’n tas wat oorloop van verwagtinge iemand se lewe binne. Maar om ná ’n
huwelik van handevol jare steeds sterre-in-die-oë verlief te wees, kom nie
vanself nie. Dis harde werk, maar die beloning is oneindig groot. Bly loop met
jou voete op die grond, maar jou kop steeds in die wolke.
Die lewe sáám is soveel ryker as op jou eie. Dis soos ’n stilfliek in swarten-wit teenoor ’n slice-of-life-rolprent in volkleur. Tog, as ek na my en Nico
kyk, was daar maklik twee groot hande vol aanpassings ná die troue.
Die titel van ons eerste hoofstuk saam was eenvoudig: Saamwees is goed!
Voor ons troudag wou ons om de dood bewys ons is onafhanklik van mekaar.
Maar jy moet leer om langs mekaar te stap.
Deel in mekaar se lewe; geniet julle tyd sáám. As ons nou te lank weg
is van mekaar, kry ons skoon skeidingsangs. Tog is daar ook apart-doendinge, jou eie identiteit wat jou jý maak. Wie het nie ek-tyd nodig nie? In my
alleentyd herlaai ek myself met kreatiewe projekte of dekorontwerp. Of kuier
saam met vriendinne.
’n Langafstand-verhouding, so tussen twee stede soos voor ons troue, stel
hemelhoë eise. Ek gun dit vir niemand nie. Die modelwêreld ken nie veel
genade nie en laat jou onseker oor jouself voel. Sulke tye het jy iemand baie
48
nodig. Maar dan is hy nie altyd daar nie ... en dis so maklik om mekaar dan
verkeerd te lees. As een in ’n slegte bui of af is, interpreteer die ander een
dinge so maklik verkeerd. Dit help nogal om saam onder een dak te wees!
Dis wonderlik om dáár te wees vir mekaar, veral in moeilike tye. Ek sal
maklik iets prysgee om vir Nico te ondersteun – dis bloot tweede natuur. Ons
het ook geleer om dinge nie persoonlik op te neem as die ander een af is nie.
Soek eerder die oorsaak en vat hande.
O ja, en romanse is ’n leefstyl. Dis wat lekker is van getroudwees. Dis
soveel makliker, want ons is heeltyd saam. Saans voor sononder gaan stap ons
in die strate of gaan speel met die honde op die strand. Ag, die bederf as Nico
vir my ’n blommetjie op my kussing sit wanneer hy vroeg uitgaan ... Romanse
is eintlik klein dingetjies.
Krisisse sal daar altyd wees. Grotes en kleintjies. Ek het al geleer om
voorbereid te wees en onnodige stres uit te gooi. As my huis in orde is, laat die
klein jakkalsies my nie rondskarrel as die wolwe om die huis huil nie. Onthou,
kalmte in stresvolle situasies!
O genade, waar is daardie dae toe ek tot ’n week lank stilstuipe ná ’n rusie
sou kry? Asof ek hom behoorlik wou laat ly. Gelukkig raak ’n mens groot ...
Die geheim is om nie langer as twintig minute kwaad te bly nie. Dit werk in
elk geval vir ons! Soms moet jy liewer terugstaan. Jy hoef nie altyd jou sê te sê
om te wys hoe sterk jy is nie. Die onselfsugtige roete is baie beter. Jy wen as
julle mekaar in ag neem – jy gee nie iets weg nie.
God is soos ’n pa vir ons. Hy is in die middel van ons huwelik – en dis
waar ek Hom wil hê. Sonder Hom sou ons nie gewees het waar ons vandag is
nie. Veral ook wat geldsake betref. Hy help ons om soos ’n span te werk.
Ons bedreig mekaar nie. Dit bly maar vir my sleg om ’n toneel op televisie
te sien waarin hy ’n ander vrou soen. Seker maar die prys wat jy betaal vir
49
’n akteurman. Maar as ek nie so ’n draai in my maag gekry het nie, sou ek
bekommerd gevoel het.
Ek weet Nico gesels gereeld met sy mede-akteurs oor my. As daar ’n
soentoneel is, sê hy vooraf vir die aktrise dat hy aan my gaan dink. Die soen
is bloot ter wille van die karakters wat hulle vertolk. Ek verstaan dit. Ons
sal albei wegbly van blatante sekstonele: ons movie, ons huwelik, is baie
belangriker as die een op die silwerdoek. Hoekom ’n rol aanvaar wat jou
huwelik kan steel?
Voor die troue het ek, nes hy, oor ’n suksesvolle loopbaan gedroom. Tog
het ek nie twee keer gedink om my modelwerk te laat staan en Gauteng toe te
trek sodat ons by mekaar kon wees nie. Want ek was lief vir hom. En ná die
troue was dit niks om my TV-sepie te los en terug te trek Kaapstad toe nie.
Baie mense gee pret prys vir werk. Ek het werk prysgegee vir pret.
By watter hoofstuk van my lewe trek ek nou? Maklik! Ek speel my rol, dié
van vrou en ma, met alles in my. My beste rol ooit! Nie voor die kamera, op
die loopplank, met flitsende ligte en in ’n glanswêreld nie, maar baie beter ...
in my huis.
So sien ek dit ... die vrou van ’n huis bepaal die geluk en atmosfeer van die
gesin. Daarom is dit verskriklik belangrik om self gelukkig te wees, soos net ’n
kind kan. Maar daarvoor moet jy jouself ken. My kinders het ’n nuwe dimensie
in my lewe gebring. Vierings soos Kersfees word weer spesiaal. Ek sien die
wêreld op ’n splinternuwe manier en dit maak my gelukkig – so gelukkig soos
’n kind.
50
Desiré Gardner
Ek glo vas ek is genees en
laat nie toe dat vrees my
lewe verwurg nie. Daardie tyd
is verby, dis nie my toekoms nie.
51
Liewe jy...
Wonderwerke gebeur steeds
Dis wel moontlik om bo moeilikhede uit te styg, hoë hoogtes te bereik en jou
droom te lééf! Wonderwerke gebeur steeds.
As jy na die blote feite kyk, moes ek vandag nie hier gewees het nie. Die
kans om ooit uit die koma wakker te word, was bitter skraal. En as ek die
beroerte sou oorleef, was ’n rolstoel my enigste redding. Al was die dokters
se prognose verdoemend, was die plan vir my lewe groter. Vandag is ek ’n
suksesvolle aktrise wat vinnig-vinnig naam gemaak het op die kassie, die
verhoog en nou ook die silwerdoek.
Op een doodnormale dag in graad agt, was ek bloot ’n bietjie naar. Ek het
daardie dag vir ’n oudisie gegaan, en was erg op my senuwees. Dit was nog
altyd my droom om ’n aktrise te word. Die eksamen was ook om die draai.
En toe, soos ’n weerligstraal uit ’n helder blou lug sonder donderwolke of
ander tekens van ’n natuurramp, gebeur dit: ’n beroerte-aanval. Ons het nie
eens ’n familiegeskiedenis van beroertes nie! Net mooi níks het enigiemand
laat dink “hier is fout” nie. Ek was ’n gewone, gesonde, aktiewe tiener –
sonder skete of kwale.
Die middag voor die aanval het daar skielik ’n steekpyn deur my kop
geskiet. Maar dit was gou verby. Daarna het ek en my boetie in my kamer gesit
en grappies maak. So elke nou en dan het ek ’n verkeerde woord gesê ... ons
52
wou ons vrek lag. Ek wou characters op my kalender skryf, maar dit het as
“calimte” uitgekom.
Teen slaaptyd was ek steeds in ’n goeie bui. Die hoofpyne en naarheid was
elke keer so vinnig verby dat ek skaars aandag daaraan gegee het. My ma het
vir my hoofpynpille gegee en gesê ek moet haar roep as ek sleg voel.
Sy het twaalfuur wakker geword van ’n vreemde geluid – die aanval.
Gelukkig kon sy kophou. ’n Ambulans is dadelik ontbied waarna ’n jaagtog
hospitaal toe gevolg het. Maar daarvan kan ek niks onthou nie. Ek het eers
weer in die hospitaal bygekom.
My keel was bitter seer – van die pype wat vir my moes asemhaal. Die
skanderings het gewys daar is ’n gewas op my brein. En terwyl hulle spinale
vloeistof getrek het om nog toetse te doen, het ek weer ’n aanval gekry. Een
van my werwels is toe raakgesteek.
Ná al die toetse en skanderings het die dokters vir my ma-hulle gesê dat ek
waarskynlik nooit uit die koma sou kom nie. En as ek wel wakker word, sou ek
heel moontlik verlam wees en nie kan praat nie. Die lewe soos ons dit geken
het, was verby.
Ons dominee, John Lewis, het vir my kom bid. Hy het sy hande op my
voorkop gesit. Dis toe dat hy besef: God gaan my genees.
Toe hy klaar gebid het, het hy die goeie nuus vir my pa gaan vertel. My
arme pa was in skok. Oomblikke tevore het hy nog gewonder of hulle oor ’n
paar dae my begrafnis gaan reël, en toe dít!
Kort daarna het ek wakker geword. Die linkerkant van my gesig was lam
en ek moes van voor af leer loop. Die dokters het nog ’n skandering gedoen, en
raai wat – die gewas was weg! Dit het net heeltemal verdwyn. Tot vandag weet
niemand hoekom en hoe dit gebeur het nie.
Ek was vir ’n dag en ’n half in ’n koma. Ek het niks gesien of gedroom wat
53
ek kan onthou nie. Agterna het daar wel ’n paar vreemde dinge gebeur. My pa
het my op my bynaam genoem, en die manier hoe hy dit gesê het, het my baie
ontstel. Dit was presies hoe hy my oor en oor in die ambulans op pad hospitaal
toe geroep het. So, ek moes dit tog gehoor het?
Daar was ook die keer toe ek ’n musiekvideo op televisie dadelik afgesit
het – die klank het my omgekrap. My sussie vertel toe dat dit baie geklink het
soos die geluid wat ek gemaak het tydens die aanval. Daarom dink ek jy móét
met iemand in ’n koma praat – dit dring tog tot hulle deur.
Wat die lewe terug by die huis betref ... Dit was moeilik om aan te pas. Ek
het dit gehaat om alleen te wees. Ek kon ook nie soos vroeër sommer net by
maats gaan uitslaap of te lank van die huis af weg wees nie. Want vir omtrent
’n jaar ná die episode het niemand dit hardop gevra nie, maar almal het dit
saggies gedink: Gaan dit weer gebeur?
Elke keer as ek hoofpyn gekry het, sou ek wonder – is dit nou? Selfs al
sou ek blakend gesond voel, het ek gewonder of daar weer iets in die skemer
sit en wag om my te bekruip. Ek was soms bang om bed toe te gaan, want die
monster was in my slaap. Veral as ek daar lê en my ouers se kamerlig gaan af.
Wie gaan my help? sou ek dan vreesbevange dink.
Vandag glo ek vas ek is genees en laat nie toe dat vrees my lewe verwurg
nie. Natuurlik sal ek altyd daardie tyd onthou, maar dit is verby, dit is nie my
toekoms nie. Ons is almal net op geleende tyd hier.
Omdat ek gesond geword het, kon ek met die wonderlikste man in die
wêreld trou en dinge doen wat ek eers nie gedink het ek sou kon nie. Ek het ’n
wonderlike familie, vriende en werk. Ek probeer die lewe geniet en herinner
myself elke nou en dan om positief te bly.
54
Donnalee Roberts
Geen droom is te groot nie.
God plant dit in jou hart vir ’n rede.
Dit hang van jouself af
of jy dit moontlik gaan maak. 55
Liewe jy...
Blom waar jy geplant is
God gebruik ’n mens net daar waar jy is. Selfs al sal jy nooit droom dis ’n plek
waar jy tuishoort nie. Dit het ek besef toe ek in 2006 joolkoningin geword het.
Ek sou nooit self ingeskryf het nie, bloot net omdat ek bang was vir mense se
opinies, dat mense dalk sou dink ek dink ek is mooier en beter as ander. Sonder
dat ek geweet het, het een van my beste vriendinne wat my hart ken en my
liefde vir liefdadigheidswerk gedeel het, my ingeskryf en oortuig om ’n kans te
vat. Toe ek weer sien was dit ’n warrelwind van projekte en fondsinsamelings,
maar ek was nog steeds bang vir mense se oordeel ...
Toe lees ek die aand voor die uitdun in my Bybeldagboek: “If you allow
certain people, they will stop you from fulfilling God’s destiny for your life
because they will always have something to say and those are the people who
will try and bring you down.”
Ek het hoendervleis gekry. Duideliker kon die boodskap nie gewees het
nie. Ek sou nooit kon raai watter deure daarna vir my sou oopgaan nie. Hy het
my getuienis baie groter gemaak as wat ek ooit sou kon droom. En dit het net
daar begin.
Ek het gou agtergekom wat die ware doel van jool is. Dit gaan nie net oor
een week se partytjie per jaar en ’n klomp studente wat vlot bou nie. Dit behels
harde werk regdeur die jaar om geld vir minderbevoorregtes in te samel. Ek
56
kon my passie vir liefdadigheidswerk, soos die Reach for a Dream-organisasie
en Help Net Huise van Veilige Bewaarding vir Kinders maklik voortsit as
joolkoningin.
Ná die titel as joolkoningin het Mej. Kampus SA gevolg en moes ek SuidAfrika by die Mej. Wêreld-kampus in Suid-Korea verteenwoordig. Al het dit
vir my gevoel asof ek glad nie inpas nie, het ek geweet daar is ’n rede hoekom
ek daar moes wees.
Ek het die kans gekry om met ongelowiges te praat oor wat regtig saak
maak en daar het ek besef dat hierdie skoonheidstitels vir my ’n platform
skep waarvandaan ek met mense kon werk. Twee ander internasionale titels,
Mej. Persoonlikheid en die International Goodwill Ambassador, het God se
plan duideliker gemaak. Hy het só my liefde vir die verhoog en my passie vir
mense gekombineer. Toneelspel, my groot liefde, het my ook geleer: Wat jy insit, is wat jy
uitkry. As jy werk aan iets waaroor jy passievol is, en ten alle tye alles wat
jy sê en doen met integriteit aanpak, kan dit nie anders as om geseënd te
wees nie. Dit kon nie vir my duideliker gewees het as met die film Pad na
jou Hart nie, waarin ek gespeel het en waarvan ek ook die mede-skrywer en
-vervaardiger was. God se guns en genade het letterlik daarop neergereën.
My ouma het my kleintyd al aan Jesus voorgestel. Hy is die definisie van
wat die woord “liefde”: die sambreel waaronder integriteit, respek, eerbied,
nederigheid en opregtheid vloei.
Dis wat ek ook vir mense wil gee: hierdie eienskappe wat altyd weer
terugkeer na jou toe. Ek wil hê my lewe moet mense laat besef ek dien ’n God
van liefde. Dan is dit nie nodig om te preek of Byvelverse op te sê nie. Probeer
eerder so leef dat hulle die liefde in jou lewe sien. Mense moet wonder waarom
jy so gelukkig en liefdevol is en hoekom jy altyd die beste in ’n situasie sien.
57
Die natuur ... dis waar ek God die maklikste raakloop. Dis ’n wêreld wat
onaantasbaar behoort te bly. Ek raak aan niks. Ek het te veel respek vir die
wonder van die natuur. Dis soos ’n stukkie paradys met ’n onbeskryflike stilte
waarin jy net jou eie asemhaling en hartklop hoor.
Daar is soveel wonderwerke rondom jou. ’n Mens moet tyd maak om
mooi dinge te ervaar en te geniet. Positiwiteit is ’n keuse. Dankbaarheid is ’n
ingesteldheid, die mooiste eienskap. As ek een geskenk vir die wêreld kon gee
sou dit die vermoë wees om opreg die son op ander se rug te gun, en eerlik vir
ander alles wat wonderlik is toe te wens.
Ek bewonder my ouers. Hulle het soveel empatie vir mense, baie
sakevernuf en ’n wonderlike toekomsvisie. Hulle het my geleer geen
droom is te groot nie. God plant dit in jou hart vir ’n rede. Dit hang van jouself
af of jy dit moontlik gaan maak. As jy daarin glo en daarvoor leef, sal dit ’n
werklikheid word.
Ek glo die beste lê nog voor ... Dit sluit in reise na verre lande, om as
storieverteller - akteur, skrywer en vervaardiger aan te hou om films te maak
wat mense positief aanraak en trots maak op die stories wat in ons land gebore
word en die films wat in ons land gemaak word. En om deel te wees van
verhoogstukke wat groot gehore trek.
Natuurlik is die liefde nie uitgesluit nie en sal dit vir my die grootste
geskenk en voorreg wees om ook eendag ’n ma te wees en onvoorwaardelik te
kan liefhê soos wat ek onwrikbaar weet my ouers my het. Maar om bowenal
elke kosbare oomblik saam met my geliefdes te eer. Ek weet en is nou al
dankbaar dat Hy die meetsnoere vir my verder op my pad ook in lieflike plekke
sal laat val – soos Hy tot nou toe gedoen het. 58
Dunay Darren
Een manier waarop ek ’n bietjie
closure gekry het, was om ’n l-a-a-ang
brief vir hom te skryf, alles waaroor
ek bly én spyt was, en dit in sy kis te sit.
59
Liewe jy…
Jy bly altyd jou pa se prinses
Ek het die gelukkigste kinderjare beleef! En dis iets wat ek ook graag vir my
eie kinders wil gee. ’n Pa en ma wat regtig dáár is ... Dis seker hoekom ek
met ’n man getrou het wat so baie soos my eie pa is: hardwerkend, impulsief,
vrygewig, lief vir die bosveld ... En natuurlik is ek albei se prinses!
My pa ... Dit maak nie saak wie na hom toe gekom het nie, hy het altyd
gehelp, finansieel of op enige ander manier. Kurt is ook so.
Ongelukkig is daar iets wat my kinders se storieboek-gelukkige prentjie
gaan kort – ’n oupa. Want my pa is weg. Sy gesig sal nooit weer op ’n
familiefoto wees nie ... en ek mis hom so. Vir my is hy nog so híér – ek sukkel
om in die verlede tyd van hom te praat.
Maar in my kinderalbum is hy nog daar! Oral. Die 22 jaar op ons
kleinhoewe tussen Fourways en Lanseria, was soos ’n Heidi-storie. Sorgloos
– met baie diere. Ouma en Oupa het ook by ons gebly. Daar het ek fiets gery,
bokke gemelk, lammertjies grootgemaak, boom geklim, kleilat gegooi. Al was
ek ’n enigste kind, was ek nie alleen nie. Met tien honde, meer as ’n duisend
voëls, hoenders en ganse vir speelmaats, het ek oorgenoeg geselskap gehad.
Kleintyd was ek pal aan my pa se sy, maar deesdae loop ek die malls saam
met my ma plat. Eintlik is ek ’n daddy’s girl én ’n mommy’s girl. Dit is seker
maar wat gebeur wanneer jy die enigste kind is.
60
En toe word my pa siek. Sy emfiseem, sy dood, was een van my laagste
laagtepunte. Destyds het die dokters gesê hy gaan hoogstens nog twee jaar
lewe. Maar uiteindelik is hy sewe jaar gespaar. Dit was bittersoet. Jy waardeer
al die oomblikke saam, maar jy weet die tyd gaan kom. En elke oggend
wonder jy: Is dit vandag?
Al is ons dankbaar oor die ekstra tyd wat God hom vir ons geleen het, het
hy soveel pyn gehad. Dit was ’n emosionele roller coaster. Ek weet almal
moet eendag doodgaan, maar omdat dit in sy geval so naby en beslis was, het
die gedagte soos ’n swaard oor my kop gehang. Dis net geloof en vriende se
gebede wat jou daardeur kan help.
As enigste kind was ek nog altyd na aan my ma – amper soos beste
vriendinne. Met my pa se dood het ons nog nader aan mekaar gekom. En dan
is daar Kurt. Elke mens hanteer verlies anders en ek het nie geweet hoe hy sou
optree nie. Maar hy was fantasties. Onmiddellik ná my pa se dood het hy gesê
my ma moet eers na ons toe kom. Min mans sal dit doen.
As iemand doodgaan, sê mense maklik: “Wees sterk.” Hoe op aarde kan
hulle dit vir jou sê? Nou?! wonder jy ... Aan die ander kant is daar mense
wat jou aanmoedig: “Treur, huil, moenie probeer sterk wees nie.” Hierdie
“toestemming” is kosbaar, want die enigste ding wat seerder is as jou pyn, is
om dit te probeer wegsteek.
Daardie eerstes bly maar erg. ’n Week en ’n half na sy dood was dit
Vadersdag. Toe my eerste verjaarsdag en daarna die eerste Kersfees sonder
hom.
Sy spesiale naam vir my was Jakkals. Naby-mense in my lewe weet
hiervan, maar as hulle nou die naam gebruik, maak dit my seer, want dit was
my en my pa se ding. Ek mis hom. Selfs sy stille teenwoordigheid in daardie
laaste ruk toe hy so siek was.
61
Een manier waarop ek ’n bietjie closure gekry het, was om ’n l-a-a-ang
brief vir hom te skryf, alles waaroor ek bly én spyt was, en dit in sy kis te sit.
My ma het dit ook gedoen. Dit help baie om ’n mate van finaliteit te gee.
Met ons troue het ons vir elke paartjie ’n luglantern gegee waarop hulle
’n wens kon skryf voor dit in die lug opgestuur is. Op my pa se begrafnis
was daar ook een waarop al die familielede vinnig iets kon skryf. Ons het dit
opgestuur as simbool van ons laaste wense aan hom.
Ek glo onwrikbaar in God, my familie en in liefde. Jy moet jou familie
altyd na aan jou hart hou, want hulle sal altyd daar wees vir jou. Niks is
sekerder as dit nie.
Ek hoop ek kan eendag net soveel liefde vir my kinders gee ... En noudat
ek my meestersgraad in sielkunde voltooi het, kan ek begin werk aan my groot
droom om kinders te help deur spelterapie en traumaberading.
’n Kankerlyertjie, Jayden (toe ses jaar oud), se glimlag bly my altyd by. Ek
het hom so twee of drie keer gesien voor hy oorlede is. Een middag het ek vir
hom speelgoed en ’n foto van Kurt geneem. Sy lyfie was so seer, maar hy het
niks gewys nie – net met sy karretjie op die bed gespeel. Vir ’n paar minute
kon hy net kind wees. Die innerlike krag wat uit daardie mensie gestraal het,
het my laat besef dat niks vanselfsprekend is nie, en dat ek vir elke oomblik
moet lééf.
Eendag, nadat daar nog baie water in die see geloop het, gaan ek ’n foto
van my en Kurt, iewers rustig in die bosveld, neem: Ons twee, met baie
kinders en baie honde! Vir ons album.
62
Elizma Theron
Die liefde kom in baie gedaantes.
Soms is dit ’n allesoorheersende,
passievolle emosie; soms is dit net
’n stille wete dat jou hart sy lê gekry het.
63
Liewe jy...
Die lewe is nes ’n wipplank – op én af
Ek leef – soms sweef – in die wolke, met my voete stewig op die grond.
Die lewe se op en af, lief en leed hou dit so. Soveel van my drome het waar
geword. Ek wou altyd graag sing, en op 23 is my wens om ’n sangsensasie te
word vervul. Daarna kon ek ’n draai op die kleinskerm as sepiester maak ... en
boonop ’n filmster ook word! Ek het nie eens sover as die silwerdoek gedink
nie.
En dan ... die hoogtepunt van my lewe: Nico. ’n Vriendskap wat in liefde
ontwikkel het – nie ’n halsoorkop, chemiese aantrekking nie, maar ’n diep
waarheid wat geleidelik ontvou het. Die liefde kom in baie gedaantes. Soms is
dit ’n allesoorheersende, passievolle emosie; soms verander ’n vriendskap in ’n
dieper konneksie en soms is dit net ’n stille wete dat jou hart sy lê gekry het.
Nico se pa het op ’n keer gesê: “’n Huwelik is altyd werk. Die liefde
stagneer nooit. Dit neem óf af, óf dit neem toe, en dit is ’n paartjie se plig om
die liefde te laat toeneem!”
Dis wat ek nou wil doen – saam met Nico altyd aanhou werk aan ons
liefde. Na die eerste enetjie hoop ek ons mag eendag ’n string kindertjies hê,
beste vriende bly en saam baie sakke sout opeet. In die op- én aftye.
Ek kan nie vir God genoeg dankie sê nie. Ek het soveel meer gekry as
waarvoor ek gevra het. Maar ek het self eintlik niks met my sukses te doen nie.
64
Dis nie ek wat so oulik is nie. Daar is duisende meisies wat beter as ek sing
en toneelspeel, maar Hy het vir my die geleentheid gegee. Ek herinner myself
altyd daaraan.
In elkeen se lewe is daar hoogte- en laagtepunte. Ook in myne. Niemand
is ’n uitsondering nie. Daar is soveel besonderse mense op aarde wat my
inspireer. Een wat my bybly, is ’n meisie van Mexiko. Oprah het een aand
met haar gepraat. Sy was ongelooflik mooi, met lang donker hare ... voor die
motorongeluk.
’n Dronkbestuurder het teen haar vasgery en haar motor het aan die brand
geslaan. Sy het brandwonde oor haar hele lyf opgedoen, in haar gesig ook.
Haar pa moes ophou werk omdat hy omtrent elke tien minute oogdruppels in
haar oë moes gooi, want selfs haar ooglede het weggebrand. Maar sy het steeds
soveel lewensvreugde. Sy het vertel hoe sy haarself elke dag vyf minute gun
om te huil – sy stel selfs haar wekker! Dan huil sy klaar en gaan aan. Sy bedryf
deesdae ook ’n suksesvolle besigheid oor die internet. Sodra ek oor iets wil
kla, dink ek aan haar. Sy kies om eerder op vreugdevolle oomblikke te fokus.
My kinderlewe was storieboek-lekker. Ma en Pa is albei positiewe mense.
Ek het in ’n huis grootgeword waar ons leuse “Look at the bright side” was.
My ma en pa is ’n goeie span. En steeds verlief.
Ek wens ek kon sê ja, alles was net lekker. Maar daar het slegte goed ook
gebeur. My eerste skooljaar was fantasties. Die juffrou het ons geprys en
aangemoedig. Sy was baie goed vir my. In my tweede skooljaar het ons na ’n
ander dorp getrek. En die juffrou daar het my letterlik aangerand. Fisiek. Sy
het my van my stoel af teen die muur gegooi ... en ook geskop. Hoekom, weet
ek nie. Maar so iets knak ’n kind.
Daarna het ek in my dop gekruip en nooit ’n woord gesê nie. Die
onderwysers het altyd gesê hulle merk my boeke, maar hulle weet nie ek is
65
daar nie. Eers in graad 6 het ek weer uit die skadu getree. Ek het uit my eie
gesê dat ek aan ’n sangkompetisie wou deelneem. En met “A Whole New
World” het ek toe sommer gewen ook!
Maar toe kruip ek nog nie heeltemal uit my beskermende dop nie! Ek
kon steeds net op die verhoog “praat”. Eers toe ek in graad 8 oorsee is vir
modelwerk het ek besef as ek nie nou my mond oopmaak nie, gaan ek
swaarkry! So, op 14, in die vreemde, het ek skielik gesê: “Nee, jammer, ek trek
nie so kaal aan nie.”
Ek weet dat God na my kyk – oral en altyd. Nie net oor die suksesse in my
lewe nie. Hy het ons ook eenkeer bewaar tydens ’n motorkaping. Drie weke
later is ’n vrou 200 meter verder doodgeskiet. Dit was dalk dieselfde mense
wat gesorg het dat ons presies daar ’n pap band kry en noodgedwonge moes
uitklim om die band om te ruil. Een oomblik is die geweer op my gerig – al
waaraan ek kon dink, is dat ek my ouers so graag weer sou wou sien – en die
volgende oomblik was die boewe weg. Dit was so deurmekaar. En tog ook so
presies. God het ons daardie dag gered.
Deesdae is pienk pienker en groen groener ... Veral die klein goedjies raak
belangriker. Om meer gereeld met jou ma te praat, om iemand se verjaarsdag
te onthou. Ek het nie skielik ’n bucket list nie. Die groot drome was nog altyd
daar. En ek het nog altyd geweet waarvan ek hou en waarvoor ek my tyd wil
gebruik.
Wat ek wel deur alles gevind het, is die kern van my siel. Elke hoogte- en
laagtepunt wat ek beleef het, het van my ’n ryk mens gemaak. En alles wat in
die toekoms wag, gaan hierdie kleurryke prentjie selfs verder afrond. Ek glo
dit; ek wéét dit. En ek leef dit nie meer alleen nie ...
66
Elma Postma
Wees in die oomblik. Moenie te ver
vooruit in die toekoms, of te
ver terug in die verlede leef nie –
neem net die “nou” in en geniet dit.
67
Liewe jy...
My hart lê waar ek nou is
Dit is so lekker om die onsekerhede van jou jongmeisiejare finaal agter te
laat. Al daardie vrae wat by jou spook: Is ek goed genoeg? Regtig suksesvol?
Op die plek waar ek moet wees? Het ek bereik wat ek moes? Hierdie issues
vervaag. Jy kry perspektief en weet: Die lewe gaan oor véél meer as rykdom,
beroepsukses of die regte gewig of voorkoms. Jy maak vrede met jouself.
En veral, waardeer jou mense en jou land.
Om jou goeie oordeel te kan vertrou word beslis met ouderdom geslyp.
Dit is my leuse: Wees in die oomblik teenwoordig. Moenie te ver vooruit in
die toekoms, of te ver terug in die verlede leef nie – neem net die “nou” in en
geniet dit.
Hierdie ingesteldheid laat my beslis fyner op my instink fokus en bloot
gelukkig wees met wie en wat ek vandag is. Dit raak makliker om jou innerlike
stem te hoor, te weet wie jy kan vertrou en wie nie. Soos die keer toe ek saam
met twee vreemde mans (samaritane of skurke, wie weet?) gery het nadat my
kar gebreek het.
Verstom staar ek na my selfoon se skermpie – geen opvangs nie. Ek is
gestrand, in die middel van nêrens, halfpad Johannesburg toe ... en agter my
stop ’n bakkie. Drie mans klim uit – twee jong ouens en ’n ouer man met
’n baard. Soos hulle na my motor toe stap, woer-woer ’n magdom gedagtes
68
deur my kop. Daardie groot, swart voorwerp in die pad ... was dit ’n stuk
rubber of swart plastiek? Ek moes in ’n breukdeel van ’n sekonde besluit of
ek bo-oor gaan ry of uitswenk. Die N3 is besig en die kans goed dat ek voor
’n vragmotor kon inswaai. Al genade was om aan te hou ry en te hoop vir die
beste.
Daar was ’n klipharde slag, die motor se liggies het begin flits en die alarm
het afgaan. Bolle en bolle rook het by die enjinkap uitgeborrel en die kar het
onmiddellik krag verloor.
Die olie stroom by die onderstel uit. Hier staan ek langs die pad uitgelewer
aan die genade van die drie mans wat nou na my aangestap kom.
Die een sê: “Jy kan nie verder ry nie. Klim by ons in die bakkie, dan vat
ons jou na die naaste garage toe.” Nou klop my hart amper paniekerig. Drie
wildvreemde mans en ek, vrou-alleen. In Suid-Afrika. Verkragting, moord,
diefstal ... is dit dalk vandag ook my lot?
“Het een van julle nie ’n foon nie?” waag ek. Die oudste bied sy selfoon
aan, maar ook dié foon het geen sein nie. Ek klim in die bakkie en hoop vir die
beste. “Oukei, julle ouens, my naam is Elma. Ek moet julle vandag vertrou en
vra mooi dat julle my veilig iewers aflaai. Dankie dat julle my help,” hoor ek
myself sê voor ek my laptop en handsak gryp, die motor sluit en soen, en in
die bakkie klim.
En voor ek my kom kry draai Petrus af by die eerste stop op Nottingham
Road. Tot reg voor die deur van die garage, soos ’n beskermengel. Toe ons
stilhou, stroom die trane oor my wange. Ek omhels sommer die man wat my
uit die bakkie help klim, en keer my beursie om in hulle hande. Belaglik, ja,
maar dis al manier waaraan ek kan dink om my dankbaarheid te wys. Hulle het
my beslis nie herken nie; vir hulle was ek net ’n vrou in nood langs die pad. En
hulle het gedoen wat goeie mense doen – gehelp.
69
Hulle bakkie trek weg en ek besef dat ek van skone bewerasie vergeet
het om hulle besonderhede te kry sodat ek later kan bel en dankie sê. By die
garage is die bestuurders behulpsaam. Een bied sy foon aan sodat ek kan bel
vir insleephulp en die ander een voer my sterk koffie.
Toe ek buite op ’n bankie gaan sit, stap ’n man nader. “Jy lyk nie oukei
nie,” sê hy. Tranerig antwoord ek: “Ek is nie oukei nie.” Hy is die plaaslike
polisieman en bied aan om met ’n vriend by my motor te gaan wag tot hulp
opdaag.
Eind goed, als goed. Toe ek daardie aand my voordeur oopsluit, is dit
negeuur. Ek glimlag innig oor my góéie mede-Suid-Afrikaners, oorweldig deur
die goedheid van die mans wat my deur hierdie dag beskerm het. Dit gee my
nuwe hoop vir hierdie land waaroor baie van ons so negatief voel.
Waarom nie eerder positiewe oplossings soek vir ons probleme nie, as om
te bly vasklou aan die verlede? Ons is mense wat mekaar tog in die oë kan kyk,
oor kultuurgrense heen kan saamwerk en by mekaar kan leer.
Dit is vir my belangriker om hier te wees, by die mense wat ek liefhet, as
om roem te gaan soek in ’n ander land. ’n Paar jaar gelede was ek ’n paar weke
lank in die VSA om te kyk hoe dinge daar voel. Hoe lyk die bedryf aan die
ander kant van die glansskerm? Maar ná baie kopkrap en heelwat geleenthede
in ons land, het ek besluit om my loopbaan hier te ontgin.
Ons Suid-Afrikaners is gewoond daaraan om survivors te wees. Ons is
sterk en vriendelik, vol leeuemoed. Ek is nie die tipe mens wat vir myself ’n
vyfjaarplan uitdink nie. Ek gaan waar die wind my waai en die paaie my lei.
Die lewe gaan oor waar jy op hierdie oomblik is.
70
Helené Bester
Die genesingsproses ná ’n baba
se dood is langsaam. Maar ek besef iets
goeds moet hieruit voortspruit. Ek moet begin
praat, opstaan, vir mense hoop gee.
71
Liewe jy...
Liefde bring balans in jou lewe
’n Vrou soek so maklik troos in kos of allerlei ander plekke. Maar weet jy, net
liefde bring balans. Dit kom uit my hart en eie ondervinding. My man se liefde
en die feit dat hy gaande is oor my, het my gehelp om myself te leer liefkry.
Sorg ook dat God jou middelpunt is. As jy daarby geseën is met ’n familie
wat jou ondersteun, kan jy net elke dag dankie sê. Liefde – van jou Skepper,
jou hartsmense en jouself – dit sorg vir balans en rustigheid in jou lewe, ’n
sterk en gesonde selfbeeld. Jy vind ’n veilige hawe in jouself, ’n holte vir jou
voet.
Balans is vir baie kunstenaars ’n vreemde konsep. Werk dit dan nie juis
teen kreatiwiteit nie? Doof dit nie die skeppende vonkies heeltemal uit nie?
Wel, vir hierdie kunstenaar werk dit! Bid hard daarvoor; beplan selfs jou dag
volgens ’n rooster. Maak jou huis jou toevlugsoord. Dis lekker wanneer dinge
om jou in ’n malhuis ontaard, maar jy steeds die voorreg het om terug te kan
kom na ’n stil en rustige tuiste. Dié plek waar jy kan speel, liefhê, lag en net
jouself kan wees. Jy herlaai weer jou energie en kry jou fokus terug.
Liefde is sommer ook die beste resep vir ’n mooi figuur. Jy ontwikkel
vanself gesonder eetpatrone, want jy is gelukkig en wil jou beste “jy” vir
daardie man in jou lewe wees. Klein dingetjies verander, en dit kring wyd uit.
Jy eet stadiger, want dis lekker om saam met hom oor ’n bord kos te kuier. As
72
hy ’n gesonde leefstyl handhaaf, inspireer dit jou ook. Dis natuurlik gaaf as hy
dit nie op jou afdwing nie!
Op skool was ek die langste meisie in die klas en ek het my pa se groot
beenstruktuur geërf – dit het my laat “uitstaan”. Snaaks hoe mense verby jou
kyk wanneer jy groter is. En dis so verkeerd.
Een goeie ding, ek verstaan hoe mense oor hulle lyf en bou voel. Juis
daarom sal ek nooit iemand wat mollig is minderwaardig laat voel nie. Want
ek was self daar. Die vet om jou lyf maak nie van jou ’n swakkeling nie. Dis
verkeerd om teenoor mense te diskrimineer op grond van hoe hulle lyk.
Selfs al beskryf mense my nou as “beeldskoon en menige man se droom”,
dink ek nooit so oor myself nie. Ek onthou die pad waarlangs ek gekom
het. Met ’n ma wat natuurlikheid aangemoedig het, tel dinge soos uiterlike
skoonheid ook nie soveel punte nie. Hoe minder ’n mens hoef op te tof, hoe
beter.
Om in die vermaaklikheidsbedryf ’n gesonde leefstyl te handhaaf, is geen
grap nie. Jy voel heeltyd onder druk. Dis so moeilik om met jouself tevrede te
wees. Mense leer swak gewoontes aan en soek vervulling in verkeerde dinge
soos te veel eet, rook of drink.
Dis seker ’n clichè, maar ’n gesonde liggaam huisves steeds ’n gesonde
gees. Met ’n pa wat ’n kranige Comrades-atleet was, het ek daardie les sommer
as kind geleer. Ek het dit gesién. Daarby help ’n Comrades-oefenprogram vir
’n sellulietlose lyf. Om te oefen is lekker en bevredigend. Die endorfiene wat
vrygestel word, is wonderlik en dis ’n bonus dat my klere losser sit, hoewel
maer word nooit jou fokus moet wees nie.
Die Comrades leer jou soveel kosbare lewenslesse. Deur die wedloop
ervaar jy tien miljoen emosies. Die gevoel wanneer jy die stadion inhardloop
met al daardie mense wat jou ondersteun en aanmoedig, is onbeskryflik. Daar
73
is ’n ongelooflike samehorigheid en almal streef na dieselfde doel. Swart,
wit, ryk, arm. Sekere dinge raak nietig. Jy kry soveel meer vertroue in jou
vermoëns.
Selfs al neem ek nie meer aan die Comrades deel nie – behou ek daardie
fokus, dryfkrag en gevoel van éénheid.
Al hierdie oefenlopies in jou lewe maak jou sterk vir wat ook al voorlê.
Natuurlik kan jy jou nie volkome voorberei vir daardie onverwagse slaggate
waarin jy val en jouself erg beseer nie. Soos om ’n baba op 33 weke te
verloor ... Jou eie innerlike krag laat jou regop struikel, maar dis die liefde
van jou hartsmense, veral die salwende liefde van God, wat jou verder lei.
Ná sulke diep wonde wil jy vir altyd op Hom fokus. Dít wat ek voorheen as
vanselfsprekend aanvaar het, het skielik dít begin word waarvoor ek nou bid.
Soos om nie die res van my lewe ’n bloedverdunningsmiddel te moet drink
nie. En dat my hare sal ophou uitval juis as gevolg van hierdie middel. Of dat
ons eendag ’n kindjie of twee sal kan hê ...
Die genesingsproses ná ’n baba se dood is langsaam. Maar ek besef ook
geleidelik, treetjie vir treetjie, dat daar ’n rede vir hierdie hartseer is. Iets goeds
moet hieruit voortspruit. Ek moet begin praat, opstaan en vir mense hoop gee.
Om uit my pyn op te staan en weer te sing ... Dis hoe dapperheid gespel
word. So het ek weer sterk en gesond geword, en uit my pyn gegroei . Maar
meer as enigiets – ek het nader aan my Skepper gegroei. Vandag staan ek ander
ma’s met stilgeboortes in geloof by.
En dit word my getuienis: Deur Christus wat my krag gee, is ek ’n
inspirasie. En klein Anina ... sy is my heldin, want sy het my die Lig laat sien.
74
Ilse Roos
Moenie bang wees om teruggesnoei
te word deur die lewe nie. Jy kom
altyd sterker anderkant uit. Veiligheid
is nie ’n aanwins vir kreatiwiteit nie.
75
Liewe jy...
Groei en ontluik soos ’n roos
Wanneer ’n roos na jou vernoem word, leef jy vir ewig voort. Elke keer as
nog ’n saadjie ontkiem, blom jou naam. Rose is adellik, sensueel, vroulik,
inspirerend. Dis spesiaal en raak ’n mens diep emosioneel. Maar elke vrou kan
self al hierdie eienskappe kweek.
Niemand is perfek nie. Jy hoef dit ook nie te wees nie! Hê meer genade met
jouself en wie jy is. Jy word dalk emosioneel afgetakel, maar dit beteken nie jy
verdien dit nie. Jy het miskien nie die nommer 10-lyfie met die golwende hare
en al wat jy begeer nie. Maar dit maak jou beslis nie minder volbloedvrou nie.
Jy het waarskynlik nie ’n roos wat na jou vernoem is nie, maar wat ook al jou
naam ... jy is volmaak gemaak.
Mooi is ’n vreemde konsep. Soms hou jy van jouself en ander kere voel jy
so slightly out of body, asof iets nie lekker werk nie ... gewoonlik as jou kop op
’n ander plek is. Dis lekker as jy meestal baie gemaklik met jou eie lyf voel en
vrede het.
En as daardie vrede sukkel om te kom, jaag jy die stemmetjie in jou
agterkop weg deur te sê: “Ek is gesond, soepel en ’n luscious vrou!” Ek het
nie ’n prentjie in my kop van hoe ek veronderstel is om te lyk nie. Geluk en
gesondheid is vir my baie belangriker as uiterlike skoonheid.
76
“As jy met elf rose voor ’n spieël staan, sal jy twaalf van die mooiste
dinge in die wêreld sien.” – Anoniem
’n Meisie begin as ’n roosknop, groei en ontluik, word later volkome vrou.
Moenie bang wees om teruggesnoei te word deur die lewe nie. Jy kom altyd
sterker anderkant uit. Veiligheid is nie altyd ’n aanwins vir kreatiwiteit nie.
Wanneer jy seerkry, moet jy vra hoekom dit gebeur het en dan weer uitstoot.
Agterna kies jy versigtiger en fyner.
“Sommige mense is altyd iesegrimmig omdat rose dorings het. Ek
is dankbaar daarvoor dat dorings rose het.” – Alphonse Karr, Franse
skrywer
Dankbaarheid is vir my om aan twee gelukkige en gesonde kinders, te kon
lewe skenk. En dat my liggaam ook gelukkig en gesond is. ’n Ekstra drie kilo’s
versag my gesig ... Daar is belangriker dinge as skoonheid en eie geluk.
My kinders rol my soos rivierklippies. Al my punte word sagter. Hulle maal
my skerp rande plat. Hulle leer my geduld en dit is iets waarvan ek nie emmers
vol het nie! Dis nie moontlik om alles altyd lank vooruit en perfek te beplan
nie. Ek moet dag vir dag leef en dinge vat soos dit kom. Daardie lewensles leer
jy die heel beste by ’n kind. Aanvaar en respekteer jou kind as jou leermeester.
Om my kinders te kon borsvoed en die eerste klompie jare tuis by hulle te
wees, het my ’n diep verbintenis met hulle gegee. Lateraan het die gehelp dat
my man ’n tuisblypa is, en ’n ewe groot rol in ons kinders se lewe speel. Dit
het my hande losgemaak om ook ’n lewe buite die huis voort te sit. Vroue wat
dit hoor, aanbid hom, sommige mans kyk hom snaaks aan, maar dis weereens
’n sprekende voorbeeld van ’n gee-en-neem-verhouding. Waarom toelaat dat
77
stereotipes jou rol definieer en inkleur?
Met die aanvanklike oorskakeling van rolle moes ek nogal soms op my
tande byt as hy dinge anders doen as wat ek sou. Maar uiteindelik het ek geleer
om hom sy ruimte te gee, want dis nou sy kans om dinge te doen soos hy
goeddink. Liefde is ’n kwessie van gee én ontvang.
Party vroue het dit nodig om te werk, al is hulle ongelooflik lief vir hulle
kinders. Ook ek. Die jare saam met hulle by die huis was wonderlik. Maar later
het ek klippe gekou omdat ek nie ’n kreatiewe uitlaatklep het nie. Mosaïek was
hier ’n uitvlug.
As tuisblyvrou was ek voluit ma. Ek en die kinders het elke dag iets lekkers
probeer doen. En dis wonderlik – ons het soveel kiekies saam in ons onthoualbum. Maar daar is ook ’n lewe buite die huis.
Hier is my persoonlike ma-kind-leuse. Dalk help dit ander ma’s: “Ek is
daar om die beste ma te wees wat ek kan wees. Want heel eerste is ek my
kinders se ma en dan hulle vriendin. My werk is nie om te please nie.” Tog
weet die seuns hulle kan met my praat oor enigiets onder die son. Selfs al is
dit wat hulle gedoen het verkeerd en stem ek nie noodwendig met hulle saam
nie ... Ek sal ’n klankbord wees en probeer verstaan binne die konteks van die
situasie waarin hulle was.
Ek maak ook foute. Dan verduidelik ek aan die kinders ek is ook net ’n
mens, ’n werkende ma en ’n vrou vir my man. Die foute wat jy maak, is wat
van jou ’n méns maak! Jy voel nie noodwendig elke dag lekker nie. Dan is dit
oukei as jy alleen wil wees. Jy hoef nie heeltyd chirpy te wees nie. Jy hoef nie
druk op jouself te sit om altyd perfek te wees nie, maar jy moet mense om jou
in ag neem. Spiritualiteit lê in stilte, in vrede met wat jy het waar jy ook al in
jou lewe is. Mag jy altyd rustigheid en vredigheid uitstraal en aansteek.
78
Jacinda Louw-Schutte
Die traumas was tog
ook ’n seën. Dit het my
die mens gemaak
wat ek vandag is.
79
Liewe jy...
Trauma maak jou sterk
People pleaser – so was ek bykans my hele lewe lank. My deelname aan die
eerste SA realiteitstelevisie-seisoen het hierdie eienskap tot ’n punt gedryf.
Ek was so verward oor wie ek regtig was. My langtermynverhouding met ’n
terminaal siek ou was die kersie op die koek.
José is in die eerste jaar van ons verhouding met ’n gewas op sy brein
gediagnoseer. Gou het ek van meisie tot “verpleegster” verander. Sy lewe het
mý lewe geword. In my hart het ek geweet ek stap maar net weer dieselfde ou
paadjie – om iets vir iemand te probeer doen en wees, ten koste van myself.
Die realiteitsreeks, waarin ek naaswenner was, was ’n broodnodige
wegkomkans ... om vir goed weg te breek uit die patroon waarin ek al soveel
jare lank vasgevang was. Vir dertig dae kon ek in stilte oor my lewe besin;
objektief kyk na my keuses tot dusver.
Vir die eerste keer kon ek die duidelike binnestemmetjie hoor wat my nou
al so lank en dringend probeer waarsku het: “Jy stap die verkeerde pad. Breek
weg.” God het dit al baie lank vir my probeer sê, maar ek het net nooit stil
genoeg geraak om dit te hoor nie.
Ek het teruggekom huis toe en die verhouding verbreek – en daarmee
saam ook die patroon van people pleaser speel; iets wat my al van kleins af
gedefinieer het. Daardie ding om altyd ander tevrede te stel het wortelgeskiet
80
in ’n trippelverdiepinghuis vol weelde in die suide van Johannesburg. Maar
een ding het kortgekom – ’n normale gesinslewe.
My pa was ’n alkoholis. ’n Goeie man, hoogs suksesvol ... maar totaal
onbetrokke in ons lewe. Kleintyd al het ek besef iets is anders in ons huis. My
ma wou nooit gehad het ons moes maatjies oornooi nie. Ek het agtergekom
die probleem lê in sy kroeg. Ek sou sy Mainstay-bottels uitgooi en vol water
maak. Later het hy slim geword en bier onder die sitkamerbank vir my probeer
wegsteek. Maar ek het dít ook uitgesnuffel, leeg gegooi en vol water getap.
Ek wou die probleem fix – geglo ek kon. Verder het ek my bes gedoen om
die perfekte kind te wees. Maar niks het gehelp nie. My pa het bly drink.
Een nag het ek wakker geword en gehoor hoe die borde onder in die
kombuis breek. Ek het aspris kliphard in my kamer begin huil. My ma het
kom vra wat makeer. Al wat ek kon uitkry was die een begeerte wat in my hart
gebrand het: “Hóékom kan ons nie net ’n normale gesin wees nie?”
Daardie aand het ek geleer dit help nie om oor jou probleme te huil, te
tob of te teem nie. Dit gaan niks verander nie. Jy kan ook nie ander mense se
issues probeer oplos nie. Werk eerder aan jou eie probleme.
My pa het wel, ná drie probeerslae in rehabilitasie, opgehou drink.
Die drank was nou weg, maar niks het regtig verander nie. Hy was steeds
onbetrokke in ons lewe.
Selfs érger as my pa se drankprobleem, en latere lewerkanker, was my
broer se dwelmstryd. Verkeerde vriende het Jaco in die jaar ná matriek – nadat
my pa reeds gerehabiliteer was – aan dwelms voorgestel. Eers Ecstasy, en
later kokaïen, heroïen en al die ander goed. Die eerste keer toe hy ge-OD
het (’n oormaat dwelms ingeneem het), het ons hom ná ’n lang gesukkel in
Johannesburg Algemeen opgespoor. ’n Paar jaar later hét hy opgehou. Maar
daardie een “one last time” wás toe ongelukkig sy laaste keer.
81
Ek het myself lank daaroor verwyt. Ons het gaan uiteet en sou almal
saamry, maar kon nie vir Jaco wag nie. Hy het ons by die restaurant gekry,
maar duidelik eers ’n paar ander draaie gery. Hy het vreeslik gebewe,
onsamehangend gepraat.
Ons is later die aand huis toe. Die volgende oggend vroeg het my ma
histeries gegil: “Jacinda, kom help!” Jaco het op sy rug op die bed gelê, die lig
en TV nog aan. Hy het so normaal gelyk ... maar dit was reeds te laat.
’n Oormaat kokaïen.
My ma het die kamerdeur toegetrek en agter haar gesluit. ’n Hartseer
hoofstuk was verby. My broer se dood het my pa gebreek. Hy is ’n maand later
oorlede. Waarskynlik meer oor Jaco as oor sy lewerkanker.
Ek het na ons gebroke gesin gekyk, en dit het my aan twee spanne laat
dink: Nou het my broer my pa gehad; en ek het my ma. So, ons is oukei.
Ek het die dubbeltragedie verwerk. Op my manier. In die begin was ek
baie kwaai en aggressief, teenoor my ma, die lewe ... almal. Maar met tyd kom
perspektief. Elkeen hanteer die lewe se uitklophoue anders. Die grootste en
beste les wat ek in terapie geleer het, was om te besef waar my skuldgevoel
stop. Om te weet waar om die lyn te trek. To know where your guilt ends.
Die traumas was tog ook ’n seën. Dit het my die mens gemaak wat ek
vandag is – ’n sterk persoon wat streef na goeie waardes, haar sê kan sê,
met respek vir ander se keuses. Iemand wat nie huil oor probleme nie, maar
eerder soek na werkbare oplossings. Wat nie meer ander mense, ten koste van
haarself, probeer red of tevrede stel nie. Wat objektief na dinge kyk en haarself
nie deur skuldgevoel laat opslurp nie.
My geloof is nou deel van my soos asemhaal. Ek praat daagliks met God,
en leer ook my twee dogtertjies om by “Liewe Jesus” aan te klop vir hulp en
antwoorde.
82
Jana du Plessis
Wie is jy om jou oë toe te maak
vir daardie pakkie nood voor jou
deur? As dit daar lê, is jy toegerus
om die nood tot teen jou hart te trek.
83
Liewe jy...
Jý is God se hoop vir die wêreld
Wat maak jý met die pakkie vol nood wat voor jou deur lê as jy oopmaak?
Maak jy weer die deur toe, bel jy iemand of tel jy daardie pakkie op en neem
dit in jou huis in? Moenie eers één oomblik huiwer as so ’n kans op jou
voorstoep lê nie! Tel daardie pakkie op al weet jy self ook wat die woord
“swaarkry” beteken. As jy jou hande uitsteek, besef jy gou om ’n stukkie van
jouself te offer maak jou ’n skatryk mens.
In 2006 is ’n aggressiewe kanker in my beenweefsel en bloedvate
ontdek. My regterbeen moes geamputeer word. Die mediese uitspraak was
verdoemend. Tog het my gees en liggaam alle verwagtings oortref. Vandag is
ek ’n Kansa Hero of Hope. Ek kan ander help wat deur dieselfde donker tyd
gaan, want ek was dáár. Ek wéét.
Waar ek gelê en wag het om by die teater ingestoot te word, het die dokter,
om ’n woord te sê, drie swart kruise op my been getrek. Hy het omgedraai en
weggeloop. Dit was die dag toe my been geamputeer is.
Hoe het my lewe nie in ’n oogwink verander nie! Net ’n paar dae vantevore
was alles nog perfek. Ons besigheid was geseën, ek kon bedank uit die
onderwys om ons babadogtertjie, Zandri, groot te maak. En ek kon weer my
passie vir sport uitleef deur vir die Vrystaat netbal te speel. God het egter ander
planne vir my gehad.
84
As topfiks, gesonde 26-jarige vrou is ek hospitaal toe vir ’n klein operasie
as gevolg van ’n sportbesering. Ek sou daar uitkom met ’n skokkende
diagnose: Hierdie pasiënt het ’n baie skaars en aggressiewe kanker in die
beenweefsel en bloedvate. Haar regterbeen moet geamputeer word. Sy sal
waarskynlik nie haar dogtertjie se eerste verjaarsdag saam met haar vier nie.
Die gesin sal in elk geval ook nie nog kinders kan hê nie.
Daardie oggend voor die teater het ek onbedaarlik begin huil en vir my
man, Ian, gesê: “Ek gaan nie dieselfde mens hier uitkom as wat ek ingaan nie.”
Sy antwoord was kort en klaar: “Jy gaan dalk nie dieselfde lyk nie, maar jy
gaan steeds Jana wees en Satan gaan nie jou joy hierdeur kom steel nie.”
Op daardie wrede oomblik het ek ’n visioen gekry van hoe Jesus met sy
kruis stap. Hy het geweet wat vir Hom wag. Maar Hy moes daardeur gaan,
want God wou Hom gebruik. Ek het toe met ’n rustigheid vir Ian gesê ek moet
hierdeur gaan, want God wil mý gebruik. En net daar, voor ek in is teater toe,
het ek ’n belofte aan God gemaak dat ek hierdie situasie tot uitbreiding van sy
koninkryk sal gebruik.
God se wonderwerke het begin, een vir een, onverklaarbaar vir die nugter
logika van die mediese wetenskap. Die kanker het nie versprei nie. Ja, ek het
my been verloor, maar ek het bly leef. En ek moes van voor af leer loop en
motor bestuur. Die chemo het my so siek gemaak dat ek nie my kop kon optel
nie. Maar elke keer dat Ian vir Zandri hospitaal toe gebring het en daardie pap
babatjie lê in my arms, het ek net weer besef waarvoor ek veg.
Drie jaar later, op die dag van my laaste chemo, is ons tweede baba, ’n
seuntjie, gebore – nog ’n wonderwerk! En toe, selfs met voorbehoedmiddels,
het ek sowaar weer swanger geraak.
Ek besef vandag ek het twee wonderwerkies. Die derde enetjie was sy
mamma se lewensreddertjie, want deur die swangerskap het hulle vasgestel
85
daar is metastase van die kanker in my longe. Ek en Ian moes die moeilikste
ding nog ooit in ons lewe doen. Ons het ingestem om ’n volkome gesonde
babatjie op tien weke te laat aborteer om my lewe te red sodat ek daar kan
wees vir my twee ander kinders.
Ná die kanker in my longe gekry is, moes ek ’n ingrypende operasie
ondergaan, waar net drie van die agt kolle uitgesny kon word – die laaste vyf
het verdwyn! Weggebid deur mense wat by die hospitaal se ingang laer getrek
het. Wat deur die nag wekkers gestel het sodat elkeen om die beurt ’n uur lank
vir my kan bid. Wat fondsinsamelings gereël het. En wat my steeds elke dag
behandel soos die Jana wat hulle lank terug leer ken het.
Dit was ’n emosionele sowel as ’n finansiële stryd. Die mediese onkoste
was ’n berg waaroor ons moes klim. Maar as ek terugkyk oor die afgelope
klompie jare, besef ek hoeveel groei daar in al die seer en swaarkry was. Ek
waardeer elke kosbare tydjie en koester elke geleentheid wat ons as gesin saam
het. Elke dag is ’n spesiale geskenk uit sy hand.
Wie is jy om terug te staan en jou oë toe te maak vir daardie pakkie nood
voor jou deur? Want as dit daar lê, is jy reeds bekwaam genoeg om die nood
tot teen jou hart te trek. Dan is jy reeds op die een of ander manier toegerus
om die regte besluit te neem. Jy kan jou seer en struikelblokke gebruik as
’n katalisator om die wiel van goedheid aan die rol te sit – soos my lewe
inderdaad bewys het.
Daar is soveel vroue wie se nalatenskap groot en lewensveranderend is.
Dis hoe ek wil hê myne ook moet wees – wat ook al op my pad kom.
86
Karen Botha
Gun jouself die voorreg om te
huil as jou hart seer is en te rus
as jy moeg is, want dis al
hoe jy weer beter gaan voel.
87
Liewe jy...
Geloof, hoop en liefde gee jou krag
Geloof, hoop en liefde gee my krag om elke dag te vat soos dit kom.
Daarsonder kan jy nie lewe nie. En dis al hoe ek dit regkry om steeds te straal
en gelukkig te wees – al ly ek aan twee ongeneeslike outo-immuunsiektes:
rumatoïede artritis en Crohn-siekte.
As jy ’n “vreemde” soort siekte kry, is dit goed om die feite te ken. Kry
inligting, verstaan waar dit vandaan kom, hoe jy dit moet hanteer. Dokters kan
net soveel doen. Op die ou end moet jy daarmee saamleef en die beste daarvan
maak. Die ander ding is natuurlik jou gesindheid.
Crohn-siekte laat seertjies in jou maag- en dermwand vorm. Dit word al
groter en blokkeer jou derms, wat jou hele spysverteringskanaal omverwerp en
jou baie siek kan maak.
Die diagnose was ’n groot skok. As jy al klaar ’n ander ongeneeslike siekte
het, dink jy een is darem seker genoeg! My pad met rumatoïede artritis kom al
lank. Ek moes kortisoon daarvoor drink, wat my gesig koeëlrond gemaak het.
Omdat ek soos ’n Oros-mannetjie gelyk het, wou ek nie ’n voet by die deur uit
sit nie.
Met hierdie siekte het die weefsel, kraakbeen en senings in jou lyf
chroniese inflammasie. Dis omtrent net ’n stryd om te loop. Soms is die pyn so
erg dat jy nie jou rug of nek kan beweeg nie.
88
Ek moes vrede daarmee maak. Die kortisoon het gelukkig goed gewerk.
’n Groot rugoperasie en knievervanging daarby het my amper weer soos my ou
self laat voel.
En toe, hierdie storie ... Een van die simptome van Crohn-siekte is dat jy
verskriklike maagpynaanvalle kry. En jy weet nooit wanneer die volgende een
kom nie. Ek bloei by die ileum, die plek waar die dunderm en die dikderm
ontmoet. Party dae, saam met die artritis en my pynlik opgeswelde maag, voel
ek net een bol pyn.
Gewoonlik kry ’n mens net rumatoïede artritis of net Crohn-siekte –
nie albei nie. Crohn-siekte word nie deur stres veroorsaak of vererger nie,
maar emosionele trauma kan wel ’n rol speel. Ek het seker maar die siekte
lankal onder lede gehad, en my ma se dood, net drie maande nadat sy met
eierstokkanker gediagnoseer is, het dit na vore laat kom. Dis in elk geval wat
ek dink.
Gelukkig het ek nogal ’n hoë pyndrumpel. Nie omdat ek vreeslik spesiaal
is nie – dis aan sport te danke. My dae as Springbok-verspringatleet het my
gebrei. Sport maak jou sterk. Dit leer jou deursettingsvermoë, uithouvermoë en
selfdissipline. Jy gaan lê nie, jy staan elke keer weer op as jy val.
My grootste uitdaging nou is om nie siek te voel nie. Ek moes leer om
wanneer ek sleg voel, nie daarteen te baklei nie, maar te gaan rus. Anders
vererger die pyn. Naas moes ook aanpas – ek is nie meer die vrou met wie hy
soveel jare gelede getroud is nie. Maar hy hanteer dit wonderlik!
My ander uitdaging is om positief te bly. As ek gaan toelaat dat my siekte
my vang, gaan ek swaarkry. Dit help nie ek is heeltyd bekommerd oor alles
wat dalk kan skeefloop nie, soos dat my kolon disintegreer.
Ek is nou in ’n stryd vir oorlewing gewikkel. Hierdie les het die
kankerpasiënte my geleer: As jy siek is, moet jy gryp na elke strooihalmpie van
89
hoop. En dit is gewoonlik positiewe denke wat die sterkste strooihalmpie is.
Geloof, hoop en liefde is die salf wat wondere aan ’n seer hart en liggaam
verrig, maar net as jy dit sal toelaat. Jy kan jou in ’n bolletjie rol en huil oor
wat nog alles kan gebeur. Maar dit gaan jou glad nie help nie, dit gaan jou net
sieker maak. So is die lewe ook. Dit word makliker wanneer jy net go with the
flow en ophou skop teen die prikkels.
Ek word deur soveel liefde omring – ’n wonderlike man wat my siekte
verstaan. Hy ondersteun my en raak nooit ongeduldig omdat ek “nou weer lê”
nie. My drie pragtige gesonde dogters weet ook wanneer Mamma lê, voel sy
regtig nie lekker nie.
Hulle verstaan wanneer Mamma huil, is dit oor Ouma wat weg is. Dan los
hulle my tot ek weer beter voel. Hierdeur leer hulle sommer ’n groot les: Gun
jouself die voorreg, en reg, om te huil as jou hart seer is en te rus as jy moeg is,
want dit is al hoe jy weer beter gaan voel.
Die Here gee vir my rustigheid. Met my ma se skielike dood het ek besef
hoe dun die grens tussen lewe en dood is. Die een dag was sy nog fiks en
gesond; die volgende dag word sy siek en gaan dood.
Sodra ek bang raak oor wie volgende gaan kanker of enige ander siekte kry,
praat ek met God en dan word ek rustig. Hy gee vir my die krag om môre weer
op te staan en aan te gaan. Om elke dag te vat soos dit kom. En om dankbaar te
wees vir wat ek het.
My ma se dood het ook iets anders in my wakker gemaak: om onwrikbaar
te glo in die Ewige Lewe. Want wat anders is daar om voor te lewe wanneer jy
nie kan hoop nie? En geloof is om te hoop.
90
Lika Berning
Leer uit jou ouers se foute –
moenie hulle veroordeel nie.
Hulle is op die ou end
ook maar net mense ... nes jý.
91
Liewe jy...
Dís wie ek is, danksy my pa
Soos baie ander dogters moes ek ook op ’n dag besef my pa het voete van klei.
Ek het nou wel my held verloor, maar uiteindelik ’n méns gekry. Ons het ’n
pad gestap. Dit wat ek uit sy foute geleer het, het van my ’n sterker, wyser en
ryker mens gemaak. Ek kan soveel uitdagings beter hanteer, danksy hom.
In daardie opsig is my erfporsie ’n skatkis vol lewenslesse.
Ondanks én danksy daardie roesemoes van kindertrane, tieneropstand
en bitterheid, kan ek eerlikwaar sê: “Ek voel góéd.” My lewe is soos ’n
storieboekverhaal met interessante karakters. Ek is ’n individu, maar ook die
somtotaal van almal wat my help vorm het.
Leer uit jou ouers se foute – moenie hulle veroordeel nie. Hulle is op die ou
end ook maar net mense ... nes jý.
As ek terugdink aan my kinderjare, speel vergeelde oomblikke soos skyfies
uit die tagtigs voor my af. ’n Dogtertjie wat met haar voete teen haar pa se bors
opklouter om dan bollemakiesie agteroor te slaan, veilig in sy arms. Maar selfs
pa’s wat in hulle dogtertjies se oë die slimste, sterkste en grootste was, maak
foute. En tussen die foute deur het ’n paar skyfies verlore geraak ...
My pa was nooit kwaai met sy twee dogters nie. Ma Jana was die een wat
moes dissiplineer. Toe al het my pa waarskynlik gevlug van die rol van die bad
cop. Later, toe die lewe te veel begin word het, het alkohol sy toevlug geword.
92
’n Slegte gewoonte het gou in ’n drankprobleem vir ’n legendariese regisseur
ontaard. En die drie vroue in sy lewe se sprokie het verbrokkel.
Om drank te kies was ’n selfsugtige besluit. Hy was vasgevang in sy eie
lewe en nie bereid om sy verantwoordelikhede te aanvaar nie. Maar dit het my
geleer om nie daarvan weg te skram nie. Vandag besef ek die grootmenslewe is
nie altyd maklik nie. Ek en my man moet ons seun grootmaak en ons eie potjie
krap. Ons huis is deurmekaar, daar is nie genoeg ure in die dag nie en ons
energie is min. Ons leef in ’n beautiful chaos. Dit kan so maklik raak om te wil
ontsnap, aan daardie twee glase rooiwyn verslaaf te raak as dinge rof raak.
Ek het geleer die beste manier om te cope is om daar te wees en jou
probleme in die gesig te kyk én oefening. Dit help jou om gesond en
gebalanseerd te bly, bied goeie ontvlugting en is goed vir jou emosies.
Vandag voel my pa hy het ’n fout gemaak om te skei; dis altyd beter
om te veg vir daardie oorspronklike heilige instelling. Wie is ek om te
oordeel? Ek dink nie aan myself as die slagoffer van ’n mislukte huwelik
nie. As buitestander voel ek net innig jammer oor ’n groot liefde tussen twee
hartsmense wat op die rotse geloop het.
Hulle het hulle huwelik, vriende en geloof in hulleself verloor. Twee
stukkende mense wat lank gevat het om weer heel te word. Hulle egskeiding
het my geleer jy hoef nogtans nie die huwelik af te skryf nie. Dit bly iets
spesiaals – al breek dit tussen party mense. Wat mý huwelik betref ... Ek
aanvaar die uitdaging om hierdie verhouding te laat werk tot die einde, want
daar is soveel mooi daarin. Maar jy moet kan vergewe.
Ek wil nie my kind aan negatiewe goed blootstel nie. Daarom los ons
konflik vinnig op. Almal het moeilike tye, maar dis een ding waaraan ons hard
werk. Daar is ’n atmosfeer van vreugde, vrede en eerlikheid in ons huis. En dis
’n geskenk wat jy jou kinders kan gee.
93
Met die jare het ek meer begrip gekry vir my pa se probleme, ook
aanvaarding van sy foute. Ek kon hom vergewe. Ja, ek wás seergemaak ...
en hy het dit goed geweet. Hy was lank in die woestyn, maar het sy lewe
heeltemal omgedraai. Vandag – ondanks al die storms, seerkry en aanpassings
– is hy diep deel van my binnekring. Hierdie brief van my pa dra ek altyd in
my hart:
Lika my lief
Ek weet nie waar om te begin om vir jou te sê hoe trots ek op jou is
nie, sommer oor alles. Die lewe is nie altyd maklik nie, maar daar is
altyd uitkoms en oorwinning mits jou gesindheid reg is en jy in die Here
gesetel is. Ek glo ons gaan almal deur woestyne, waar God ons toets
en leer om nederig te wees en ook vir ons te wys wat in ons harte is.
Dit alles sodat ons by ’n plek kan kom waar ons besef ons lewe bestaan
nie uit die dinge wat ons besit nie, maar uit Hom en die mense wat ons
liefhet. Ek wil jou commend vir die liefde wat jy uitstraal en dat jy jou
sprankelende persoonlikheid bly behou het deur dik en dun. Ek is só
jammer dat ek deel gehad het aan die grootste pyn wat jy in jou lewe
ervaar het, maar ook só bly dat ons by ’n plek kon kom waar ons in
liefde vergifnis kon vra en gee. Ek is BAIE lief vir jou. Ek sien in jou dat
jy weet die skietlood van jou lewe word van Bo af gemeet. Ek glo jy en
Clyde gaan nog daadwerklik inspraak lewer in die lewens van die liewe
mense van ons land en die res van die wêreld. Ek sien ook verskriklik
uit daarna om te sien hoe die Here al hierdie dinge gaan bewerkstellig.
Liefde daar
Pa 94
Lotie Koen
In sport of liefde ... moenie
wag vir ’n storm om op te
steek of verby te gaan nie –
leer om in die reën te dans.
95
Liewe jy...
Jy kán jou huwelik red
Hy het my lief, hy het my nie ...
Een vir een pluk ek die madeliefieblaartjies uit. So-o versigtig, om nie die
kroon en stamper seer te maak nie. Werk altyd mooi met blomme, selfs al wil
jy net kyk of hy die een is vir jou. Want in elke blom glimlag God vir jou – met
’n spesiale knipoog vir ’n verliefde jong meisie.
Hy het! Sowaar – die laaste blomblaartjie sê so. En madeliefies jok nie.
Daardie oggend maak hy ontbyt en gooi die ring in die pap. Gelukkig
verstik ek nie. Kort voor lank is ek mevrou. Natuurlik, lank en gelukkig gaan
ons saamleef. Die son lag en die wêreld staan op sy kop.
Die huweliksnag is só spesiaal. Dis albei se eerste keer. Ek, senuweeagtig
verby, lees die gelukwensingskaartjies oor en oor. Tot hy vir my sê, maar ek hét
party van hulle reeds gelees! Op ’n soort heilige manier is ons nou vir altyd aan
mekaar verbind. En so volg die hoofstukke mekaar op, min of meer in dieselfde
trant, afgewissel met ’n pienkvoet of meer, tot ’n hele paar seisoene later.
’n Skerp vingernael prik een Sondagoggend wreed my wasige borrel:
Flirtasie. Die woord wat kastig so onskuldig klink.
Hoe is dit moontlik? Alles was dan so sprokiemooi perfek. Die Ander Vrou,
hoor jy by haar man, het ’n flirtasie met jou man. Glo nooit verder as SMS’e
en so gegaan nie. Hm, sê húlle ...
96
Onskuldig, pleit hy. Miskien, maar is daar iets soos ’n onskuldige flirtasie?
Tussen ongetroudes, ja. Die vlammetjie is aan die brand gesteek, verweer hy,
maar daar was nooit ’n vuur wat als verteer het nie.
En dan begin die twyfel, die aanklag, die selfverwyt. Dit spook in die
nanag, vreet in die voordag, knaag heeldag. Tot my hart rou is en my kop suf.
As die hoekoms en waaroms net antwoorde kan kry. Ek is so besig met die
kinders, loop sonder grimering. Het ek hom (en myself) begin afskeep? My
gewig ... wel, laat ons liewer swyg. Swangerskappe was al té lank my verweer.
Steek ek af by haar? Is dít die rede? Kyk liefde dan nie verby sulke
goedjies nie? Of steel juis hierdie klein jakkalsies al die mooi? Dit klink nie
reg nie ... maar kinders is nou g’n kwessie nie. Ter wille van hulle aan ’n dooie
huwelik bly vasklou? Nee en weer nee. Die eerste verhouding binne ’n gesin is
tog tussen man en vrou?
Een ligpunt ... dankie tog vir vriendinne. Anders het ek party nagte nie
die dag gesien nie. Trane is daar nie meer oor nie. Selfs daardie rivier het
opgedroog. Maar steeds is ek nie skoongespoel nie.
En dan, toe ek dink daar is g’n nuwe skokke nie ... Liewe Here, hoe kan
Jy dit aan my doen? Hoe kon ek in hierdie tyd swanger raak? Was dit nie juis
omdat ek te veel met die kinders besig is dat hy vir ’n ander vrou geval het
nie?
En so lê ek heeldag op ’n hopie in ’n donker kamer. Laat hom by my op
die bed sit. En wag. Ek wil alles weet. Elke liewe detail. Dit raak ’n obsessie,
oorheers alles.
Daar is twee opsies: Óf hy los sekere besonderhede uit, maak my nie seer
nie en hou die agterdeur oop vir so iets om weer te gebeur. Óf hy vertel my
alles, maak my seer en werk deur die hele fiasko.
As ek jou raad kan gee, kies die tweede opsie en help hom. Al skroei die
97
pyn met elke woord deur jou lyf. Praat daaroor. Julle kan saam deur hierdie
ding werk – daardie (on)skuldige vlammetjie doodblaas en die vuurhoutjie
vermorsel.
Wees geduldig – jy én hy. Vergewe én vergeet kom nie oornag nie. Dis ’n
cliché, maar ’n mens besef eers presies wat jy gehad het wanneer jy alles kan
verloor. Laat hy jammer en ekskuus sê, oor en oor.
Besluit nóú: Hierdie dinge gaan jou nie breek nie. Begin sommer by jou
figuur en gesondheid. Natuurlik kan en gaan jy weer daardie vietse, sportiewe
meisie word. Gewigverlies gaan oor ’n kopskuif. Pak die stryd aan, hou
daarby en jy sál dit regkry. Met ’n gesonde leefstyl bou jy eintlik ’n gelukkige
huwelik. Sorg eers vir jouself. As jy straal, is almal om jou gelukkig.
So ’n misstap is nie noodwendig ’n sewejaar-itch of ander sindroom nie.
Mense aanvaar mekaar as vanselfsprekend en raak deurmatte vir moddervoete
afvee. En dan fokus hulle nie meer op mekaar se begeertes en behoeftes nie.
Skielik kry ek hoop. Hy het so lank vir my baklei ... Hierdie huwelik kan
tog nie op so ’n stomp noot eindig nie. Ons vul mekaar so goed aan. Ons moet
hierdie ding laat werk. Ons kan. Fokus op die 97% goeie tye saam – pleks van
hierdie 3%-nagmerrie wat nou afspeel.
My nuwe bumper sticker sal so klink: “Of dit nou sport of die liefde is,
moenie wag vir ’n storm om op te steek of verby te gaan nie – leer om in die
reën te dans.”
Die woorde “Geloof, Hoop en Liefde” het my voordeur versier. En as
iemand vra watter een van die drie is die grootste? Maklik! “As jy nie glo en
geestelik op dieselfde golflengte is nie, gaan daar nie opregte liefde wees nie.
En alleen met liefde en respek is daar hoop vir ’n huwelik. Selfs wanneer jy
fokus verloor.
98
Magda van Biljon
Jy kry net een keer so ’n pakkie –
vriend, geesgenoot ... alles in een.
Myne het van adres verander, maar
ek koester die inhoud en herinneringe.
99
Liewe jy...
Jou laaste vlug is na God
“Wie op die Here vertrou, kry nuwe krag.” Hierdie teksvers het sommer net in
my gedagtes opgekom toe ek van my knieë af opstaan. Dit het my laat besef
my neef se woorde is waar: “Ons almal het ’n sell-by date. Zack du Plessis s’n
het net ’n bietjie vroeg gekom.”
Ek het daardie oggend op my knieë gegaan en net gevra: “Here, maak my
kop stil. Ek is hier, en ek is daar ... ek kan nie ophou dink nie.” Party mense
sê Hy praat direk met hulle, maar ek is nie so “hoog” op nie. Met my is dit
indirek. Daardie teksvers wat Hy my toe gee, het ’n kalmte soos ’n kombers
om my oopgesprei.
Zack se laaste drie maande was die kosbaarste tyd in ons lewe. Ons het ’n
bietjie gelag, ’n bietjie gehuil, ’n bietjie gepraat, ’n bietjie gedink. ’n Maand
voor hy weg is, sit ons almal op die bed. Toe sê hy vir die kinders hulle moenie
oor hom huil nie. As Christene glo ons mos in die opstanding en die ewige
lewe; nóú moet ons dit uitleef.
Steeds, ek het hierdie ongelooflike groot krater in my hart. Ek gaan nie
eens sê ek kom reg sonder hom nie, want ek kom nie reg nie. Maar ’n mens
kry krag.
Ek onthou soveel lekker tye: Ons eerste Kersfees saam as pasgetroudes.
Hy het R149 per maand by Truk verdien en ek het nog geswot. Ons families
100
besluit toe hulle kom na ons toe vir Kersfees. Ons het geweet ons albei se ma’s
sal kos bring. Ons het ons darem nogtans “opgespaar” om vir die familie ’n
braai te hou en geskenke te koop. Maar toe ons vir mekaar iets moes koop, was
die geld op. Zack sê toe ek moenie bekommerd wees nie, hy sal ’n plan maak.
En daar, onder die Kersboom op Oukersaand, kry ek ’n langspeelplaat present,
Neil Diamond se Hot August Night – en op die omslag staan geskryf: “Kant A
is joune, Kant B is myne.”
Later, toe die kinders gekom het, het hy op hulle vraag wat hy vir Kersfees
wou hê, altyd gesê: “Net ’n boksie Smarties.”
Dit was vir ons baie moeilik om totsiens te sê. Die laaste drie weke voor
sy dood was Zack so moeg. Dan het hy gevra: “Lê net ’n bietjie by my.” Dis
vandag nog sleg as ek in die nag wakker word en hier langs my in die bed
voel ... en daar is niks.
Daar is soveel verskillende sienings oor die dood. Ek het baie daaroor
nagelees. Zack het altyd gesê hy is ’n eenvoudige ou wat eenvoudig leef en
glo, net soos ’n kind.
My siening het verander, eintlik al voor my ma se dood. Sy was nie bang
vir waarheen sy sou gaan nie. Sy wou net nie alleen wees nie. Die oumense het
mos hierdie ding oor die “dal van die doodskaduwee”.
Toe sê ek vir haar kom ons verander hierdie dal. Kom ons maak of ons
op ’n lughawe is. Ons moet ons paspoorte en visums regkry en ons bagasie
inweeg. En dan sit ons met ’n lekker boek of koerant en wag dat ons vir ons
vlug geroep word.
Wanneer ons dan in daardie finale vliegtuig klim, vlieg ons weg na God
toe. Dis mos bevrydend, iets waarna jy kan uitsien – en dit was ook so vir haar.
Dit het ons hele gesin se prentjie van die dood anders ingekleur. Dis maar net
’n reis na ’n ver, vér, totaal nuwe en opwindende bestemming.
101
Ons is ’n gesin met no regrets. Die tye wat ons saam was, was so vol en
ryk. Zack met sy wye belangstellings het twee lewens in een leeftyd ingewerk.
Ons dogter het hom so mooi in ’n e-pos gevra om asseblief op te hou rook, sy
wil hê haar kleinkinders moet nog hierdie lekker oupa beleef. Maar ag, hy kon
net nie die dekselse sigarette los nie.
En ja, hy kon toe ook nie sy eerste kleinkind beleef nie. Die dag voor ons
saam met ons dogter na die sonar sou gaan kyk, was Zack sommer net weg.
Maar dalk is dit juis Oupa se klein afdrukkie daardie.
Nadat die longkanker gediagnoseer is, het hy my talle kere om verskoning
gevra dat hy nie kon ophou nie. Dan het ek maar net gesê, kom ons los dit. Dit
dien geen doel nie. Kom ons vat net die tyd wat die Here vir ons gee en maak
die beste daarvan.
Nog voor sy diagnose het Zack altyd vir die kinders gesê: “As hierdie
oomblik verby is, is dit vir ewig verby.”
Zack het nie gely nie. Hoe kan ek my nou wip en kwaad wees vir God? Hy
was baie rustig en kalm tot op die einde. Hy het geweet hy gaan, en ek ook.
Sy laaste woorde was in Engels – en hy kon nie eens behoorlik Engels praat
nie! “My dear, I’m dying, call the children.” Binne ’n uur en ’n driekwart was
hy weg ... weggevlieg na God toe. Party dae wens ek ek het saam met hom
gevlieg.
’n Mens kry net een keer in jou lewe so ’n pakkie – vriend, geesgenoot,
kritikus, regisseur, alles in een. My pakkie het van adres verander, maar ek sal
die inhoud en die herinneringe altyd koester.
102
Mandi Baard
Dinge raak soms moeilik en werk
nie uit soos jy dit beplan nie.
Dis deel van die lewe. Maar hoe
jy dit hanteer, bly jou keuse.
103
Liewe jy...
As die lewe suurlemoene uitdeel ...
Verandering kan vreesaanjaend wees, maar dis deel van die lewe. Daarsonder
groei jy nie. Jy is gewoonlik die bangste vir die dinge wat op die ou end nooit
gebeur nie. So, ontspan gerus! Alles werk gewoonlik tog goed uit.
Jy leer ook dat dit nie net danksy jóú rol en aandeel in die storie is nie.
Daar is ’n groter krag agter die skerms. ’n Mens is so geneig om erkenning vir
sukses te geniet, maar dit kan in ’n oogwink weggeneem word.
Jy kan seker uit verskillende hoeke daarna kyk ... Hulle sê mos verandering
is so goed soos ’n vakansie, maar ek is nie so seker van daardie een nie.
Behalwe as ’n wilde mallemeulerit deel van die pakket is! Soms beleef ek
daardie rowwe, genadelose jare. Dan ’n jaar van sukses waarin ek my eie
verwagtings oortref, maar ook ’n jaar waarin die pap soms op die grond val.
Skielik het alles waaraan ek gewoond was, verdwyn. Ek het nie meer op
vaste grond geloop nie, eerder in ’n lugleegte gesweef en eierdanse gedoen
om nie by ’n afgrond in te val nie. Verandering, veral om jou werksekuriteit te
verloor, ruk jou om.
Televisie is my eerste liefde, dit het gevoel of iets uit my geskeur word toe
daardie gewilde sepie wat deel van my was, sy laaste sug gee. Die laaste dag
op stel is só formeel aangekondig: “Ladies and gentlemen, for the last time ...”
Die trane het vrylik gevloei.
104
Alles daar, my aantrekkamer, die mense, hamburgers eet en hartsake
gesels ... ek het so geheg geraak daaraan. Dis my lewe, eksélf.
Wanneer iets eindig, is jy natuurlik hartseer daaroor, maar daar is ook
vrees. Die toekoms kan ten beste maar ’n skrikwekkende ding wees. Sê nou
ek kry nie weer werk as aktrise nie? Maar vir elke einde is daar ook ’n nuwe
begin. Dis net nie dadelik daar nie. Jy moet geduldig daarvoor wag.
’n Droomwerk by ’n maatskappy het wel daarna oor my pad gekom,
danksy ’n graad in die regte rigting, en ek was verlig. Maar in my agterkop bly
die vrae tog spook. Was dit die regte besluit? Moes ek nie maar aanhou vryskut
het nie? Wat as ek ’n fout maak? Sê nou die korporatiewe wêreld is nie vir my
bedoel nie? En as ek misluk?
Al hierdie veranderinge het ook my huwelik geraak. Die vaste roetine
was juis die probleem. Ek en my man se tyd saam het minder geraak, want
dit oorvleuel nie so lekker nie. Alles het maar ’n prys, en jy moet dinge mooi
opweeg om te besluit of jy bereid is om dit te betaal.
Aan die begin van ons getroude lewe saam moes ek leer om meer afhanklik
te raak. Nou moet ek weer meer onafhanklik word omdat ons mekaar so min
sien. Dis ’n hartseer wat bly knaag – dié ding dat ek en my man met krummels
tyd tevrede moet wees.
Daar is min mense wat 24/7 kan doen waarvoor hulle regtig lief is. Om
hul werk te geniet en terselfdertyd kos op die tafel te sit. Dit help darem as jou
man die vermoë het om elke suurlemoen in heerlike limonade te verander: If
life throws you a lemon, make lemonade! Die feit is, dinge raak soms moeilik
en werk nie altyd uit soos jy dit beplan nie. Dis onvermydelik deel van die
lewe. Maar hoe jy dit hanteer, bly jou keuse.
Wat erg was, was om te sien hoe my mede-akteurs hulle loopbaan voortsit.
Aan die een kant was ek so bly, want die bedryf is maar moeilik. Maar aan
105
die ander kant het ek gewonder: Moes ek nie maar ook eerder begin vryskut
het nie? As jy so lank hartseer is oor ’n sepie – en daarmee saam jou rol – wat
sneuwel ... Dan besef jy dat toneelspel nog dik in jou are vloei.
Met al die vraagtekens oor my lewe, gebeur daar iets uit die bloute wat wys
daar is ’n Plan agter alles. Ek kry ’n oproep wat my soos egte Franse sjampanje
laat bruis. Die produksiebestuurder van ’n televisiejoernaalprogram nooi my
vir ’n oudisie as veldaanbieder. En ek kry die werk!
Dis ’n geleentheid om weer voor die kameras in te skuif, hoewel
aanbieding en aktrise-wees twee verskillende dinge is. Maar ek kry weer ’n
voet in die bedryf!
En sowaar, die grootbaas by my korporatiewe werkplek stem in tot meer
buigsaamheid sodat ek my passie tussendeur my werk kan inpas. Dalk ’n mal
besluit, want ek is klaar so besig, maar soms móét jy eenvoudig ja sê! As die
regte geleentheid in jou skoot val, moet jy dit met albei hande aangryp en die
beste daarvan maak. Soms wys die liewe Here net vir jou dis die plek waar jy
moet wees.
Nou, na alles, wéét ek met ’n volwasse wysheid wat baie mense jare later
eers snap: Dinge sal môre weer beter gaan. Jy kry daardie oomblikke wat
jy voel nóú kan jy nie meer nie. Maar dis juis wanneer jy onder druk is dat
jy jouself goed leer ken. Besluit doelbewus dat jy net die beste van hierdie
uitdaging gaan maak.
Ek gaan waarskynlik nog baie afdraaipaadjies moet vat en kyk waarheen
dit my lei. Dis maar hoe die lewe is. Gelukkig het ek al vroeg geleer dat
verandering gebeur. En dat dit oukei is. Lewenslesse is priceless. Sê dankie vir
elkeen wat jy kan leer.
106
Margit Meyer-Rödenbeck
Die heel ergste ding wat
jy ooit aan jouself kan
doen, is om toe te laat
dat iemand jou lag steel.
107
Liewe jy...
Sit gerus ’n lag in jou traan
Daar is oggende wanneer ek die gordyne ooptrek en sommer dadelik weer
wil terugspring in die bed met die kombers oor my kop! Wanneer selfs die
voëltjies buite my irriteer omdat hulle so vrolik is.
Maar dit hoef nie so te wees nie. Om innerlike vrede te hê is geluk, en
soms skuil tevredenheid op die vreemdste plekke. (Allermins ghrênd.) Nou ja,
wanneer ek dit nie het nie, soek ek na iets wat my kan laat lag. Dit laat my al
klaar beter voel. So kry ek dan die moed om daardie vrede te soek of te skep.
Tevrede is nou die een ding waarvan jy nooit té veel kan hê nie.
Die spreekwoord sê: “In elke lag skuil ’n traan.” Maar dis net die helfte van
die storie. Want in elke traan kan ook ’n lag skuil. Nou wel nie ’n skaterlag nie,
ek weet ... maar darem, net dalkies, ’n belofte van ’n glimlag.
Dit is die jin- en jang-kante van my siel. En ek probeer sorg dat dit nie
net mý reddingstou uit diep, donker putte bly nie. O nee. Dit moet gereeld na
ander geflits word. Want nie almal het daardie gawe om te lag en te laat lag nie.
Dit span ’n reënboog oor my dag om te sien hoe ek ander se oë lig en bly
maak. Soos om ’n knalrooi vlieër aan hulle harte vas te strek en ver te laat
opvlieg tot doer agter daardie donker wolke op hulle gesig. En as ek hulle so laat
lag dat die trane van pure lekkerkry eintlik rol, dan weet ek ... Ek kan
bliksemstrale wegtoor en sorg dat druppels reën mense diep binne-in skoonspoel.
108
Hulle lekkerkry skiet my ook tot in die wolke! My lewensdrif is hulle
tonikum – en hulle nuwe energie vloei weer terug in my. Dis soos ’n
bloedoortapping.
Ek probeer in voeling met my emosies bly – dit nie onderdruk nie. Hoekom
goed in ’n swart kookpot laat brou, pottoe met deksel en al, op ’n vuurherd?
Kort voor lank bou die drukking op, die brousel ontplof en laat spring daardie
deksel af – hoog in die lug en al die paddas en sprinkane hop uit. (O wee.)
Huil gereeld. Lag gereeld. As jy ín jou emosies is, help jy mense om úit
slegte emosies te kom. Meer nog, jy lei daardie stowwerige siele, so heeltemal
búite hulle gevoelens, terug daarin. Hulle maak kontak. Jy gee iets so heilsaam
vir hulle!
My grootste bron van lag bly maar daardie klein parmante. O, en die
rakkers draai my om hulle pinkie soos ’n two-minute noodle. Ek geniet al hulle
kaskenades ...
Het dit iets met ouderdom te doen? Waarom huil ek elke keer as ek sien
hoe kinders die Kersspel opvoer? Dis seker maar hulle onskuld en die eenvoud
van die verhaal wat my na die tissues laat gryp. Dis net só mooi. Lag, trane,
ontroering deur iets spesiaals – al daardie emosies is so verweef en deel van
’n groter geheel. Waarom skaam wees vir gevoelens of dit wil wegsteek? Dit
maak heel en gesond.
Trane en lag is twee kante van ’n stuk geweefde lap – albei kante is mooi
en sorg vir ’n afgeronde geheel. Soms moet ek vir ander perform, hulle laat
krul van die lag terwyl ek ineenkrimp van die pyn. The show must go on ... ook
in ’n rowwe tyd. My ma het op sterwe gelê aan kanker maar daarop aangedring
dat ek optree. Sy was so wys, sy het geweet as ek daar langs die bed sit en die
dood inwag, sal ek uitmekaarval. So het sy gesorg dat ek aanhou funksioneer
en fokus. Die lewe gaan aan.
109
Ek was in twee geskeur – flits die lag na die een kant uit, en die trane na
die ander kant toe. Soos ’n nar met twee gesigte. Dis baie moeilik om op ’n
verhoog te stap en mense te laat lag met gedagtes wat heeltyd by die seer in
jou is. Juis die feit dat die lewe net aangaan, is moeilik om te verwerk.
Soms voel ek voor ’n vertoning nie lekker nie. Die laaste ding waarvoor ek
dan lus is, is om op ’n verhoog te stap. Maar die ironie is, ek voel altyd beter
wanneer ek daar afstap. My fix is hulle lag. En applous!
Jy kan en moet jou gemoed verbeter as jy sleg voel. Kry vir jou iets wat die
borrels in jou terugsit. Oefening is een van die beste maniere. Om ’n slaansak
te skop werk soos ’n bom. Skop is mos een van daardie taboe goed. Maar dit
help om al daardie opgehoopte frustrasie op die regte plek uit te haal.
Sit in jou verbeelding die maaifoedie van die week se gesig op die
slaansak. Ja, die een wat jou op daardie oomblik die ergste irriteer. Dis hoekom
die slaansak nuttig is – die irritasie is nie so groot dat jy hom of haar regtig
wil slaan nie. En na ’n lekker oefensessie is jy soveel beter toegerus om die
bullebak te hanteer.
Wat jy ook al graag doen – en goed daarby – is jou roeping. Lééf dit. Moet
niks terughou nie. Jy laat reën seën oor ander, ook oor jouself. Wat jy gee, kom
terug na jou.
Om mense te laat lag is ’n wonderlike roeping. Dit laat hulle beter voel en
met ’n ander perspektief na die wêreld kyk. En onthou altyd, die ergste ding
wat jy aan jouself kan doen, is om toe te laat dat iemand jou lag steel.
110
Mariana van der Westhuizen
Ek glo ons mag met God onderhandel.
Maar Hy doen dinge op
sy manier en sy tyd. Ons kan
net vra, en glo Hy weet die beste.
111
Liewe jy...
Siekte gebeur wel met ’n doel
Jou seun het ’n terminale siekte. Dié skoknuus is amper te veel gevra van
enige ouer. Jou kind is tog nie gemaak om voor jou te gaan nie. Tog, tussen die
hartseer deur is daar helder spatsels lig wat hoop op hierdie donker pad bring.
Joost wou ons aanvanklik nie ontstel en vertel nie. Maar sy broers het hom
omgepraat en saam-saam het hulle een aand die nuus in sy sitkamer oorgedra.
“Ma, ek het MNS en hulle kan niks vir my doen nie,” het hy eenvoudig gesê.
Ek het glad nie verstaan waaroor motorneuronsiekte gaan nie.
Ek wóú dit nie aanvaar nie. My kind is dan so sterk, aktief en vol lewe.
Hoe kan hy aan ’n siekte ly wat sy liggaam stelselmatig gaan aftakel totdat hy
’n hulpelose invalide is? Die blote gedagte het my kop laat stilstaan. Ons het as
familie hande gevat en saam gebid. Dis al wat ons kon doen.
Dit het stil geword in ons huis. Ons het gesukkel om die nuus te verwerk.
Ek en sy pa, Gustav, het maande aaneen glad nie daaroor gepraat nie. Ons kon
nie die woorde vorm nie. Hoe verduidelik jy jou hart se seerste seer sinvol?
Elkeen was besig met sy eie worstelstryd. Ons sou êrens om die hoekie of in
die badkamer gaan huil het, maar nie voor mekaar nie.
Die manier waarop Joost sy siekte hanteer, is ’n groot inspirasie vir almal.
Sy positiwiteit maak ons almal positief. Hy was nog altyd ’n vegter. As hy iets
wou hê, sou hy alles in die stryd werp om dit te kry. Maar ek het nooit geweet
112
hy kan só hard veg nie. Dit maak my baie trots op hom.
Dit het my aanvanklik ontstel om te hoor hy sê sy “siekte is ’n seën”. Hoe
kan hy so iets sê? Maar as jy jouself in sy posisie stel, begin dit sin maak. Joost
kom uit ’n doodgewone huis. Ons is net eenvoudige mense. As gevolg van sy
sukses as rugbyspeler het hy mettertyd op die stellasie geklim waar mense hom
graag wou hê. ’n Ma dink mos nooit haar kind doen iets verkeerds nie. Tog, hy
was met tye arrogant en het begin dink hy is onaantasbaar. Op die kruin van
sy loopbaan is alles vir hom gedoen en gegee. Hy het nie eens geweet wat ’n
brood kos nie.
Joost het langs die pad vergeet waar hy vandaan kom. En toe val hy. Hard.
Só hard dat hy weer onthou het wie hy is. Hy het die regte waardes herontdek
en besef wat werklik saak maak in die lewe. Hy het weer nederig geword. Dít
maak sy siekte ’n seën.
Joost lééf vandag die dinge waarna die meeste van ons nog streef. Hy het
geleer wat ware vergifnis is, wat dit beteken om in harmonie met homself,
ander mense en God saam te leef. Hy het vrede gevind. Ironies genoeg, juis
deur sy siekte, want hy het nie die weelde om te dink “ek sal môre regmaak of
eendag vergewe” nie. Hy leef elke dag voluit asof dit sy laaste is. Vir hom gaan
dit nie oor die val nie, maar oor die opstaan, en veral oor hóé jy kies om op te
staan.
Lag en die dag lag saam met jou – dít het my leuse geword. Ek soek na
dinge om oor opgewonde te raak, want dit is ook hoe Joost deesdae leef. My
grootste bederf is om vir hom drukkies te gee, aan hom te kan vat en in stilte
vir hom te bid. Ek wens ek kon heeldag by hom wees. Tog, ek verstaan dat
hy graag sy eie dinge wil doen en die bietjie onafhanklikheid koester wat hy
oorhet. Hy wil nie bejammer word nie.
Al die media-aandag het my eers gepla, maar nou sien ek dit anders. Dit
113
plaas die fokus op ’n siekte waarvan mense voorheen nie bewus was nie. Daar
is baie ander mense wat baie swaarder as my seun kry.
Oor die jare het ek baie gebid dat die Here Joost se hand sal vat en hom sal
lei. En nou hét dit gebeur. In die begin het ek vir hom gesê: “Seun, hou moed,
kyk op en bly net glo. Daar gebeur nog wonderwerke.” Dan het hy net stil na
my gekyk. Vandag is dit hý wat ons heeltyd daaraan herinner. Hy straal van
liefde en hoop, nie net teenoor sy familie nie, maar veral teenoor ander wat
ook siek is.
Ons glo saam met hom dat wonderwerke nog gebeur. Mense sê jy moenie
met God onderhandel nie. Ek glo jy mag maar. Ek het al menigmaal vir Hom
gevra om Joost se siekte weg te vat en vir my te gee. Ek sal dit dra. Maar Hy
doen dinge op sy manier en sy tyd. Ons kan net vra, en dan glo dat Hy alleen
die beste weet.
Joost het geestelik afgedwaal, maar weer sy pad gevind. Vandag het hy ’n
wonderlike verhouding met die Here. Hy leef nie vir homself nie, maar om
ander te help – met oorgawe. Sy oë blink; sy hele houding en uitkyk op die
lewe maak my kalm. Ek leer so baie by hom. Hy is ’n toonbeeld daarvan dat
dit beter is om te gee as om te ontvang. Reik eerder uit as om op ’n hopie te sit
en jouself te bejammer. Hy is sterker as ons almal.
Alles gebeur met ’n doel. En vir my is die doel met sy siekte dat hy weer
moes terugkom aarde toe. Hy moes homself weer vind. En hy het. In talle
opsigte. Ek kan vandag sê ek het my kind teruggekry!
114
Michelle Beling
Papiertjies met woorde is
my geheim om my droomman,
my feetjiekind en myself te
waardeer en in my hande te koester.
115
Liewe jy...
Briefies vol liefde wys jy gee om
Papiertjies met woorde is my geheim om my droomman, my feetjiekind en
myself te waardeer en in my hande te koester. Ag, jy kan natuurlik die lysie rek
so lank soos jy wil. Vir al daardie mense wat jou lewe laat werk.
Jy kan jou hart in ’n briefie sit en mooi toevou sodat net daardie gelukkige
een dit weer kan oopvou en teen sy hart vasdruk. Dis ’n geheim, net tussen
julle twee. So ’n spesiale oomblik, soos net my droomman vir my kan gee.
’n Mooi briefie koester die sagte vlammetjie van romanse en omgee. Vou
jou hande daarom dat ’n skielike windvlaag dit nie uitdoof nie. Waardeer
daardie mooi man wat jy het – dis ’n geskenk wat jy nie wil verloor nie.
Aan my man
’n Gelukkige loopbaan, dit is wat ek vir jou wens. Jy moet pal tevrede
wees, en die inspirasie moet sommer jou knieë lam maak! Ek raak elke
dag net liewer vir jou, weet jy dit? ’n Baie groot deel van my gelukkige
bestaan is te danke aan jou. Jy mag nooit, ooit twyfel oor wat, en
hoeveel ek vir jou voel nie. En jy moenie jouself onderskat nie ... saam
los ons enige probleem op.
Al my liefde
116
Van droomman gepraat ... ’n Paar wenke uit my trousseaukissie, net vir jou:
Gaan vir iemand so mallerig (of nie) soos jy. As jy kan sê: Ons kliek net,
moet jy weet, dis die een. Die Man! Hy moet jou verstaan met al jou buie en
geite. En jy vir hom. Dan is jou kop deur – en jou hart verlore! (What is the use
of having a heart if you can’t lose it!)
Bou julle verhouding op die waarheid. Hoe meer volwasse jy raak, hoe
eerliker is jy in ’n verhouding. Jy sit nie heeltyd net jou beste voetjie voor of
smeer suikerlagies oor foute nie. Moet dit in elk geval nooit doen nie – nie
eens aan die begin nie. Maar ja, die versoeking is daar ... Onthou net, suiker
is verslawend en ongesond. Ook, en veral, in ’n verhouding. Hoekom dinge
toesmeer? Dit gaan vir ewig by jou spook.
Kry vir jou ’n man propvol liefde wat vasbyt, al gaan dit hoe rof. In elke
verhouding is daar skaterlag-tye, soos met ’n wipkar-rit in ’n pretpark, én
hartseer oomblikke. Een kan ’n werk verloor. Of daar is siekte ... Maar as julle
verhouding standvastig is, keer niks dit om nie. Dit groei net.
Dis ’n moeilike storie as albei se gemaksone skielik weg is. Die vloer
is hard en koud as die mat skielik onder julle uitgeruk word. Soos om twéé
inkomstes te verloor. Pak dit aan soos ’n hegte span. Saam. As julle so ’n
rukwind saam kan oorleef, kan julle enige probleem hanteer. En glo my,
probleme sal daar kom. Dis deel van die lewe, van die lucky packet.
Wat ’n man ekstra spesiaal maak, is hoe hy julle kinders hanteer – veral ’n
dogtertjie. As hy haar soos ’n prinses behandel, al gee sy hom soms net so ’n
harde tyd as vir haar ma ... Wel, dan woon julle in ’n kasteel! Wat meer kan jy
vra?
Jou kinders ... skryf ook vir hulle briefies. Dit sorg vir lieflike onthouoomblikke later in hulle lewe. Blaas mooi wense na hulle kant toe – dit groei
in hulle harte en rank deur hulle lewe. Kyk, so:
117
Aan my kind
Vir jou wil ek net mooi dinge gee. Soos ’n groot hoop selfvertroue.
Moenie bang wees om soms ’n kans te waag nie. En probeer om altyd
die dinge wat saak maak in die lewe, te geniet.
Lag soveel as wat jy kan, en maak seker dat jy al jou talente ten
volle gebruik.
My liefde vir jou het nie ’n bodem nie. Ek belowe. Jy sal altyd
veilig wees by my.
Al my liefde
Mamma
En jy ... Strooi ook mooi wense op jouself uit – jy is dit net soveel werd as jou
hartsmense. Moenie jouself verwaarloos nie.
Liewe ...
Ek droom oor nuwe rolle om die aktrise in my hart lewe te gee. En ek
wil sing en sing en nog meer sing ... Ek wens vir hope oudisies. Meer as
wat ek eintlik kan doen.
Ek wil ’n woelige toekoms hê, vol van die mense en my werk
waarvoor ek so bitterlik lief is.
Mag daar baie lag in jou lewe wees, maar moet tog nie alles te
ernstig opneem nie. Maak tyd vir al die mooi en plesier in die lewe.
Geniet elke oomblik!
Al my liefde
Ek
En nóú ... nou is dit jou beurt.
118
Nádine
Een van my kosbaarste stukkies
raad vir ’n gesonde lewe is:
“Let go of the anger ...” Daarby
sou ek wou las: “... and the fear.”
119
Liewe jy...
Hou vas aan jou droom
Stukkende verhoudings in ’n huis hoef nie ’n kind se vlerke te knip sodat sy
later nie tot hoog bó die wolke kan vlieg nie. Omdat my ouers geskei is, kon
my pa nie so baie by my lewe en loopbaan betrokke wees nie. Kleintyd sou ek
graag meer tyd saam met hom wou deurbring. Natuurlik mis ek hom, maar ek
verstaan. Later onthou ’n mens nie meer die tye wat hy nie daar was nie, maar
die kere wat hy wel daar was. Hoe sou ek myself ooit kon vergewe as ek die
rede was dat twee mense dertig jaar lank moes saambly, sielsongelukkig? Wie
wil daardie las met haar saamsleep?
Party pa’s bly saam met hulle kinders onder een dak, maar is nie deel van
hulle lewe nie. As ’n mens dit maar vir hulle kan uitskreeu sodat hulle wakker
skrik. Tyd saam met jou kind is kosbaar. Gehaltetyd is onmeetbaar. Voor jy jou
oë uitvee, is jou kind groot; dan is dit vir altyd verby.
Hier is ’n stukkie raad vir elke enkelma: Moenie jou woede teenoor jou
eksman op jou kind uitleef nie. Dis nie jou kind se verantwoordelikheid om jou
emosies te help verwerk nie. Sy beleef reeds haar eie moeilike emosionele tye.
Moenie jou kind ’n plaasvervanger vir jou man maak nie. Gaan aan met
jou lewe, kry ’n nuwe liefde. Dan voel hy of sy nie later verantwoordelik vir
jou geluk nie. Gun jou kind en haar pa dit om ’n verhouding op te bou. Jy sal
immers altyd haar mamma bly. En vergewe jouself. Jy verdien geluk.
120
Vir geskeide pa’s die volgende troos: Moenie moed opgee en
ophou probeer nie. Jou kind bly vir altyd jou kind en sal jou hart en die
omstandighede mettertyd beter verstaan.
Jou ouers se situasie laat jou beslis anders oor die huwelik dink. Niks in die
lewe is ’n waarborg nie. Begrawe ongelukkigheid, verwerk dit, en moenie jou
hart aan enigiemand toevertrou nie. Mense moet werk vir mekaar se vertroue;
eers dan besef ons die waarde daarvan.
Maar al die skerp splinters langs die pad kon nie die droom waaraan ek
met alles in my vashou, stukkend steek nie ... Dit bewys al die nuwe stempels
in my paspoort soos ek my grondgebied as sangeres in Europa afbaken. Dit bly
iets om in die wolke oor te wees, sonder om blasé te raak. Inteendeel.
’n Sanger, enige kunstenaar, se pad is nie maklik nie. Net harde werk,
toewyding en ’n sterk fokus laat jou droom waar word. Dit was moeilik om
my loopbaan vroeg-vroeg, as net een van enkele Suid-Afrikaanse kindersterre,
te begin. Op hoërskool het ek maar stilgebly wanneer mense katterig met my
was. As ek tyd kon terugdraai, sou ek dinge seker baie anders hanteer het.
Ek moes vinnig grootword. As tiener moes ek grootmensbesluite neem, my
eerste album self finansier en promosies by winkelsentrums doen om mense na
konserte te trek ... dit was nie kinderspeletjies nie.
Dit het gehelp om ’n ma te hê wat hart en siel mét my was. Sy het raad
gegee, langs die kantlyn gestaan, en my aangemoedig om my droom te onthou
wanneer ek so ’n bietjie daarvan vergeet het. Maar al het sy soos ’n kwaai
tierwyfie oor my gewaak, kon sy my nie heeltyd beskerm nie.
Die seerste is dat mense so maklik die idee kry dat ek hoogmoedig is. Dis
glad nie so nie. Niks is verder van die waarheid nie. Ek is sensitief en trek my
dinge verskriklik aan ... hulle lees dit verkeerd.
Waarom dink mense so maklik verkeerdelik ’n mens is arrogant? Is dit
121
omdat jy sukses smaak? Jy doen alledaagse dinge wat miljoene ander mense
doen. Jou perspektief bly dieselfde. Elkeen met wie ek gesels, het haar eie
talent wat haar uniek maak. Ek word deur soveel suksesvolle mense omring.
Ek sien myself as net een van miljoene sangeresse.
Dis ’n voorreg om my droom te kan uitleef. Maar al lyk dit dalk perfek vir
ander mense, is daar tog dinge wat skort. Ag, ek mis klein goedjies én groot
goed. Spesiale dae, soos vriendinne se verjaarsdae. Om nie heeltyd saam met
die liefde in my lewe te wees nie omdat hy in ’n ander land woon. Dis ’n
keuse. Want ek kerf vir my ’n lewe oop; daarom is ek vir eers waar my droom
my gewaai het.
Dis glad nie ’n kwessie dat ek in ’n droomhuis bly en ’n sportkar ry nie.
Ek word beperk deur sekere dinge – nie net finansies nie, maar ook vrees.
Want nes soveel ander Suid-Afrikaanse vroue is ek ook maar bang ... Soos
vir kanker. Of dat ek sal doodgaan in ’n motorongeluk. Ek kry dalk eendag ’n
lewensmaat wat nie goed is vir my nie. Bang ek besef te laat ek kan nie kinders
kry nie.
Sê nou ek kies verkeerd? En my toewyding aan musiek bring my nêrens
nie? Wat as my vriendinne wat in hulle twintigs al ’n man en kinders het, se
lewe voller en gelukkiger as myne? Natuurlik wil ek ook graag wakker word
met ’n man se arm om my. En koek bak ... Maar, nou ja. Almal moet seker ’n
paar dinge opoffer om te kom waar hulle wil wees.
Vir nou is een van my kosbaarste stukkies raad vir ’n gesonde lewe: “Let
go of the anger ...” Daarby sou ek graag wou las: “... and the fear.”
122
Natasha Sutherland
Ek wil in liefde, nie in vrees nie, leef.
Ek speel met my kinders, hou piekniek
in die maanlig en die seuns kyk
na sterre en die feetjieliggies.
123
Liewe jy...
Niks steel ouer-kind-liefde nie
“Daar is nie so iets soos ’n gebroke familie nie. Familie is familie en dit
word nie bepaal deur huweliksertifikate, skei- of aannemingsdokumente nie.
Families word in die hart gemaak.” Ek moes self ’n pad loop om die waarheid
van hierdie wyse woorde van Joy C. Bell te verstaan.
Natuurlik, egskeiding is nie die ideaal nie. En dit ís moeilik vir kinders, op
meer maniere as wat grootmense besef.
Jy as ma, julle as ouers ... kan kies om ’n nuwe wêreld vir die kinders op te
bou. Ja, julle deel nie meer almal een dak nie, maar nog steeds dieselfde band
van ouer-kind-liefde. Ek het vir baie lank op ’n baie beperkte manier na die
lewe gekyk. Maar ’n mens moet nooit jouself, of ander, in ’n boksie druk nie.
Pyn is nie ’n slegte ding nie. As jy dit só intens voel, laat dit jou diep delf en
wêrelde in jouself ontdek wat jy nie geweet het bestaan nie. My skryfwerk is die
manier waarop ek krap, vind en vorentoe beweeg. Dis my ontladingsproses. En
ek laai dit met humor. Want ’n mens haak nie vas by pyn nie – so glo ek.
Ek wil tog nie die slagoffer-rol speel nie. Ek moes myself verloor om weer
nader aan myself te groei. Die groot les is: Red jouself ... Pyn, veral dié van
verraad, is deel van liefde en vrouwees. Dit heg vroue soos ’n universele gom
aan mekaar. Danksy die naaktheid van my pyn kon ek ’n spreekbuis vir ander
vroue se ervarings word.
124
Vertroue, ook in jouself, kom terug wanneer jy vergewe. Ek weet, al kry ek
weer seer, sal ek die pyn ervaar en aangaan ... en dis oukei. Wat ook al gebeur,
ek vertrou myself om daardeur te kom. As jy terugkyk na jou lewenskeuses en
sien iets het nie reg uitgewerk nie, begin jy twyfel aan jou vermoë om keuses
te maak. Maar moenie wroeg oor jou foute nie. Ek sal alles in my lewe weer
oordoen as ek moes.
Gryp die lewe en die toekoms aan. Moet nooit toelaat dat die mislukking
van ’n huwelik die res van jou lewe om jou nek hang nie. Ek moes my lewe
steen vir steen herbou. Nie dat ek vooraf ’n bouplan gehad het nie. Tog, ek
het dit gedoen ... en ek het verander van ’n slaapwandelaar tot iemand wat
bewustelik lewe. Hier en nou. Soos my seuns. Dit maak my uitbundig bly om
te sien hoe gelukkig hulle is ... ín die oomblik.
Ek probeer om in liefde, nie in vrees nie, te leef. Ek speel met my
kinders. Ons hou piekniek in die maanlig en die seuns kyk na sterre en die
feetjieliggies. Wanneer ek aanvoel dat hulle hartseer is, of as my eie hart pyn,
besluit ons doelbewus om saam iets lekkers en kreatief te doen. Ons gaan pluk
aarbeie in die groentetuin, of lê buite op ons rug en soek prentjies in die wolke.
Ons is gedurig besig om mekaar iets oor die lewe te leer.
Soos toe Benjamin anderdag versigtig vir my kom sê: “Mammma, moet
nou nie kwaai wees nie, maar ek het bo in die kamer ’n towermengsel van
tamatie-en-mosterdsous gemaak. Dit was so toweragtig, dit het heeltemal
verdwyn!” Hy kon nie onthou waar hy dit aangemaak het nie. Ek het gelag:
“Moenie worry nie, ek is seker die wonderlike towerreuk sal ons soontoe lei.”
Hoe kan ek kwaad wees wanneer die waarheid so sjarmant vertel word?
Toe verduidelik ek dat almal foute maak, maar dis baie belangrik om
verantwoordelikheid daarvoor te aanvaar, soos hy gedoen het.
Soms, as ek hartseer voel, is dit die klein dingetjies wat my aan die gang
125
hou. Soos om die ritme van die kinders se daaglikse roetine te behou. Elke ma
weet, al voel jou hart soos die teiken van ’n skyfskietwedstryd, is daar steeds
dinge wat gedoen moet word. Jy moet onthou om die swemklere in te pak vir
skool en wanneer watter maatjies kom speel. Dit help jou om deur elke dag te
kom.
Die eerste stap na heelword, is aanvaarding. En hierdie aanvaarding kan
tot nuwe geleenthede en groei lei. Om daarteen te baklei, en jouself en die
kinders te bejammer, sal slegs die vrees en hartseer langer uitrek. Wanneer
dinge nie volgens plan verloop nie, is die geheim om jouself af te vra: Het my
lewe steeds betekenis, selfs noudat my doelwit weggeneem is? En daarin lê
die magic! Betekenis is net agter die volgende deur. Die krag en liefde van mawees kan nooit van jou weggeneem word nie.
My kinders moet sien: ’n Gehaltelewe gaan nie net oor perfeksie, maar
eerder hoe jy die lewe se uitdagings en oorwinnings hanteer.
Soms is dit nog seer omdat ons nie ’n “normale” gesin is wat “normale”
dinge saamdoen nie. Maar, dis net my ego wat kerm. Wanneer ek na die groter
prentjie kyk, besef ek niks is gesteel nie.
Aan die einde van elke jaar is daar ’n gradeplegtigheid by Seb se skool. Ek
en sy pa was daar, soos altyd, en ek wou bars van trots. Ons het ons hande op
presies dieselfde tyd opgetel, geglimlag en gewaai toe hy so volwasse met sy
skoolbaadjie oor die verhoog loop.
Agterna het hy na ons toe gehardloop, met ’n groot glimlag op sy gesig,
en sy arms gelyk om ons albei gegooi. Ons het dieselfde gedoen en dit was
hierdie een ongelooflike druk. ’n Pakkie vol magic ... ek het gevoel asof God
direk vir ons glimlag. Vir ons klein trio van seun en mede-ouers. Seb, weet ek,
voel die liefde. Niks sal dit verander nie en op die ou einde is dit waaroor alles
gaan.
126
Nianell
Daar is baie paadjies na jou eindbestemming.
As een doodloop, vat ’n ander
een! Jy kan beplan tot op ’n punt.
Daarna moet jy laat los en laat God!
127
Liewe jy...
Die lewe is ’n geskenk – koester dit
Die lewe is ’n geskenk. Die blote feit dat jy leef, behoort genoeg te wees om
jou elke dag te inspireer en te motiveer om elke oomblik te geniet. Die lewe is
goud, die lewe is genoeg. Niks anders is nodig nie.
Ons fokus te veel op vrae soos: Is ek ’n suksesvolle ma? Vrou? Sakevrou?
Vriendin? Of wat ook al. Daardie dinge maak jou nie vol nie, dit tap jou leeg.
Wat jou vervul, is ’n liefde vir jouself, jou medemens, die natuur en alles
daarin, God.
Daar word nie van ons verwag om supervroue te wees nie. Vroue eis
dit partykeer van hulself en dink dit is die wêreld se verwagting. Solank jy
jouself meet aan wat ander van jou verwag, gaan jy altyd onvervuld en soos ’n
mislukking voel.
Die geheim is om eerder te fokus op dít wat jy suksesvol doen en dít wat
jou diep gelukkig maak. Soos “wanneer die girls vir my sing” – my drie
skattebolle wat nog nie eens al die woorde van ’n liedjie kan uitspreek nie!
Sukses is in elk geval so ’n relatiewe begrip. Toe ek 28 was, het ek net
eendag besef hoe gelukkig ek is om te kan doen waarvoor ek lief is. Ek het ’n
wonderlike man in my lewe, familie, vriende, gesondheid, liefde en ’n lewe
vol geleenthede voor my. Ek is rééds suksesvol. En eers wanneer jy suksesvol
vóél, sal jy suksesvol wees.
128
Die jare het my ook geduld geleer. Veral omdat my eerste album so ’n
lang pad moes kom. Dit was op 30 en een van die hoogste berge wat ek ooit
moes klim. Ek verstaan nou, alles gebeur op die regte tyd. Tyd is ons vriend
in soveel opsigte. Maar wanneer ons daarteen baklei, maak ons die lewe vir
onsself soveel moeiliker.
Mense vra: Hoe hou jy al die balle in die lug met ’n veeleisende loopbaan,
’n staatmakerman en ’n drie-dubbele dosis dogtertjies? Vir my is daar ’n
paar sleutelwoorde wat baie deure oopsluit: balans, liefde, fokus, vergifnis,
aanvaarding, beplanning, ek-tyd.
Sorg eerstens vir balans in jou lewe. Op die ou end is die vraag: Lewe jy
of oorleef jy? As jy werklik lewe, is jy gelukkig en vervuld. As jy voortjaag en
bloot oorleef, loop jy die gevaar om jouself uit te brand.
Leer om te fokus op dié dinge waarvoor jy lief is en ’n passie het. Dít
waarop jy fokus, sal groei. Maar wanneer jou fokus verdeeld is, gaan iéts
iewers daaronder ly. Nie dat ek die dinge waarop ek fokus altyd alleen regkry
nie! As ek wél alles op my eie sou probeer doen, sal die pap kort-kort op
die grond val! Daarom moet jy kan delegeer en weet hóé – dis een van die
geheime vir sukses. En natuurlik deeglike voorbereiding. So kan jy soveel
moontlike onverwagte, en soms onaangename, verrassings uitskakel, wat
weer jou stresvlak verlaag. Mense wat suksesvol is, stap nie net blindelings ’n
onbekende situasie binne nie.
Natuurlik kry jy slegte dae ook. Al is jy op hóé ’n goeie plek in jou lewe.
Oortuig jouself dan dat jy partykeer af móét voel om weer die goeie dae te kan
waardeer. Elkeen is geregtig op sulke grou oomblikke. Doen dan iets spesiaals
vir iemand anders, lees ’n mooi boek, kyk ’n romantiese komedie of bederf
jouself met ’n lekker bord kos. Gaan stap ook gereeld in die natuur. Jy kan
enige probleem wégstap en nuwe energie en woema in jou lewe ínstap.
129
Moenie toelaat dat ander se emosies jou onderkry nie. Daar is soveel vroue
wat onder druk is, omdat hulle toelaat dat ander hulle onderdruk met eise of
negatiewe emosies. Jy sal foute maak – dis menslik. Maar vergewe jouself. En
moenie bang wees om te sê jy is jammer nie. Waarom jouself martel wanneer
jy skeeftrap?
As jy op 35 swanger raak, is jou loopbaan al lekker op dreef. Selfs ’n
drieling ruk nie die mat onder jou uit nie. My kinders het my ’n hupstoot
hemel toe gegee. Hulle het my kom leer hoe om my lewe en optredes meer te
geniet en nie net daarop te fokus om alles perfek te doen nie. Hulle inspireer
my kreatiwiteit, ook om myself lief te hê en net te wéés.
Tog is dit soms moeilik om mooi na jouself te kyk. Met ’n besige loopbaan
en ’n drieling bly daar maar min ek-tyd oor. Werk hard daaraan en maak regtig
tyd vir jouself. Doen jy dit nie, beteken dit jy het nie jouself lief nie. En jy
wil nie so ’n voorbeeld vir jou kinders stel nie. Rus genoeg en maak tyd vir
jouself. ’n Mens kry dit nie altyd reg nie, maar moet nooit ophou probeer nie!
As jy en jou man mekaar diep liefhet, werk julle saam deur dinge. Dis my
wenke vir stresvolle situasies: Werk deur julle probleme. Vra raad, vergewe
mekaar en sê dikwels jy is jammer. Só voel ek: “Ons werk en ons kinders is nie
‘ons’ nie. Daarom móét ons tyd maak vir mekaar. En slegs wanneer ons onsself
liefhet, kan ons mekaar liefhê.” Andrew is nog altyd my rots.
Vir my bly die hoogste vorm van geluk om saam met my man en kinders
iewers in die natuur te wees. As hulle geliefd voel en ek myself koester,
waardeer, respekteer en vertroetel, dán voel ek suksesvol.
En as dinge nie volgens plan verloop nie? Maak ’n ander plan. Daar is baie
paadjies na jou eindbestemming. As die een doodloop, vat eenvoudig ’n ander
een! Jy kan beplan en voorberei tot op ’n sekere punt. Daarna moet jy dit laat
los en laat God!
130
Patricia Lewis As hy my in die oggende sonder
grimering sien, met my hare wat
in alle rigtings staan, skrik hy so
’n bietjie, maar bly nog lief vir my!
131
Liewe jy...
Siekte laat jou dinge anders sien
My hele lewe lank het ek van dorp na dorp gereis en baie mense ontmoet,
maar kon nooit genoeg tyd saam met hulle deurbring om ware vriendskappe te
vestig nie. Nou is dit anders. Sowaar, ek is deesdae ’n huishen! Ek kloek om
Max, gedy op Mark se liefde en ... ons het ’n posbus! Kan jy glo?
Om my sangloopbaan eers op die ys te sit en te broei op die mense wat ek
liefhet, voel so reg. Alles om my is deesdae dinge soos see, sand en sandale.
Ek is so gelukkig. Al mis ek my sang baie, het ek ’n nuwe wêreld ontdek.
Om ná ’n loopbaan van 23 jaar sonder een enkele blaaskans in julle
vakansiehuis by die kus nes te skop is iets totaal anders. Geen shows, kuier en
braai saam met vriende. Dis ’n heel ander leefstyl. Ek gaan haal my kind en
ons doen saam huiswerk. Ek het wonderlike verhoudings en my kind gaan op
play dates.
Mense wonder soms hoekom ek besluit het om vir eers op te hou sing.
Maar dis juis oor die huislewe. Max was toe in graad 1 en ek wou sommer net
’n slag ma wees. Voltyds. Konvensionele soccer mom. Hy is my oogappel. Ja,
ek is een van daardie oorbeskermde ma’s wat die skoolbus in my kar agtervolg.
En ek is trots daarop! Ek gee nie om nie en ek sal alles doen om hom veilig te
hou.
Dink net, ek het self eers op die ouderdom van 29 uit my ouerhuis getrek.
132
Dit was so lekker en liefdevol daar dat ek nie wou weggaan nie. En die dag toe
ek dit wel doen, was dit twee kilometer daarvan af!
My huis is nou my paleis. En die prentjie is volmaak met my prins wat my
so bederf. Ek is getroud met die wonderlikste man. Sover dit geluk aangaan,
is ek vol vrede. Ek het iemand wat vir my lief is vir wie ek is. As hy my in die
oggende sonder grimering sien met my hare wat in alle rigtings staan, skrik hy
so ’n bietjie, maar hy bly nog lief vir my!
Die beste van als is my tee elke oggend in die bed. Dit beteken so baie om
in tye van krisis daar te wees vir mekaar. Onvoorwaardelik. Hy is so stabiel –
dit is net wat ek nodig het. Tipies vrou, kan ek ook maar die een dag op en
die volgende dag af wees ... Dis ons leuse: “Couples who play together, stay
together.”
Die gewasse op my tiroïed ... dit was ’n groot skok. Dalk sou ek nooit weer
kon sing nie. Daar was soveel onsekerheid. My hele lewe lank kon ek enigiets
eet. Op my veertigste verjaarsdag het ek 51 kilogram geweeg. Aan die einde
van daardie jaar waarin die skokdiagnose gemaak is, het ek die skaal op 60
kilogram getrek!
Ek kon dit nie verstaan nie. Seker maar die nesskoppery in die
vakansiehuis, het ek gedink. ’n Mens ontspan mos meer, eet ’n bietjie meer,
oefen minder, leef nie so gejaag en altyd aan die hardloop nie. Moet die
leefstyl wees ...
Maar toe moes ek hoor ek kan dalk tiroïedkanker hê. My eerste gedagte
was aan my kind. Wat sou van hom word? En sê nou ek sou ’n las op iemand
se skouers word? Gelukkig was die gewasse niekwaadaardig. Ek het besluit
om dit nie te laat uitsny nie. Die gevaar was net te groot. Die moontlikheid was
daar dat ek nie net my sang sou moes prysgee nie, maar ook my spraak.
En ek is ’n vrou en ek hou van praat. Wie kan nou so ’n kans waag? Praat
133
van moeilikheid soek! Dit sou my lewe opgemors het. Op die ou end het ek
eerder net my leefstyl verander. Enige groot siekte leer jou om doodgewone
dinge te waardeer.
Een van die hartseer realiteite van my siekte was die nuus: Max sal nou
altyd ’n enigste kind bly. Toe Max so vier jaar oud was, het ek begin beplan
vir nommer twee. Maar juis toe het dinge met my gesondheid begin skeefloop.
Hoewel ek nog swanger sou kon raak, het die dokters my afgeraai.
’n Onderaktiewe tiroïed stel nie genoeg kalsium en hormone vry vir ’n
gesonde swangerskap nie. My hart was gebreek ...
Maar ek dank die Here dat Hy vir my ’n gesonde, pragtige, saggeaarde
kind gegee het. Hy is ’n droomkind. Ek is meer geseënd as waarvoor ek ooit
kon wens en so dankbaar. Maar ook hartseer omdat Max so graag ’n boetie of
’n sussie wou hê.
Gebed is een ding wat my deur alles dra. Ek bid elke vyftien minute
vir God se beskerming oor my mense. As jy ’n kind het, is jy soveel meer
spiritueel, want jy sien elke dag hierdie wonderwerk voor jou. Wie is ek om
raad te gee? Ek dink ’n mens moet maar net altyd die silwer randjie om elke
donker wolk probeer raaksien.
Ons almal ervaar goeie en slegte tye, maar solank ’n mens ander mense
behandel soos jy self behandel wil word, sal jy oukei wees. En hou altyd ’n
hoekie van jou hart oop vir ons minderbevoorregte gemeenskappe. “To have
celebrity and not use it for the betterment of others, is a sin ...”
134
Sandi Schultz
Is jy ’n survivor van verkragting?
Wees daar vir die volgende
vrou. Staan op en sê: Jy kan
dit oorleef, jy gaan oukei wees.
135
Liewe jy...
Vergewe – dit maak jou vry
Oorlewing, soos op die TV-werklikheidsreeks Survivor is een ding. Maar
deurlewing van ’n lewenskrisis is ’n gans ander storie. Die een is ’n taai
speletjie, die ander ’n keuse tussen lê of staan.
As jy as kind twaalf jaar lank deur jou stiefpa gemolesteer is, weet jy van
ware oorlewing. En om die doelbewuste keuse te maak tussen slagoffer en
survivor wees. Oor daardie donker binnekringgeheim praat geen familie uit
nie – veral nie die slagoffer nie. Want dis mos háár skuld.
Kan ’n mens ooit so iets verwerk? Ja! Maar dis ’n bitter lang pad. Soos
met baie dinge in die lewe, is die einde eintlik net die begin. Toe my stiefpa se
donker speletjies end kry, het woede my oorval, en dit was ook my redding.
Maar later het hierdie brug in die pad van my genesing begin staan. Tog het
ek op ’n manier deur my emosies gewerk en geglo ek het misbruik oorleef. Ek
kon lééf – nou wel nie heeltemal vry en volkome nie!
Maar toe, op 28 jaar, word ek verkrag en begin opnuut na binne bloei. Die
man was die berugte Yeoville-verkragter, wat Magenta in The Rocky Horror
Show gespeel het. My hele lewe het gestol. Alles wat verby en verwerk was, is
weer na die oppervlak gedwing.
Ek het my voordeur gesluit en weggestap van my loopbaan, my vriende,
alles. Los Angeles toe. Ek het gedigte geskryf, geskets. Selfondersoek, die
136
oopkrap van al die ou wonde en kuns as uitlaatklep was my eerste babatree.
Die laaste, moeilikste tree is altyd vergifnis.
Dis natuurlik nie so maklik om tot op daardie punt te kom nie. Ek is ses
maande ná die verkragting Amerika toe en het twaalf jaar daar gebly. Ek het
toe nooit kon droom ek sou weer na Suid-Afrika terugkom nie – juis oor wat
met my gebeur het. Die eerste paar jaar oorsee was emosionele oorlewing. Ek
was vasbeslote om nie ’n slagoffer te wees nie, maar moes hard daaraan werk.
Uiteindelik het ek besef dat ek al die jare in Amerika aan’t weghardloop
was. Dit was tyd om te stop, al my spoke en vrese in die gesig te staar. Deel
daarvan was om daaroor te praat, oop kaarte te speel en van nut te wees vir
ander vroue. Om vir hulle te sê jy is nie alleen nie, dis nie jou skuld nie, dit kan
met enigiemand gebeur.
Ek het wel daar in ’n paar TV-programme gespeel, maar was steeds
verskriklik verveeld. Om emosioneel by my gesonde verstand te bly het ek
bokslesse begin neem en gym toe gegaan, juwele gemaak, liedjies geskryf,
kitaar gespeel, geskilder, geskryf en klere gemaak. Veral die skrywery en
skilder het my gehelp om die molestering en verkragting te verwerk. Dit is ook
hoe ek begin hoelahoep en met vuur begin speel het.
Hoelahoep is so genesend, juis omdat jy die deel van jou lyf gebruik wat
jy afgeskakel het. Jy speel eintlik. Dis veilig, iets wat jy as kind gedoen het.
Hierdie deel van jou lyf word ’n bron van plesier.
Terug in Johannesburg, nogal op die dag van my verkragting, het ek na
my ou huis gegaan. Ek het gehoelahoep op die plek waar ek verkrag is. Al die
negatiewe energie het uit my gevloei. Ek kon uiteindelik die bagasie neerlê en
ophou hardloop.
Vuurdans, die manipulasie van brandende objekte, het ek vir die eerste keer
by ’n partytjie en later by Burning Man, ’n jaarlikse hoogtepunt in Amerika,
137
gesien. Die mense wat daar optree, leef hulle lewe met soveel vreugde, vryheid
en kreatiwiteit. Burning Man was ’n oomblik van waarheid vir my. Dit het my
gewys ek is ’n kreatiewe wilde vrou wat saam met die wolwe wil hardloop.
Ek is een van daardie mense wat alles wil probeer, en ek wou leer
vuurdans. Daarna het ek rêrig begin genees. Hulle sê vuur cures. Dit cures soos
in genees, maar ook dat dit verhard en temper. Dit maak jou meer resilient –
sodat jy ná ’n hou kan terugbons en aangaan.
Die enigste manier waarop ek ’n positief uit hierdie negatief kon maak,
was om my ervaring te deel. Ek moet opstaan en vir ander mense wys jy kan
anderkant uitkom.
As daar ’n kind is, iemand êrens wat misbruik word, wil ek net sê: Dis nie
jou skuld nie. Maak nie saak wát nie, dis nié jou skuld nie. Vertel iemand wat
jy vertrou, verbreek die stilte. Ek het geglo dis my skuld; as ek iemand gaan
vertel, gaan hulle sê dis ek.
Is jy ’n survivor van seksuele misbruik en verkragting? Dan kan jy daar
wees vir die volgende vrou. Staan op en sê: Jy kan dit oorleef, jy gaan oukei
wees. Dalk nie vandag nie, maar jy gaan oukei wees.
Dis amper nie meer my storie nie. Een ding kan ek vir ander vroue sê wat
deur iets soortgelyks was: Jy gaan op ’n punt kom waar dit jou ook nie meer
sal definieer nie. Jy gaan daardeur kom.
My rou woorde ’n paar jaar terug op my blog gil dit uit: “My stepfather rot
in hell; the Yeoville rapist rot in jail!” Maar ek het hulle vergewe – dit weet ek
nou. My haat het niks verander nie, my eerder aan hulle gebind.
Elke dag kom daar situasies oor jou pad. Jy moet besluit hoe jy dit gaan
hanteer. In plaas daarvan om die lewe se lesse soos bakstene op mekaar
te stapel en jouself heeltemal in ’n boks toe te bou, help dit om eerder net
daardeur te vloei. Dít is hoe jy oorleef.
138
Sarah-Kate Scott
Aardse goed maak absoluut níks saak
nie. Fokus eerder op dinge wat geld
nie kan koop nie, soos ondersteuning,
dankbaarheid, liefde, ’n drukkie, ’n glimlag.
139
Liewe jy...
Geloof dra jou deur swaar tye
Om ’n jaar lank ’n hospitaalma te wees wat elke dag teen vaalblou mure moet
vaskyk en na die biep van masjiene luister terwyl jou seuntjie teen kanker
veg, is ondraaglik. Net geloof dra jou deur so ’n tyd waarin jou gesin byna
verpletter word.
Kort voor Mark se eerste verjaarsdag vra ek mooi vir nog ’n kind. Dis die
regte tyd vir ’n boetie of sussie, so voel ek. Maar kort daarna stel ons vas hy
het kanker, en tóé bid ek presies die teenoorgestelde: “Asseblief, Here, nie nóú
nog ’n baba nie. Ek sien nie kans vir ’n swangerskap nie!”
Skielik begin my hele lewe om Mark draai. Hy móét gesond word. ’n
Jaar lank maak niks en niemand anders saak nie. Letterlik. Al bisarre manier
waarop ek kan cope, is om myself heeltemal af te skeep. Dra geen grimering
nie; was vir weke nie my hare nie; loop in vaal, mismatched sweetpakke rond.
Wie wil nou in elk geval optof as jou kind heeldag oor jou opgooi?
So probeer ek kompenseer vir sy toestand. Aandag aan myself sal beteken
ek is nie 100% toegewyd aan my kind nie. Hoe slegter ek lyk, hoe beter kan ek
na my seuntjie omsien.
Dis hoe dit was. Dit maak nie nou sin nie, ek weet. As ek nou terugkyk, sou
ek beswaarlik enigiets méér, of anders kon gedoen het. Ek het my beste gegee
in ’n verskriklike tyd.
140
Wat is in elk geval die “regte” manier van optree as jy jou baba een aand in
die bed sit, oor sy lyfie streel, en ’n knop in sy maag voel? Daardie aand se TVepisode van Grey’s Anatomy het skielik baie na aan die werklikheid gevoel.
In die dae, weke en maande daarna het ons gesin die hoofkarakters in ons
eie hospitaaldrama geword. Dit het gevoel of ek in ’n bokskryt instap waar die
houe links en regs uitgedeel word. Ek het die Here hoeveel aande gesméék om
asseblief Mark se kanker vir my te gee. Ek is groot. Ek kan dit vat. Hy is klein.
Hy verstaan nie.
In sy oë kon ek sien hoe hy na antwoorde soek. Tog, sy jong ouderdom was
’n bedekte seën. Omdat hy nie verstaan het nie, het hy hom ook nie teëgesit
nie. Die hospitaal was maar net nog ’n plek waarheen Mamma en Pappa hom
gevat het. Hy was so ’n klein vegtertjie. Hoe siek hy ook al gevoel het, hy
het maar net weer gaan sit en met sy speelgoed gespeel. Sy essensie was om
doodeenvoudig gelukkig te wees. Hy was my inspirasie!
In so ’n wrede tyd help dit om jou seëninge te tel. Daar is altyd iets om
voor dankbaar te wees. Daar was ’n tyd toe hy te swak en pap was om rond
te beweeg. Dit was te gevaarlik om hom op vuil vloere te laat kruip, omdat
sy immuniteit weens die chemoterapie so laag was. Ons moes sy handjies
obsessief was. Vreemdes wat wou groet, kon nie aan hom raak nie.
Dankie tog, daardie tye is verby. Wat ’n seën om net normaal te kan
funksioneer! Vandag is hy ’n woelige kleuter wat die wêreld vol kruip. Hy is
ondeund en gooi tantrums. Maar ’n honderd maal eerder dít as ’n siek kind wat
vir drie dae nie wil eet nie. Elke happie kos was ’n triomf. Vra hy nou iets om
te eet, spring ek op, hol kombuis toe en juig! “Sê net wat jy wil eet, my seun.
Mamma maak dit vir jou!”
Niks bou karakter soos swaar tye nie. Ek het geleer dat aardse goed
absoluut níks saak maak nie. Fokus eerder op dinge wat geld nie kan koop
141
nie, soos ondersteuning, dankbaarheid, liefde, ’n drukkie, ’n glimlag. Dis
eenvoudig, maar beteken oneindig baie.
Dankie tog ek is nie meer die mens wat ek voorheen was nie. Ek het agtien
jaar lank modelwerk gedoen. Alles het net gegaan oor hoe ek lyk, wat ek dra,
hoeveel ek weeg en watter kontrakte ek losslaan. So selfsugtig en narsisties.
Toe Mark so siek was dat hy nie kon eet nie, het die ironie van alles my
getref. As model het ek jare lank kilojoules getel. Nou moes ek toekyk hoe my
kind nie kon eet nie. Vir jare was ek begaan oor klere, hare en naels. Nou kon
ek nie dink hoe ’n mens één oomblik aan sulke onbenullighede kan afstaan nie.
Die lewe is ’n geskenk, en jy kan kies hoe om dit te leef.
Ek is nou reg vir ’n nuwe hoofstuk in my lewe. So dikwels dink ons ons
weet die beste, maar God weet regtig beter. Sy tydsberekening is absoluut
perfek; en so was dit ook met die nuus dat ek weer swanger is.
Toe Darren die nuus hoor dat hy weer pa gaan word, was hy eufories.
Ons het op en af gespring en gegil van blydskap. Mark het sy lawwe ouers
oopmond aangegaap. Maar ons kon nie anders nie ... God het presies geweet
watter tyd is reg om weer ’n kleinding in ons lewe te bring.
Ek het nou ’n baie beter begrip van wie Hy is, sy ongelooflike liefde en
groot genade. Ek rus in hierdie wete as ek aan my tweede woelwater en ons
gesin dink. God is in beheer, en ons is veilig in sy hande. En klein Matthew,
Mark se boetie, is die beste bewys daarvan!
142
Sorina Erasmus
Wees eerlik en pretensieloos,
net jouself. As jy dit word wat
God wil hê jy moet wees,
sal jy geluk en vrede vind.
143
Liewe jy...
Bly positief, al gly jy afdraand
Party mense is van nature meer positief as ander. Soos die gesegde sê: “Two
prisoners look through bars; one sees the mud, the other one the stars.”
Dit som die belangrikheid van perspektief op. Dieselfde son kom oor ons
almal op. Ons beleef dieselfde dag. Elkeen ervaar dieselfde knop in die keel,
maar jy kan kies om deur genade daardie switch te maak na die positiewe.
Dalk is ek gelukkig genoeg om dit in my DNS te hê – die vermoë om die
lig te sien ... Wel, as dit so is, is ek geseën en kan net elke aand my sterre dank.
Wat meer is, ek kan daardie gawe met ander, wat in ’n bootjie vol gate op ’n
stormsee probeer oorleef, deel. Ag, sommer die hele land, oud en jonk, met jou
kwinkslae laat skater en van hulle probleme vergeet.
Hoekom klein dink as jy kan groot doen?
Mense wonder altyd, wat maak komediante gelukkig? En hoe kry grapjasse
dit reg om ander te laat lag as dit sleg gaan en hulle saggies huil?
Weet jy, daar is altyd ’n groter prentjie as jou eie seer. Wanneer ek op die
verhoog gaan, is die gehoor belangriker as wat ek ook al op daardie oomblik
voel of moet verwerk. Die kollig val eintlik op hulle – nie op my nie.
Nee, dit is nie altyd maklik nie. Soos elke ander mens op aarde word swaar
tye my nie gespaar nie. Dit was moeilik om op die verhoog te gaan toe ek ’n
hele paar mense in ’n kort tyd aan kanker moes afstaan. Party se lyding was
144
lank, ander s’n onverwags. Maar ek moes maar net die knop in my keel afsluk.
Besluit doelbewus, deur jou hele lewe, om jouself met positiwiteit te
omring. Sien die humor in elke situasie raak – selfs daardie droewige dae
wat jy op ’n ashoop sit. Lag maak mense se stukkende harte gesond. Wat ’n
lekkerte om lucky packets aan ander te kan uitdeel!
Wees eerlik en pretensieloos, net jouself. As jy dit word wat God wil hê jy
moet wees, sal jy geluk en vrede vind.
Iets wat vir my belangrik is, is selfsorg. Kyk mooi na jouself. Jy het net een
jy. Hoe jy jouself oppas, het ’n direkte invloed op jou innerlike welstand.
Daar is hierdie fantastiese liefdadigheidsprojek met die leuse: “Help ’n
gemeenskap om hulself te help.” Hulle neem byvoorbeeld behoeftige vroue om
hulle hare te laat stileer, want hulle weet dít is waar alles begin. Die vrou is die
middelpunt van die gesin en as sy goed voel oor haarself, sal dit nie net haar
selfbeeld en balans beïnvloed nie, maar ook haar man, kinders en werk.
Gesondheid is net genade. Almal het van kleintyd af met elke verjaarsdag
vir my gesondheid toegewens … wel, dit moes seker gehelp het! Daar is geen
groter geskenk wat iemand jou kan gee nie.
Ekstra vitamiene en genoeg slaap is al klaar ’n goeie begin. Vir oefening
help dit beslis om ’n woelige loopbaan te hê!
’n Komediant as alter ego is ook ’n gesondheidsbestanddeel. Nogal ’n
bonus, nè! Sulke werk gaan nie oor selfverheerliking nie. Maar dit hoef nie
jou werk te wees nie, almal kan dit doen. Om iemand se dag te maak is so
maklik en dit neem niks van jou af weg nie. Om mekaar goed te laat voel is
waarskynlik die medium wat die mensdom die heel meeste onderskat.
Ek kan die alter ego van ’n oppervlakkige flossie gebruik om mense op ’n
veel dieper vlak te bereik as wat ek ooit sou droom. En wat kos dit nou om ’n
grootoog dogtertjie in ’n winkelsentrum te groet met: “Hoezit tjomma?” Rou
145
eerlikheid trek mense na jou toe aan. Hulle voel aan as iemand aangeplak is.
As jy eers ’n tyd lank werkloos was, weet jy hoe voel armoede en
hopeloosheid. Dit hou my beslis nederig, met my voete op die grond en ’n
sagte plekkie vir daardie afvlerkvoëls van die samelewing, veral oumense.
Destyds het ek met so ’n lelike oranje hemp aan, vroegoggend saam met ’n
vriendin vir die een of ander exhaust-maatskappy strooibiljette gaan uitdeel ...
Wel, dis nou nie eintlik almal se idee van ’n loopbaan nie. Maar miskien is dít
waar so ’n flossie-rol wat oud en jonk laat krul van die lag eintlik begin ...
Ek het vir amper drie jaar lank nie werk gehad nie – dis geen grap nie. Dit
het my verander van hero na zero. Maar ná baie vrae het ek antwoorde gekry
op al die waaroms waarmee ek geworstel: “Ek wil hê jy moet weet hoe dit voel
om niks en niemand te wees nie sodat jy nooit jou flyer-jare sal vergeet nie ...”
En ’n mens vergeet dit ook nooit nie. Wanneer jy die soet smaak van sukses
proe, kan jy die ondervinding van daardie “droë jare” gebruik om met jou
bewonderaars te gesels. Ek ken swaarkry, ek het dit tandeknersend gekou en
wurg-wurg afgesluk. En daardeur kan ek soveel meer mense bereik.
Neem hierdie woorde uit my hart saam. Dis hoe ek dit aan my lyf ervaar
het: As die wêreld teen my draai, bly Jy getrou. En as ek dalk van als vergeet,
sal Jy onthou. As almal my verlaat het, sal Jy steeds bly klou. En as Jy nog nie
weet nie – ek lewe vir Jou ...
146
Susan Coetzer
Jy kán uitstyg bo jou grys
gister en aanbeweeg na
iets beters. Dis nooit te laat
om nuut te begin nie.
147
Liewe jy...
Jy KÁN ... weer opstaan
Jy KÁN! Jy is g’n loser nie! Laat ek jou sê, jy is baie sterker en slimmer as wat
jy dink. Jy kan baie dinge doen – jou verlede oorkom én ’n slegte wegspring
uit die blokke van jou ouerhuis oorwin.
Ja, jy kán (weer) opstaan ná (elke) nederlaag! Jy kán jou mislukte
huwelik(e) verwerk en heel anderkant uitkom. Jy kán ná verlies, ontnugtering
en trauma weer gesond word ... Jy kán uitstyg bo jou grys gister en aanbeweeg
na iets beters. Dis nooit te laat om nuut te begin nie.
Hóé? Vertrou Hom blindelings in jou krisistyd. Just hang in there! Werk
saam met Hom deur die pyn en rommel op jou skinkbord. Drink die beker wat
allermins soos bruisende Fanta smaak. Moenie dit vir iemand anders aanstuur
nie. Hou op skuld verplaas of verskonings maak. Face jou seer en skadukant.
Werk aan jou eie hart se bagasie en harde glaspunte – nie aan ander s’n nie.
Hóé? Kan nie bid nie? Asem Hom eers net ín jou situasie in. Genoeg stil
tyd saam met Hom sal jou krag gee om op te staan. Moenie Hom uitskop uit
jou hart wanneer mense jou ontnugter nie. God is GOD. En Hy is GOED. Glo
dit. Praat met Hom sonder doekies omdraai en noodleuentjies. Wys al daai
donker hoekies, gedagtes en woorde wat jy so wegsteek. Kry ook sommer jou
tissue-boks uit en huil snot en trane by Hom ... soveel jy moet, solank soos dit
vat.
148
En terwyl jy so bloedsweet wroeg, GLO dat Hy by jou is. Jy is mos g’n
weeskind nie, maar ’n oogappel. Die Heilige Gees is so naby soos jou tong.
Praat met Hom. Elkeen wat uitroep, kry hulp!
Sê ook dankie in hierdie seisoen van winter. Tel elke dag jou vars manna op
en bederf jouself daarmee. Elke dag het ’n klein blessing ... Kos om te eet, ’n
dak oor jou kop, klere aan jou lyf. Jy kan sien en hoor en loop. Kyk heeltyd na
Hom – net om deur vandag te kom. Moenie fast forward na môre nie.
En los tog die aanhoudende terugloer na gister. Moenie daardie ou
dooie vrot koeie uit die sloot bly opgrawe nie. Dis ágter jou. Maak jou
veiligheidsgordel stewig aan Hom vas en gly vorentoe op die 4x4-reis van die
lewe. Een bumpy dag op ’n slag. Die nuwe groen velde lê anderkant die berge.
In sy ideale Tyd sal jy ’n nuwe hoofstuk present kry. Maak jou hart oop vir die
klein groen blaartjie van nuwe hoop in die duif se bek.
En op die roete na heelwording (hopelik ook met ’n betroubare terapeut),
moet tog nie té hard op jouself wees nie. Sy genade is genoeg vir jou (en vir
ander). Dit is nooit, ooit neusie verby met jou nie, al voel dit ook so as jy
jou aan die wêreld se “standaarde vir sukses” meet. Daar wag ’n versteekte
blessing op die moeilike pad na herstel. Soos poeding ná spinasie. Of speel ná
huiswerk doen, lente ná winter ... sonlig ná die donkermaan.
Toe ek my ma verloor en my huweliksbootjie stormsee tref die volgende
jaar, nog voor ek behoorlik kon herstel van die rouproses, het ek, in ’n donker
lewensbedreigende maalkolk beland. Uitgebrand, ontwortel en van spoor af.
My romantiese prentjie op die tjoklitboks was stukkend geskeur. Maar
uiteindelik het ek my fraai prentjie laat gaan en Hom vertrou met sy Groter
Prent. Ek het uit my sinkende emosionele boot gebeur en wankelrig op die
water begin loop. In bewerige geloof dat Hy wel iets goeds uit die rommel
sal skep – al kon ek dit nie toe raaksien nie.
149
Geestelike herstel is pynlik, maar daar ís ’n positiewe kant. Volg Hom net
tree vir tree in die donker – Hy weet beter as jy. Daar word nie verniet gesê
nie: No pain, no gain.
Ek het ’n nuwe ABC van die lewe geleer ... goddelike grense begin stel,
selfliefde toegepas voor naasteliefde. Ek het in Hom gerus, vol geword en leer
onderskei: watter invloede is opbouend, watter moet ek stuit, nes die booms
by sekuriteitskomplekse. Hy het my uitgedaag om die high road te kies en ek
moes keer op keer my onstuimige emosionele woorde terugsluk en my mond
toezip.
Die pad na heelwording en vergifnis van myself (én ander) het nuwe
deure in my hart oopgemaak. Geleidelik het ek in hierdie stil selfondersoek
die vrolike, lewenslustige, uitbundige, kreatiewe stukkies in die legkaart van
myself herontdek. Ek het ook ’n nuwe sagter, genadiger lammetjiehart van die
Genadige Een gekry.
Wat meer kan ek sê? Liewe jy, jy is oor die hond se stert! (Groot sug.)
Baie geluk! Jy het by iets veel groter en blywend uitgekom as jou “ideale”
storieboekprentjie met die funksionele ouerhuis, Mister Right-man, soet
kinders en pedigree-honde wat jy so van kleintyd begeer het.
Jy het jou lewe met al die seerplekke, mislukking, waan en vrae sonder
antwoorde vir Hom gegee en by iets WOW uitgekom! Sy blywende vrede ...
dis nou jou nuwe blyplek, vir altyd.
Ek weet sy ewige white picket fence is elke dag om my, ook op dae wat
als hier skeefloop en ek (weer) op die ashoop wil-wil gaan sit. ’n Real mens
omhels al die seisoene van die lewe as presente. Hoe anders kan jy goddelike
karakter as Ligdraer bou? En nou wil ek my eie hart oppas en dit skoonhou.
Daar is ’n versteekte blessing in elke traan en elke uitdaging op my
kleurvolle 4x4-roete. Daarom sal ek aanhou sê: My erfenis is vir my mooi!
150
Tammy-Anne Fortuin
Ek het lank geworstel met “Wat
as ek nie slaag nie?” en “Ek sal
dit nooit kan doen nie.” Maar
dis uitputtend en bring jou nêrens.
151
Liewe jy...
Hoe meer jy doen, hoe meer kán jy
Die lewe is nie ’n kleedrepetisie nie. Jy kry net een kans – so gryp dit aan. Dis
hoe ek leef. Oor die toekoms bekommer ek my nie te veel nie. Ek lewe eerder
van dag tot dag as om groot planne te beraam. Ek wil groei in my beroep. Dalk
’n boek skryf. En eendag iemand ontmoet wat nie sal omgee dat sy vrou ’n
werkesel is nie.
Maar vir nou is dit lekker om myself in baie rigtings te ontwikkel. En veral
ook om iets terug te gee, ’n verskil in ander se lewe te maak. Veral kinders en
die omgewing lê my na aan die hart. Albei is eintlik so kwesbaar ...
Omdat ek my loopbaan geniet, voel dit nie soos harde werk nie. As model
kan ek die wêreld sien. Ek kry die geleentheid om met mense te werk, om
ander op soveel wonderlike maniere aan te raak. Ek was so gelukkig om my
passie te kon vind. Daarom kla ek nie oor lang ure nie. Modelwerk voel soms
soos ’n vakansie omdat jy gewoonlik ’n dag of wat op ’n vreemde plek af kry.
Maar my idee van ’n ideale vakansie is iewers op ’n eiland – sonder my laptop,
selfoon en grimering!
Hierdie hele celeb-ding is nie vir my nie. Dis vir my belangriker om mense
gelukkig te maak. Ek hou daarvan om te gee en mense te laat lag. Tog, van
kleins af het ek die kollig geniet. Maar ek moes ook leer aanvaar dat die pretty
girl soveel meer moet insit en harder werk om respek af te dwing. Selfvertroue
152
bly maar iets waaraan ’n mens elke dag moet werk.
Daar is soveel dinge om te doen – en ’n dag is net so lank. Ek het geleer
om te bly fokus. Maar ek het ook geleer om nee te sê, juis daarom is ek nie
bang die poot kook oor nie. En soms moet jy ’n kans waag, anders laat jy
wonderlike ervarings verlore gaan. Ek het lank geworstel met “Wat as ek nie
slaag nie?” en “Ek sal dit nooit kan doen nie.” Maar dis uitputtend en bring jou
nêrens. Jy mors net kosbare tyd en raak te behep met jouself. As jy mislukking
dink, gaan jy ook mislukking doen.
Ná tien jaar in die modebedryf is daar nie meer baie nuwe uitdagings oor
nie. Televisie is en was nog altyd my eerste liefde. Daar is baie wat ek nog wil
bereik, soos om goed te kan skryf, dalk in die sielkunde te gaan studeer. Dis
fassinerend hoe mense se koppe werk. Teaterwerk is nog ’n uitdaging ... ek wil
net nooit ophou droom nie.
Toneelspel is iets wat my al meer interesseer. Behalwe die feit dat dit my
help ontspan, help dit my ook voor en agter die kamera – hoe om ’n karakter
te ontgin en jouself te laat gaan. Die eerste keer dat ek myself op skerm gesien
het nadat ons ’n toneel gerepeteer en toe gedoen het, kon ek nie glo dis ek nie.
Ek het myself al baie op televisie gesien, maar dis ’n heel ander dinamika.
As aanbieder is ek myself en praat Tammy-talk, maar as aktrise moet jy in ’n
vreemdeling se vel klim.
Om aandeelhouer van en vervaardiger by ’n filmmaatskappy te wees, is ’n
wonderlike uitdaging. Jy moet met goeie idees vorendag kom en dit laat wérk
op televisie. Dit behels dinge soos genre en styl, die begroting, die teikenmark,
goeie produksiewaarde en veral regie. Dit werk vir my om my eie geldsake
te hanteer, met die hulp van die mense wat ek vertrou. Daar is min dinge of
besluite wat geneem word vir en oor my waarby ek nie self betrokke is nie.
Daar is so baie om te leer, en die beste van alles is hoe die verskillende,
153
soms uiteenlopende fasette van my loopbaan tog inmekaarpas, soos die glad
geoliede ratte van ’n masjien.
Natuurlik, ’n mens wil ook gee – want jy ontvang so baie van die lewe.
Dink net aan al die wonderlike geleenthede en talente! Min dinge lê my so
na aan die hart as die welsynsorganisasies waarmee ek werk: MCSA, SOSChildren’s Villages en Missing Children South Africa. My betrokkenheid
daarby is soveel groter as ekself.
Kinders wil eintlik net erkenning hê, hulle is nie gepla met wie jy is nie. By
die Children’s Village is ’n seuntjie wat as baba op ’n miershoop gevind is. Die
miere het ’n gedeelte van sy gesig weggevreet. Vandag is hy gestrem. Tog is
hy die gelukkigste en vrolikste ou mensie. Dis so iemand wat ’n mens se lewe
onherroeplik verander.
Omgewingsake is een van my ander passies. ’n Mens raak ouer. Ons het
’n verantwoordelikheid teenoor ons kinders. Ons moet die aarde vir hulle
mooi oppas. Dis so belangrik om ’n groen gewete te hê. Mense dink dikwels
hulle kan nie ’n bydrae maak nie, maar dit begin by doodeenvoudige dade en
aanpassings. Klein dingetjies kan ’n oneindige groot effek hê. En dit “steek”
ander mense aan. Soos om ’n ambassadeur vir Earth Hour te wees. As jy
omgee, sal ander ook.
Ek stel myself oop vir al die uitdagings en kanse wat nog oor my pad gaan
kom. Maar vir nou gaan ek voluit vir dié waarmee ek geseën word. Daar is
seker heelwat meer hooi op my vurk as die meeste ander mense s’n. Maar dis
presies hoe ek daarvan hou. Hoe meer jy doen, hoe meer kan jy doen!
154
Vicky Davis
Ek mis verdraagsaamheid en die
meeste van alles mis
ek respek vir lewe tussen
medemense in ons land.
155
Liewe jy...
Maak die beste van wat jy het
As jy met katte kan praat, het jy eintlik ’n negende sintuig – én nege lewens.
Jy kan voluit gaan vir die lewe, maar weet ook waar en wanneer om katvoet
te loop! Dit kom nogal handig te pas, glo my. Veral wanneer jy al saam met ’n
leeu geslaap het en ... in Suid-Afrika bly.
Met so ’n passie vir die lewe verruil ek maklik my stiletto’s vir ’n paar
stapstewels. “So, as jy nege lewens het ... wat op aarde kan jy kort?” vra
mense wat so maklik dink dat ek alles het – die looks, die lyf, die talente en
die loopbaan. Hoewel ek beslis nie kan kla dat ek ’n vervelige lewe het nie, en
dankbaar is vir opwindende ervarings en dae propvol interessante en kleurvolle
karakters, is daar tóg dinge waarna ek soms hunker in tye van stilte ... of
sommer net pleinweg mis.
Eksotiese plekke waar ek nie die taal verstaan of weet wat ek eet nie ... Dit
maak iets in my oop. Tog moet daar ’n spesifieke eindpunt wees: Ek soek ’n
homecoming in die onbekende, ’n plek wat my genoeg vervul om weer met
moed te kan omdraai om huis toe te gaan.
Namibië en Thailand was so ’n uiteenlopende reiservaring ... Twee uiterstes
in klimaat en natuurskoon, die een ’n dorre woestyn en die ander ’n tropiese
paradys, elk met sy eie bekoring.
Okonongo in Namibië het ’n natuurlike warmwaterbron reg langs die
156
kampeerterrein. Daar is ’n ongerepte waterpoel met ’n waterval in die middel
van die dorre landskap en stof.
Ek en my kêrel het tussen waterskilpaaie en kingfishers geswem. In daardie
poel, kristalhelder en koel, het ek weer my kreatiwiteit herlaai – asof ek in my
eie onderbewussyn ingeswem en dit weer aangeskakel het.
In Thailand was daar ’n strandjie genaamd Leela Beach, waar ’n swaai van
toue en ’n verweerde karband aan ’n palmboom vasgemaak was. Met hooggety
het die swaai oor die golwe gehang, jy kon met jou voete in die see sit. Daar
het ek werklik ontspan. Weg van die bekommernis van Suid-Afrika en ons
ingekeerde lewens. En ek het besef watter traumabelaaide bestaan ons in
Suid-Afrika voer met al die politieke spanning en geweld.
Homecoming is vir my gekleur met nostalgie ... Ek mis die dae toe ek nie
my mede-Suid-Afrikaners gevrees het nie. Ek moes nie oor my skouer loer
wanneer ek by my veiligheidshek ingery of by ’n rooi verkeerslig gestop het
nie. Daardie dae toe ek geglo het die polisieman wat my aftrek, is opreg ... Toe
ek nie my handsak styf teen my lyf gedruk het as ek straataf stap nie. En toe ek
nie gewonder het of die man wat van voor af kom en te lank na my kyk, al ’n
vrou verkrag het nie.
Op reis in Singapoer, ’n baie veilige land, was die taxibestuurder baie
opgewonde om ’n Suid-Afrikaner te ontmoet. “Is dit waar dat julle twee hekke
buite julle huise het? Een voor julle deure en een om die huise?” wou hy weet.
“Ja, en daar is ook sekuriteitskomplekse, diefwering, elektriese omheining,
alarmstelsels, waghonde, sekuriteitskameras en sekuriteitswagte ...” Hy was
verstom.
“Glo jy in enige God?” was sy volgende vraag. “Ja ... hoekom?” wou ek
weet. “Want God moet genade hê met Suid-Afrika ... Julle gaan dit nodig hê.”
Dít is wat ’n mens so mis: genade. Ek mis verdraagsaamheid en die meeste
157
van alles respek vir lewe tussen medemense in ons land. Ons is besig om
onsself te moor van binne terwyl statistiek luidkeels skree. Ons is in ’n oorlog
gewikkel met onsself en dít in ’n tyd van vrede, maar ek mis dat ons as nasie
proaktief daarteen optree.
Soveel vriende, selfs familie, bly in ver lande. Hulle het geëmmigreer
saam met die res van die brain drain, óf hulle loopbane het ’n globale pad
geloop. As ek dink aan my vriendekring, dink ek aan die speletjie Pickup sticks ... so scattered is hulle regoor die planeet. Ek sê net dankie vir
Facebook!
Om eerlik te wees ... Ek mis soms vir Vicky! So lief soos ek vir die kollig
is, laat roem my soms verbouereerd. O, die dae toe niemand agtergekom het
ek kyk vir hulle nie! Toe ek ongesiens en ongemerk deur die samelewing
kon weef en mense kon bestudeer en dophou vanuit my eie klein bubble van
anonimiteit. As jy privaat en skaam is, nóg introvert, nóg ekstrovert, smag jy
soms na skares. Maar daar is ook dae wat jy verkies om in jouself te keer.
Ek het albei nodig. Dis die akteur en die skrywer binne-in my; die
deelnemer en die toeskouer – die een kan nie sonder die ander nie. Selfs as jy
aanbied, is jy ’n “skerper” weergawe van jouself en mense begryp dit nie altyd
nie. As ’n vreemdeling my in die winkel ontmoet en ’n karakter verwag, sal hy
teleurgesteld wees.
Maar dis hoe die lewe is ... Jy kan onverstoord met jou voete oor die see
swaai en droom oor die verte van jou Bolandplasie, maar tog ook wens dat jou
vriendinne sonder vrees ’n laatnag koppie moerkoffie of Kaapse rooiwyn op ’n
Gautengse voorstoep kan drink. Jy kan swem in geluk, jou lewe geniet en jou
seëninge tel, maar tog ook hunker na ’n Suid-Afrika wat kan stil word en leer
hoe om dankie te sê.
158